Is huiswerktyd soms ’n nagmerrie vir jou én jou kind?  

Is huiswerktyd soms ’n nagmerrie vir jou én jou kind?  

Deur Mariette Snyman

“Dis vir die meeste ouers van jong kinders ’n groot uitdaging,” sê dr. Shirley, ’n algemene praktisyn met ’n spesiale belangstelling in neurologiese toestande. “Huiswerk word gewoonlik aan die einde van die dag ingepas. Dopamien, die breinhormoon verantwoordelik vir wakkerheid en motivering, is smiddae op sy laagste en ná ’n vol dag is kinders boonop sensories oorlaai. Dis ’n slegte tyd vir ’n herhalende, vervelige aktiwiteit.

“Omdat kinders tuis veilig voel en vertrou dat hul ouers, hulle ondanks swak gedrag steeds sal liefhê, kan hulle ekstra moeilik wees. G’n wonder Finland – algemeen beskou as die land met die mees ontwikkelde onderwysstelsel – skeduleer smiddae geen akademiese werk behalwe lees nie. In Suid-Afrika is ons nog nie so gelukkig nie, maar ons kan wel die lewe vir ons en ons kinders makliker maak.

10 praktiese wenke wat dit vir almal makliker maak:

  1. Skep ʼn huiswerkhoekie

Nes ons ’n slaapkamer met slaap assosieer, help dit as jou kind se brein ’n sekere hoekie met huiswerk en ’n leeringesteldheid verbind. As die ruimte beperk is, kan jy sommer ’n hoekie van ’n kamer met maskeerband afbaken.

Minimaliseer afleiding indien jou kind se aandag maklik afgelei word. Sê: “Ek skakel my foon vir 20 minute af en gaan by jou sit en werk/lees/brei. Ons hou Boetie uit die vertrek.”

Sorg vir ’n gemaklike temperatuur.

Party kinders kan met musiek leer, ander nie. Eksperimenteer met wit geraas soos ’n waaier in die agtergrond, musiek sonder woorde, ensovoorts. Vir brain sequencing is Bach en Mozart die stimulerendste.

As jou kind se sensoriese integrasie nie optimaal is nie – soos by alle kinders met aandagafleibaarheid/hiperaktiwiteit – kan diep druk op jou kind se skoot of skouers strelend wees. Probeer ’n weighted jacket of kombers; die graansakkies wat fisioterapeute verskaf; ’n hondjie-deurstopper vol sand; of ’n teddiebeer wat ’n paar kilogram weeg. Die graansakkies kan warmgemaak of in die vrieskas gesit word. Eksperimenteer!

Kyk watter uitwerking verskillende geure het. Party is kalmerend, soos laventel; ander stimulerend, soos peperment. Koop suiwer essensiële olies met net een geur.

  1. ʼn Volledige werkstasie

Hou ’n volledige stel benodigdhede in die huiswerkhoekie. Geen huisgenoot mag dit leen nie! As jou kind eers moet opstaan om ’n skerpmaker te gaan haal, verbreek dit sy konsentrasie.

  1. Spring reg weg

Laat jou kind kies waarmee hy/sy wil begin – verkieslik eenvoudiger take. Verduidelik dat ’n makliker wegspringplek jou kans op sukses verbeter omdat jou brein ook “opwarm”. Ouer kinders kan met die moeilikste taak begin, terwyl hulle nog vars is.

  1. Hou ʼn ogie

Help ’n jong kind aanvanklik deur by hom/haar te sit of, as jy nie kan nie, vra van tyd tot tyd: “Hoe vorder jy? Kan ek help?”

  1. Skep asem

Sorg dat jou verwagtinge van jou kind se studievermoë realisties is. Dit is verstandig om te breek vóór jou kind se brandstof opraak. Gebruik ’n uurglas sodat jou kind die tydsverloop kan sien, en sê: “Kom ons doen vyf (of tien) minute lank wiskunde totdat die sand deurgeloop het.”

ʼn Pouse van vyf minute kan jou kind help herlaai.

Realistiese verwagtinge: graad 2 – twee sessies van vyf minute elk; graad 3 – 15 minute op ’n slag; graad 4 – 20 minute op ’n keer; kinders tot graad 7 – sessies van 40, dan 30, dan 20 minute. Selfs volwassenes behoort ná ’n werksessie van 45 minute te strek of ’n anders sensoriese breek te neem.

