Daar’s ’n paar blou voetjies op pad!

Deur Nina Broschk (Graad 6)

 

Juffrou Lize-Marié van der Walt se oë skitter en ‘n glimlag vorm op haar lippe toe ek my eerste vraag vra…

 

Sy en haar man gaan ouers word!  “Ek voel dankbaar dat die Here my geseën het met die grootste geskenk,” vertel sy glimlaggend.

 

Die gelukkige paartjie sien baie uit na hulle eersteling se geboorte.  “Die baba kom op 27 Oktober, behalwe as hy ons vroeër wil verras.  Maar, omdat ek vir ʼn keisersneë gaan, weet ek wanneer hy gaan kom.”  Sy sê hulle is druk besig om alles reg te kry.  “Dis my eerste kind.  Ek is baie opgewonde, want ons het gesukkel, maar dit voel baie lekker dat dit uiteindelik gebeur het.”

 

Die babatjie se naam gaan Johannes Jurie wees.  Dis ook haar man se naam.  “Dit is al baie lank in die familie en ons wil hê dat die naam moet voortleef.”  Dis nie net die paartjie wat opgewonde is nie.  Die hele familie is!

 

“My ouers bly ver van my af en toe ek uitgevind het, het ek hulle dadelik ge-Facetime by die skool. Ek kon myself net nie meer inhou nie.  Hulle was in trane van blydskap,” onthou sy.

 

Die koms van ’n baba verander ’n mens se hele lewe en Juffrou is deeglik bewus daarvan.  “Ek dink hy het klaar my lewe ten goede verander,” vertel sy met ’n sagte kyk in haar oë.  “Ek wil graag hê dat dit my ʼn beter mens maak en dat ek die beste mamma vir hom sal wees.”

 

Juffrou glo dat die baba nie ’n invloed op haar werk as onderwyser gaan hê nie.  “Ek dink dit gaan my ‘n beter begrip van kinders gee, maar my nie noodwendig ʼn beter onderwyser maak nie.”

 

Die lesse wat sy haar seuntjie gaan leer, het my laat glimlag.  “Ek sal hom leer om nooit op te gee nie en om nie skaam of bang te wees om te wys dat hy ʼn kind van God is nie,” sê sy.

Ons liefdevolle juffrou het sonder huiwering vir my gesê dat sy beslis terugkom.  “Ek verlaat definitief nie Wouwtjies nie.  Ek gaan nog lank ʼn Wouwtjie bly.”  Sy maak die derde kwartaal klaar en gaan dan ongeveer vir vyf-en-‘n-half maande met kraamverlof.  Sy beplan om volgende jaar teen die tweede kwartaal weer terug by die skool te wees.

 

“Ek sien uit om te sien wat die lewe vir my nog inhou.  Ek sal graag meer kinders wil hê, maar ek weet dis alles deel van ʼn groter plan.”

 

Baie geluk, Juffrou! Ons is almal vreeslik bly en ons weet Johannes Jurie kry wonderlike ouers!