Jou slimfoon laat jou slegter fokus as ‘n goudvis…

Jou slimfoon laat jou slegter fokus as ‘n goudvis…

Wouwtjies is voorstaanders om tegnologie en slimfone in die seniorklasse te gebruik… maar oppas híérvoor…

 

Kyk ’n goudvis stip in die oë. Wie kyk eerste weg? Nee, nie die goudvis nie, want die mens kan nie meer aanspraak maak op ’n samehangende gedagtegang van 12 sekondes nie. En dis jou foon se skuld. Die gemiddelde aandagspan van die berugte swak-gefokusde goudvissie is nege sekondes, maar volgens ’n studie van Microsoft Corporation verloor die mens sy konsentrasie deesdae ná net agt sekondes, wat die gevolge van ’n al hoe groter gedigitaliseerde leefstyl op die brein uitlig.

 

Kanadese navorsers het 2 000 deelnemers ondersoek en die breinaktiwiteit van nog 112 bestudeer met elektro-ensefalogramme (EEG’s). Microsoft het bevind dat sedert 2000 of min of meer toe die slimfoonrevolusie begin het die gemiddelde aandagspan van 12 na agt sekondes gekrimp het. “Gereelde gebruikers van multiskerms vind dit moeilik om irrelevante stimulusse te ignoreer. Hul aandag word baie makliker afgetrek deur veelvoudige mediastrome,” luidens die verslag.

 

Aan die positiewe kant het die mens se vermoë om verskeie take tegelykertyd te verrig, drasties verbeter sedert die aanvang van die slimfoon-era. Microsoft se teorie is dat die verandering ’n gevolg is van die brein se vermoë om met verloop van tyd aan te pas en te verander, en dat ’n swakker aandagspan die newe-effek kan wees van die ontluikende mobiele internet.

Kanadese wat aan die studie deelgeneem het en ’n groter digitale leefstyl het, het gesukkel om te fokus in ’n omgewing wat voortgesette aandag vereis. Die studie het ook die verskille in die gebruik van slimfone deur die verskillende generasies bevestig. Op die vraag: “Wanneer niks my aandag aftrek nie, is die eerste ding wat ek doen om na my slimfoon te soek,” het 77% van die deelnemers tussen die ouderdom van 18 en 24 ja gesê, in teenstelling met slegs 10% in die ouderdomsgroep ouer as 65. Die skuld vir die vermindering van die mens se konsentrasievermoë kan dus gedeeltelik gepak word op die aanhoudende behoefte om na ons slimfone te kyk. Wat sal die beste teenvoeter wees? Jou kind moet soveel moontlik LEES! Wens jouself dus geluk dat jy lank genoeg gekonsentreer het om tot aan die einde van dié berig te kon lees.

Boekkarakter-dag

Boekkarakter-dag

Boekkarakter-dag

Deur Raine Smit (Graad 6)

 

Laerskool Anton van Wouw het elke jaar ‘n spesiale dag wat menige boekwurm laat krul van plesier!  Boekkarakter-dag is op 30 September 2022 gehou en almal het as hulle gunsteling boekkarakters aangetrek.

 

Almal mag aan Boekkarakter-dag deelneem, maar hierdie jaar was daar ‘n paar leesaktiwiteite waarvan voldoen moes word om vir deelname te kon kwalifiseer. Verskeie aktiwiteite is op Microsoft Teams, gelaai sodat leerders dit kon lees.  Jy moes vier of meer leesaktiwiteite voltooi om te kon deelneem aan hierdie opwindende dag.  Dit is ‘n slim poging om ons leerders te inspireer om meer te lees.

 

Boekkarakter-dag was ‘n reuse sukses.  Verskeie karakters uit “Boekland” het kom kuier.  Sneeuwitjie, Pippie Langkous, Tinkerbell, Mary Poppins, “Cat in the Hat”, prinsesse van heinde en verre, karakters van die Harry Potter-boekreeks en selfs Shrek, het besoek kom aflê.  Die onderwysers het ook deelgeneem aan die pret! Juffrou Neline het as Tinkerbell aangetrek, Juffrou Anneline as Pippie Langkous, Juffrou Mart-Marié as ‘n sprokiesprinses en Juffrou Terry was ‘n slim Rooikappie wat nie maklik deur die wolf om die bos gelei sal word nie.