Eksperimenteer deur ’n kort pouse met ’n langer pouse af te wissel.

Mamma moenie ’n “pliggie” wees en deurdruk tot die werk klaar is nie – dis teenproduktief. Wanneer ’n kind te lank moet konsentreer, beland sy in beseringstyd, wat meer kwaad as goed doen. Respekteer jou kind se versadigingspunt; indien die huiswerk dit oorskry, kan jy ’n vriendelike briefie vir die onderwyser skryf en noem dat die kind werklik gefokus gewerk het maar nie die werk kon voltooi nie. Bespreek die huiswerklading met die onderwyser indien dit dikwels gebeur.

  1. Geduld, o geduld!

Sukseservarings lei tot groter sukses, terwyl skerp kritiek en die vrees vir mislukking ’n kind in oorlewingsmodus kan plaas. In die veg/vlugmodus het ons nie toegang tot hoër kognitiewe funksies nie. Probeer om nie ongeduldig te raak nie; kyk hoe jy kan help eerder as om die kind ontoereikend te laat voel. Op dié manier sal jou kind gouer onafhanklik kan werk – dis in jou belang!

  1. Spelpret
  • Spelling is iets wat alle kinders moet leer. Die brein hou van afwisseling, ’n uitdaging en kompetisie – span dit tot julle voordeel in. Skryf die week se spelwoorde netjies op indekskaarte. Maak twee stelle en speel Snap!
  • Skep ’n Bingo-bord. Pak een stel spelwoorde daarop. Laat jou kind die woorde spel. Vir elkeen wat hy reg het, is dit Bingo!
  • Gebruik gekleurde pypskoonmakers om letters en syfers te buig en bou die spelwoorde daarmee.
  • Speel “Vang Mamma uit”. Mamma skryf vier variasies van ’n spelwoord onder mekaar, byvoorbeeld K.L.O.U.T.E.R, klOUter, klouteR en kloutir, en laat die kind die verkeerd gespelde woord aandui.
  • Skep ’n pak kaarte met opdragte wat sensories verskil, byvoorbeeld: Skryf die spelwoord in rooi/geel/groen, skryf dit in potlood/koki-pen/vetkryt, skryf dit twee/drie/vyf keer, sê die woord in ’n fluisterstem/ operastem/ robotstem. Laat jou kind elke keer ’n kaart trek en die opdrag uitvoer.
  • Deesdae is daar ook penne met verskillende geure, byvoorbeeld ’n oranje pen met lemoengeur. Betrek dit by dié speletjie; die gebruik van verskillende sintuie skakel die geheue aan.
  • Laat die kind haar oë toemaak en die woorde uitskryf.
  • Steek die kaarte met spelwoorde weg op jou kind se roete van die etenstafel na byvoorbeeld haar tandeborsel. Sy moet elke kaart optel, lees en sê – ’n interessante vorm van herhaling.
  1. Mooi so!
  • Beloon jou kind vir elke sessie. Ouers is soms bang hulle koop ’n kind om, maar volwassenes werk ook beter as daar belonings is. Navorsing wys positiewe versterking kan vyf keer kragtiger wees as die vrees vir onaangename gevolge.
  1. Pak weg
  • Maak seker jou kind het alles wat nodig is vir die volgende skooldag, en dat die boeksak gepak is en by die voordeur wag.
  1. Vier dit!
  • Doen ná elke sessie iets lekkers saam – dit skep die gevoel van “ek hoort hier, ek het ’n plek”. Speel vinnig ’n speletjie, jaag mekaar, dans ’n dansie, vertel elkeen ’n grappie, luister na ’n liedjie, vertel van julle dag, slaan iets in die kombuis aanmekaar of gaan kielie vir Pappa. Al weet jy wat jou kind se liefdestaal is, spel alle kinders liefde só: “tyd” en “aandag”. 

 

Boekkarakter-dag

Boekkarakter-dag

Boekkarakter-dag

Deur Raine Smit (Graad 6)

 

Laerskool Anton van Wouw het elke jaar ‘n spesiale dag wat menige boekwurm laat krul van plesier!  Boekkarakter-dag is op 30 September 2022 gehou en almal het as hulle gunsteling boekkarakters aangetrek.

