DIE HOLLYWOOD SOKKIE

Deur Sandy Prinsloo en Gisele Geldenhuys (Graad 7)

 

Op 26 September 2022 het die tyd aangebreek vir die derde kwartaal se Hollywood-sokkie!  Alle graad 5 tot 7-leerders het geskitter in hul Hollywood-klere en het soos “filmsterre” op die rooi tapyt ingestap.  Die saal was gevul met Hollywood-akteurs van alle soorte.  Van Wonder-woman tot Kim Kardashian, en van Prinses Jasmine tot die “T-Birds”.  Die saal was pragtig opgemaak en het gelyk asof dit uit ‘n Hollywood-tydskrif geknip is.  

 

Die musiek het die skoolsaal se dak laat lig en die dansvloer was lewendig – almal het hulself geniet.  Daar was ook groot pryse te wen vir die beste danser, beste “celebrity” en nog vele meer.  Al was die sokkie net drie ure lank, het die Wouwtjies seker gemaak om elke oomblik daarvan te geniet.  Almal het heel aand gedans, gelag en baljaar!  Dit was verseker ‘n suksesvolle aand.  Dit was nie net ‘n spesiale aand vir die graad 5 tot 7-leerders nie, maar ook vir juffrou Lyn se dogter, Ashley, wat die aand saam met ons deurgebring het; aangesien dit ook haar verjaarsdag was.

 

Na ‘n lang en besige kwartaal was hierdie sokkie presies wat die Wouwtjies nodig gehad het om die kwartaal af te sluit en die welverdiende vakansie af te skop.  Die “filmsterre” het met dieselfde opwinding op die rooi tapyt uitgestap, as wat hulle ingestap het.  Dit was beslis ‘n aand wat almal geniet het en vir ewig sal onthou!