 

Boekkarakter-dag is gereël deur Juffrou Terry, meneer Thomas en die einste, Bennie Boekwurm.  Baie dankie vir al die individue se moeite om die dag te beplan, te reël en om al die aktiwiteite te skryf en te laai op Teams.  Hierdie dag maak dit lekker om te lees en voordat jy jou oë knip, is jy smoorverlief op lees.  Lees het baie voordele en wakker nuuskierigheid en kreatiwiteit aan.

 

Te oordeel aan die verskeie “The Cat in the Hat” karakters wat ons gesien het, is dié boek ‘n Wouwtjie-gunsteling.  Dit was heerlik om almal se unieke interpretasie te sien van hulle gunsteling boekkarakters.

 

Lees, lees en nog meer lees!  Soos deur Dr.Seus gesê: “You can find magic wherever you look.  Sit back and relax, all you need is a book.”

DIE HOLLYWOOD SOKKIE

DIE HOLLYWOOD SOKKIE

DIE HOLLYWOOD SOKKIE

Deur Sandy Prinsloo en Gisele Geldenhuys (Graad 7)

 

Op 26 September 2022 het die tyd aangebreek vir die derde kwartaal se Hollywood-sokkie!  Alle graad 5 tot 7-leerders het geskitter in hul Hollywood-klere en het soos “filmsterre” op die rooi tapyt ingestap.  Die saal was gevul met Hollywood-akteurs van alle soorte.  Van Wonder-woman tot Kim Kardashian, en van Prinses Jasmine tot die “T-Birds”.  Die saal was pragtig opgemaak en het gelyk asof dit uit ‘n Hollywood-tydskrif geknip is.  

 

Die musiek het die skoolsaal se dak laat lig en die dansvloer was lewendig – almal het hulself geniet.  Daar was ook groot pryse te wen vir die beste danser, beste “celebrity” en nog vele meer.  Al was die sokkie net drie ure lank, het die Wouwtjies seker gemaak om elke oomblik daarvan te geniet.  Almal het heel aand gedans, gelag en baljaar!  Dit was verseker ‘n suksesvolle aand.  Dit was nie net ‘n spesiale aand vir die graad 5 tot 7-leerders nie, maar ook vir juffrou Lyn se dogter, Ashley, wat die aand saam met ons deurgebring het; aangesien dit ook haar verjaarsdag was.

 

Na ‘n lang en besige kwartaal was hierdie sokkie presies wat die Wouwtjies nodig gehad het om die kwartaal af te sluit en die welverdiende vakansie af te skop.  Die “filmsterre” het met dieselfde opwinding op die rooi tapyt uitgestap, as wat hulle ingestap het.  Dit was beslis ‘n aand wat almal geniet het en vir ewig sal onthou!

Daar’s ’n paar blou voetjies op pad!

Daar’s ’n paar blou voetjies op pad!

Daar’s ’n paar blou voetjies op pad!

Deur Nina Broschk (Graad 6)

 

Juffrou Lize-Marié van der Walt se oë skitter en ‘n glimlag vorm op haar lippe toe ek my eerste vraag vra…

 

Sy en haar man gaan ouers word!  “Ek voel dankbaar dat die Here my geseën het met die grootste geskenk,” vertel sy glimlaggend.

 

Die gelukkige paartjie sien baie uit na hulle eersteling se geboorte.  “Die baba kom op 27 Oktober, behalwe as hy ons vroeër wil verras.  Maar, omdat ek vir ʼn keisersneë gaan, weet ek wanneer hy gaan kom.”  Sy sê hulle is druk besig om alles reg te kry.  “Dis my eerste kind.  Ek is baie opgewonde, want ons het gesukkel, maar dit voel baie lekker dat dit uiteindelik gebeur het.”