 

Almal mag aan Boekkarakter-dag deelneem, maar hierdie jaar was daar ‘n paar leesaktiwiteite waarvan voldoen moes word om vir deelname te kon kwalifiseer. Verskeie aktiwiteite is op Microsoft Teams, gelaai sodat leerders dit kon lees.  Jy moes vier of meer leesaktiwiteite voltooi om te kon deelneem aan hierdie opwindende dag.  Dit is ‘n slim poging om ons leerders te inspireer om meer te lees.

 

Boekkarakter-dag was ‘n reuse sukses.  Verskeie karakters uit “Boekland” het kom kuier.  Sneeuwitjie, Pippie Langkous, Tinkerbell, Mary Poppins, “Cat in the Hat”, prinsesse van heinde en verre, karakters van die Harry Potter-boekreeks en selfs Shrek, het besoek kom aflê.  Die onderwysers het ook deelgeneem aan die pret! Juffrou Neline het as Tinkerbell aangetrek, Juffrou Anneline as Pippie Langkous, Juffrou Mart-Marié as ‘n sprokiesprinses en Juffrou Terry was ‘n slim Rooikappie wat nie maklik deur die wolf om die bos gelei sal word nie.

 

Boekkarakter-dag is gereël deur Juffrou Terry, meneer Thomas en die einste, Bennie Boekwurm.  Baie dankie vir al die individue se moeite om die dag te beplan, te reël en om al die aktiwiteite te skryf en te laai op Teams.  Hierdie dag maak dit lekker om te lees en voordat jy jou oë knip, is jy smoorverlief op lees.  Lees het baie voordele en wakker nuuskierigheid en kreatiwiteit aan.

 

Te oordeel aan die verskeie “The Cat in the Hat” karakters wat ons gesien het, is dié boek ‘n Wouwtjie-gunsteling.  Dit was heerlik om almal se unieke interpretasie te sien van hulle gunsteling boekkarakters.

 

Lees, lees en nog meer lees!  Soos deur Dr.Seus gesê: “You can find magic wherever you look.  Sit back and relax, all you need is a book.”

DIE HOLLYWOOD SOKKIE

DIE HOLLYWOOD SOKKIE

DIE HOLLYWOOD SOKKIE

Deur Sandy Prinsloo en Gisele Geldenhuys (Graad 7)

 

Op 26 September 2022 het die tyd aangebreek vir die derde kwartaal se Hollywood-sokkie!  Alle graad 5 tot 7-leerders het geskitter in hul Hollywood-klere en het soos “filmsterre” op die rooi tapyt ingestap.  Die saal was gevul met Hollywood-akteurs van alle soorte.  Van Wonder-woman tot Kim Kardashian, en van Prinses Jasmine tot die “T-Birds”.  Die saal was pragtig opgemaak en het gelyk asof dit uit ‘n Hollywood-tydskrif geknip is.  

 

Die musiek het die skoolsaal se dak laat lig en die dansvloer was lewendig – almal het hulself geniet.  Daar was ook groot pryse te wen vir die beste danser, beste “celebrity” en nog vele meer.  Al was die sokkie net drie ure lank, het die Wouwtjies seker gemaak om elke oomblik daarvan te geniet.  Almal het heel aand gedans, gelag en baljaar!  Dit was verseker ‘n suksesvolle aand.  Dit was nie net ‘n spesiale aand vir die graad 5 tot 7-leerders nie, maar ook vir juffrou Lyn se dogter, Ashley, wat die aand saam met ons deurgebring het; aangesien dit ook haar verjaarsdag was.

 

Na ‘n lang en besige kwartaal was hierdie sokkie presies wat die Wouwtjies nodig gehad het om die kwartaal af te sluit en die welverdiende vakansie af te skop.  Die “filmsterre” het met dieselfde opwinding op die rooi tapyt uitgestap, as wat hulle ingestap het.  Dit was beslis ‘n aand wat almal geniet het en vir ewig sal onthou!

Daar’s ’n paar blou voetjies op pad!

Daar’s ’n paar blou voetjies op pad!

Daar’s ’n paar blou voetjies op pad!

Deur Nina Broschk (Graad 6)

 

Juffrou Lize-Marié van der Walt se oë skitter en ‘n glimlag vorm op haar lippe toe ek my eerste vraag vra…

 

Sy en haar man gaan ouers word!  “Ek voel dankbaar dat die Here my geseën het met die grootste geskenk,” vertel sy glimlaggend.

