Tafels en stoele kry weer ‘n nuwe lewe by Banareng Laerskool

Deur Kiki Butler (Graad 7)

 

Op Donderdag 4 Augustus 2022, is die Banareng Laerskool in Atteridgeville besoek.  Die kuier aan die skool het alle verwagtinge oorskry.  Ons is met warm harte, oop arms en vriendelike gesigte ontvang.

 

Laerskool Anton van Wouw het sy oorskot bruikbare tafels en stoele geskenk, sodat ander wat daarvoor nut het, daarby kan baat vind.  Ons flukse Wouwtjie-familie het saamgery en gehelp met die aflaai daarvan.

 

Ons is later die oggend uitgenooi om deel te wees van die opskep en bediening van hulle kospakkie-program.

 

Ons het ook die geleentheid gehad om in ‘n skeppende kunste-klas Vader Jacob, of alombekend “Bana ba sekolo”, te sing.  Hulle vrolikheid het uit-en-uit vir my baie beteken.

Vir my het baie dinge uitgestaan, naamlik: die respek wat die skoliere, onderwysers en hulle skoolhoof aan ons getoon het.  Hulle dankbaarheid het ‘n afdruk in my hart gelaat en my weer opnuut laat besef dat ons elke dag al ons baie seëninge moet tel.

Die grootste blywende indruk, was die besef dat elke kind net soos ek wil hard werk, sy of haar potensiaal wil bereik en droom om eendag suksesvol te wees.

 

Ek is hoopvol, want saam kan ons as reënboognasie staan en is dit moontlik om saam te droom oor ‘n kleurvolle Suid-Afrika.

 

Dit was een van die grootste voorregte vir my om Banareng Laerskool te besoek en deel te wees om ander se harte te kon bly maak.  Baie dankie vir die geleentheid.