 

Die babatjie se naam gaan Johannes Jurie wees.  Dis ook haar man se naam.  “Dit is al baie lank in die familie en ons wil hê dat die naam moet voortleef.”  Dis nie net die paartjie wat opgewonde is nie.  Die hele familie is!

 

“My ouers bly ver van my af en toe ek uitgevind het, het ek hulle dadelik ge-Facetime by die skool. Ek kon myself net nie meer inhou nie.  Hulle was in trane van blydskap,” onthou sy.

 

Die koms van ’n baba verander ’n mens se hele lewe en Juffrou is deeglik bewus daarvan.  “Ek dink hy het klaar my lewe ten goede verander,” vertel sy met ’n sagte kyk in haar oë.  “Ek wil graag hê dat dit my ʼn beter mens maak en dat ek die beste mamma vir hom sal wees.”

 

Juffrou glo dat die baba nie ’n invloed op haar werk as onderwyser gaan hê nie.  “Ek dink dit gaan my ‘n beter begrip van kinders gee, maar my nie noodwendig ʼn beter onderwyser maak nie.”

 

Die lesse wat sy haar seuntjie gaan leer, het my laat glimlag.  “Ek sal hom leer om nooit op te gee nie en om nie skaam of bang te wees om te wys dat hy ʼn kind van God is nie,” sê sy.

Ons liefdevolle juffrou het sonder huiwering vir my gesê dat sy beslis terugkom.  “Ek verlaat definitief nie Wouwtjies nie.  Ek gaan nog lank ʼn Wouwtjie bly.”  Sy maak die derde kwartaal klaar en gaan dan ongeveer vir vyf-en-‘n-half maande met kraamverlof.  Sy beplan om volgende jaar teen die tweede kwartaal weer terug by die skool te wees.

 

“Ek sien uit om te sien wat die lewe vir my nog inhou.  Ek sal graag meer kinders wil hê, maar ek weet dis alles deel van ʼn groter plan.”

 

Baie geluk, Juffrou! Ons is almal vreeslik bly en ons weet Johannes Jurie kry wonderlike ouers!

Die ligtoring

Die ligtoring

DIE LIGTORING

Deur Zanika Kruger (Graad 6)

 

In Natuurwetenskap en Tegnoloige het die graad 6’e ‘n opdrag gekry om ‘n ligtoring te bou.

 

Daar is baie bespiegel oor hoe die torings moet lyk.  Elke klas is in groepe ingedeel en juffrou Mart-Marie het aan ons verduidelik hoe ons te werk moet gaan.  Sy het ook vir ons ‘n lysie gegee van alles wat ons nodig gaan kry om die torings te bou.

 

Die groepe het bymekaar gekom en bespreek hoe hulle te werk sal gaan en wat elke leerder moet bring.  Elkeen moes sorg dat die items waarvoor hy verantwoordelik is, die dag by die skool is wanneer daar met die projek begin word.

 

Die dag breek aan en die bouery begin.  Dit was bietjie deurmekaar en alles is vinnig uitsorteer.  Daar is toe besluit met watter deel van die toring ons gaan begin en wie bou watter deel. Die ligtoring se ligte moes skyn.  Dit was ‘n uitdaging, maar gelukkig het almal dit reggekry.  Juffrou het so hier en daar gehelp en raad gegee.

 

Die toring is geverf en afgerond om soos ‘n werklike ligtoring te lyk.  Die platform waarop die toring gestaan het, moes geverf word om die illusie van die see te skep.

 

Die dag van die toets het aangebreek.  Almal was senuweeagtig.  Gaan die ligte skyn…  of nie?

 

HOERA!!  Die ligte skyn en nou kan  ons ontspan!

Markdag

Markdag

Markdag

Deur Chanté Stremmelaar en Ingrid Potgieter (Graad 7)

 

Die klok lui.  Almal hardloop vining na hulle klasse toe.  Die tyd moet nou gou verbygaan.  Almal sit geduldig en haal nie hul oë van die horlosie teen die muur af nie.  Dis uiteindelik die dag wat almal voor gewag het.  Dis Markdag!  Uiteindelik slaan die klok agtuur en met ‘n stroom kom almal aan.  Die reuk van lekkernye en “Boba”-tee vul die lug soos wat die graad een tot sesse uit die klasse uit stroom.  Kleurspatsels en vriendelike gesigte is te siene rondom die swembad en saal.