 

Die gelukkige paartjie sien baie uit na hulle eersteling se geboorte.  “Die baba kom op 27 Oktober, behalwe as hy ons vroeër wil verras.  Maar, omdat ek vir ʼn keisersneë gaan, weet ek wanneer hy gaan kom.”  Sy sê hulle is druk besig om alles reg te kry.  “Dis my eerste kind.  Ek is baie opgewonde, want ons het gesukkel, maar dit voel baie lekker dat dit uiteindelik gebeur het.”

 

Die babatjie se naam gaan Johannes Jurie wees.  Dis ook haar man se naam.  “Dit is al baie lank in die familie en ons wil hê dat die naam moet voortleef.”  Dis nie net die paartjie wat opgewonde is nie.  Die hele familie is!

 

“My ouers bly ver van my af en toe ek uitgevind het, het ek hulle dadelik ge-Facetime by die skool. Ek kon myself net nie meer inhou nie.  Hulle was in trane van blydskap,” onthou sy.

 

Die koms van ’n baba verander ’n mens se hele lewe en Juffrou is deeglik bewus daarvan.  “Ek dink hy het klaar my lewe ten goede verander,” vertel sy met ’n sagte kyk in haar oë.  “Ek wil graag hê dat dit my ʼn beter mens maak en dat ek die beste mamma vir hom sal wees.”

 

Juffrou glo dat die baba nie ’n invloed op haar werk as onderwyser gaan hê nie.  “Ek dink dit gaan my ‘n beter begrip van kinders gee, maar my nie noodwendig ʼn beter onderwyser maak nie.”

 

Die lesse wat sy haar seuntjie gaan leer, het my laat glimlag.  “Ek sal hom leer om nooit op te gee nie en om nie skaam of bang te wees om te wys dat hy ʼn kind van God is nie,” sê sy.

Ons liefdevolle juffrou het sonder huiwering vir my gesê dat sy beslis terugkom.  “Ek verlaat definitief nie Wouwtjies nie.  Ek gaan nog lank ʼn Wouwtjie bly.”  Sy maak die derde kwartaal klaar en gaan dan ongeveer vir vyf-en-‘n-half maande met kraamverlof.  Sy beplan om volgende jaar teen die tweede kwartaal weer terug by die skool te wees.

 

“Ek sien uit om te sien wat die lewe vir my nog inhou.  Ek sal graag meer kinders wil hê, maar ek weet dis alles deel van ʼn groter plan.”

 

Baie geluk, Juffrou! Ons is almal vreeslik bly en ons weet Johannes Jurie kry wonderlike ouers!

Die ligtoring

Die ligtoring

DIE LIGTORING

Deur Zanika Kruger (Graad 6)

 

In Natuurwetenskap en Tegnoloige het die graad 6’e ‘n opdrag gekry om ‘n ligtoring te bou.

 

Daar is baie bespiegel oor hoe die torings moet lyk.  Elke klas is in groepe ingedeel en juffrou Mart-Marie het aan ons verduidelik hoe ons te werk moet gaan.  Sy het ook vir ons ‘n lysie gegee van alles wat ons nodig gaan kry om die torings te bou.

 

Die groepe het bymekaar gekom en bespreek hoe hulle te werk sal gaan en wat elke leerder moet bring.  Elkeen moes sorg dat die items waarvoor hy verantwoordelik is, die dag by die skool is wanneer daar met die projek begin word.

 

Die dag breek aan en die bouery begin.  Dit was bietjie deurmekaar en alles is vinnig uitsorteer.  Daar is toe besluit met watter deel van die toring ons gaan begin en wie bou watter deel. Die ligtoring se ligte moes skyn.  Dit was ‘n uitdaging, maar gelukkig het almal dit reggekry.  Juffrou het so hier en daar gehelp en raad gegee.

 

Die toring is geverf en afgerond om soos ‘n werklike ligtoring te lyk.  Die platform waarop die toring gestaan het, moes geverf word om die illusie van die see te skep.

 

Die dag van die toets het aangebreek.  Almal was senuweeagtig.  Gaan die ligte skyn…  of nie?

 

HOERA!!  Die ligte skyn en nou kan  ons ontspan!