VEREFEES 2022
Deur Nika van Rooyen en Linda du Plessis (Graad 6)
Ai, ai die vere het gewaai
die hokke so alte fraai
Heerlik het almal gebraai
en die kinders het hoog geswaai!
Soos elke jaar, het die leerders en ouers van Laerskool Anton van Wouw met groot opgewondenheid uitgesien na die Verefees. Die doel van die heerlike geleentheid is natuurlik om fondse in te samel vir die skool. Die pragtige infrastruktuur, tuine en puik onderwysers kom nie gratis nie.
Vir die gemeenskap is dit egter meer ‘n prettige partytjie van vroeg tot laat. Verefees 2022 het beslis niemand teleurgestel nie. Dit is die twintigste keer wat die feestelike saamkuier aangebied is en elke jaar is dit ‘n groot sukses.
Die Wouwtjies kon nie wag om die pretritte aan te durf nie. Dit is vir die kinders die heel lekkerste lekker van die Verefees. Daar is dikwels lang rye kinders wat geduldig wag vir hul gunsteling inspuiting van adrenalien! Baie ridders het hard geval tydens hul stryd met die meganiese bul, terwyl ander dapper, met hul ogies styf toegeknyp, by die monsterglybaan afgegaan het.
Soos altyd, het die ouers saamgekuier tot laat, die lekker musiek geniet en met tye ‘n danspassie of twee uitgekap. Met die veiling het vrygewige ouers gebie op goed wat hulle nie regtig nodig het nie, net vir die skool se onthalwe.
Daar is so baie mense wat gehelp het, skenkings gemaak het en hard gewerk het om die Verefees van 2022 moontlik te maak. Ons, as Wouwtjies, kan nie genoeg dankie sê nie. Ek bedoel, watter Wouwtjie hou nie daarvan om op die skoolgronde mal te gaan nie!
Ons skud alreeds ons vere reg vir volgende jaar.
Lank lewe die Verefees!