 

Markdag word eenkeer ‘n jaar tydens kwartaal drie aangebied en dit is ‘n hoogtepunt van die jaar.  Dit word as assessering aangebied vir die graad sewes vir hul EBW (Ekonomiese Bestuurswetenskap) punte en daarby baat die graad een tot sesse deur hul sakgeld te bring en die graad sewes te ondersteun deur ‘n paar oulike goedjies te koop.  Die graad sewes berei al weke voor vir hierdie dag om als eksie perfeksie te kry.

 

Dis nie net die stalletjie wat hulle moet voorberei nie, maar ook ‘n markplan.  Hierdie markplan bestaan uit ‘n doelwitlys, ‘n uitgawestaat, advertensie en ‘n inkomstestaat, met die wins of verlies wat hulle gemaak het.  By die mark was daar verskeie produkte, soos handgeverfte dra-sakke tot ‘n karwrak waarop jy al jou woede kon uitslaan.  Daar was ook klomp juwele, speletjies en heerlike kossoorte te koop.

 

Na ‘n lang twee, ure is voete seer en beursies leeg.  Die klok lui en almal beweeg weer klasse toe.  So kom die graad sewes van 2022 se markdag tot ‘n einde, net soos alle ander goeie dinge.

 

VEREFEES 2022

VEREFEES 2022

VEREFEES 2022

Deur Nika van Rooyen en Linda du Plessis (Graad 6)

 

Ai, ai die vere het gewaai

die hokke so alte fraai

Heerlik het almal gebraai

en die kinders het hoog geswaai!

 

Soos elke jaar, het die leerders en ouers van Laerskool Anton van Wouw met groot opgewondenheid uitgesien na die Verefees.  Die doel van die heerlike geleentheid is natuurlik om fondse in te samel vir die skool.  Die pragtige infrastruktuur, tuine en puik onderwysers kom nie gratis nie.

 

Vir die gemeenskap is dit egter meer ‘n prettige partytjie van vroeg tot laat.  Verefees 2022 het beslis niemand teleurgestel nie.  Dit is die twintigste keer wat die feestelike saamkuier aangebied is en elke jaar is dit ‘n groot sukses.

 

Die Wouwtjies kon nie wag om die pretritte aan te durf nie.  Dit is vir die kinders die heel lekkerste lekker van die Verefees.  Daar is dikwels lang rye kinders wat geduldig wag vir hul gunsteling inspuiting van adrenalien!  Baie ridders het hard geval tydens hul stryd met die meganiese bul, terwyl ander dapper, met hul ogies styf toegeknyp, by die monsterglybaan afgegaan het.

 

Soos altyd, het die ouers saamgekuier tot laat, die lekker musiek geniet en met tye ‘n danspassie of twee uitgekap.  Met die veiling het vrygewige ouers gebie op goed wat hulle nie regtig nodig het nie, net vir die skool se onthalwe.

 

Daar is so baie mense wat gehelp het, skenkings gemaak het en hard gewerk het om die Verefees van 2022 moontlik te maak.  Ons, as Wouwtjies, kan nie genoeg dankie sê nie.  Ek bedoel, watter Wouwtjie hou nie daarvan om op die skoolgronde mal te gaan nie!

 

Ons skud alreeds ons vere reg vir volgende jaar.

 

Lank lewe die Verefees!

GRAAD 7 BEROEPE-DAG…

GRAAD 7 BEROEPE-DAG…

GRAAD 7 BEROEPE-DAG…

Deur Clarisé van Niekerk (Graad 6)

 

Op die 31ste Augustus, stap ek by die skool in en skielik sien ek ‘n nuwe juffrou…

 

Ek stap verder en sien ‘n dokter, argitek en ‘n klomp perderuiters.  Skielik wonder ek of ek op die regte plek is.  Dan besef ek dis beroepe-dag vir ons graad 7’s.

 

Vroegoggend het ek met ‘n paar graad 7’s gaan praat, naamlik: Hatie Dippenaar, Demi Roets en Isa-Marié Bezuidenhout.  Hatie se droom is om ‘n neurochirurg te word.  Demi en Isa-Marie wil graag perderuiters word.  Ek ontmoet ook ‘n aspirant veearts, ‘n argitek en prokureur.

 

Alhoewel ons weet dat daar nog baie water in die see moet loop voordat hierdie graad 7’s se drome sal kan realiseer, is ek van mening dat ons toekoms verseker in baie goeie hande is!

 

Ek het wel nog gehoop om ‘n ruimtevaarder, argeoloog en selfs ‘n president raak te loop!  Ek wil beslis nog baie weet van Mars en Jupiter en wil verseker nog lees oor nuwe argeologiese ontdekkings.  Wat belangrik is, is dat elke beroep en die uniekheid daarvan, nodig is in ons sameweling en dat elkeen ‘n bydrae maak.

 

Ek wonder wat my beroep eendag sal wees en wat ek volgende jaar gaan aantrek vir my graad 7 beroepe-dag.

 

Welgedaan, graad 7’s!  Julle het ons verseker aan die dink gesit, maar ook opgewonde gemaak oor ‘n toekoms met soveel moontlikhede wat voorlê.  Mag julle elkeen se beroepsdroom waar word!

Tafels en stoele kry weer ‘n nuwe lewe by Banareng Laerskool

Tafels en stoele kry weer ‘n nuwe lewe by Banareng Laerskool

Tafels en stoele kry weer ‘n nuwe lewe by Banareng Laerskool

Deur Kiki Butler (Graad 7)

 

Op Donderdag 4 Augustus 2022, is die Banareng Laerskool in Atteridgeville besoek.  Die kuier aan die skool het alle verwagtinge oorskry.  Ons is met warm harte, oop arms en vriendelike gesigte ontvang.

 

Laerskool Anton van Wouw het sy oorskot bruikbare tafels en stoele geskenk, sodat ander wat daarvoor nut het, daarby kan baat vind.  Ons flukse Wouwtjie-familie het saamgery en gehelp met die aflaai daarvan.

 

Ons is later die oggend uitgenooi om deel te wees van die opskep en bediening van hulle kospakkie-program.

 

Ons het ook die geleentheid gehad om in ‘n skeppende kunste-klas Vader Jacob, of alombekend “Bana ba sekolo”, te sing.  Hulle vrolikheid het uit-en-uit vir my baie beteken.

Vir my het baie dinge uitgestaan, naamlik: die respek wat die skoliere, onderwysers en hulle skoolhoof aan ons getoon het.  Hulle dankbaarheid het ‘n afdruk in my hart gelaat en my weer opnuut laat besef dat ons elke dag al ons baie seëninge moet tel.

Die grootste blywende indruk, was die besef dat elke kind net soos ek wil hard werk, sy of haar potensiaal wil bereik en droom om eendag suksesvol te wees.

 

Ek is hoopvol, want saam kan ons as reënboognasie staan en is dit moontlik om saam te droom oor ‘n kleurvolle Suid-Afrika.

 

Dit was een van die grootste voorregte vir my om Banareng Laerskool te besoek en deel te wees om ander se harte te kon bly maak.  Baie dankie vir die geleentheid.

AGN-atlete presteer puik!

AGN-atlete presteer puik!

AGN-atlete presteer puik!

Deur Lea Dirker (Graad 6)

 

Hierdie seisoen se landloop-atlete het elke oggend geoefen…  deur só hard te oefen, het ons Wouwtjies puik gevaar!

8 van ons atlete het Gauteng-Noord kleure gekry en deurgedring na die SA’S!

Op Saterdag, 17 September, gaan ons Wouwtjies in die SA-kampionskappe hardloop!

Baie sterkte aan die wat die 17de hardloop en dankie aan die wat so hard geoefen het die afgelope seisoen.  Ons is trots op julle!