
Laerskool Anton van Wouw… ‘n skool van akademiese uitnemendheid… hoe gebeur dit? BALANS is álles!
Dit gaan nie oor die kurrikulum nie – elke skool in Suid-Afrika behoort die kurrikulum ten volle te implementeer… dit gaan oor hóé elke enkele aspek van die kurrikulum in diepte onderrig word! By Laerskool Anton van Wouw is dít wat ons doen! Die laerskool is die plek waar ‘n jong kind se akademiese grondslag baie stewig gelê moet word, dán “vlieg” hulle in die hoërskool en dit maak deure oop vir baie beroepsgeleenthede.
Akademiese uitnemendheid is iets wat elke ouer vir sy kind wíl hê… en dit is wat Laerskool Anton van Wouw bied.
Dit gaan beslis nie nét oor die punte nie, maar om kritiese denkvaardighede, ‘n dors na kennis en ‘n passie en nuuskierigheid vir leer te ontwikkel.
Om ‘n volronde, akademies sterk kind hoërskool toe te stuur, begin reeds by ons puik toegeruste Wouwtjie Pre-primêr. Pas uit die doeke, vanaf gr. RRRR, word ons Kleinwouwtjies blootgestel aan ‘n skitterende ontwikkelingsprogram van perseptuele vaardighede… boublokke vir leer wat binne die eerste ses jaar van ‘n kind se lewe deeglik vasgelê moet word. Ons maak doodseker dat ons gr. R’e skoolgereed is teen die tyd wat hulle deur die hekke stap na die “groot” skool toe.
Die akademiese uitnemendheid van ‘n skool staan of val by wat binne die vier mure van elke klas, elke dag, gebeur. Daarom … investeer ons in die béste onderwysers wat self akademies goed onderlê is, ‘n passie vir onderwys en kinders het en altyd op die voorpunt van nuutste ontwikkelinge in die onderwys bly.
Wouwtjie-onderwysers onderrig volgens Blooms… dit beteken kennis word oorgedra; leerders word gestimuleer om te dink, hulle eie afleidings te kan maak, hulself te kan motiveer en kritiese denkvaardighede te ontwikkel. Dus… Wouwtjies is denkende leerders!
Wat kan ouers doen om akademiese vaardighede tuis te ontwikkel?
- Gesels met jou kind oor duidelike doelwitte. Beplan stap vir stap hoe om daar uit te kom.
Breek dit vir jou kind op in kleiner, verteerbare deeltjies… en stel ‘n tydlyn op.
- Tydsbestuur: Balanseer die akademie met ander aktiwiteite. Dit is baie belangrik vir enige kind om akademie, sport, kultuur, familietyd, lees, speel en ontspanning te balanseer.
- Leer jou kind om studietyd ‘n produktiewe tyd te maak… om te fokus. Jy as ouer moet sorg dat daar nie iets is wat jou kind se aandag aftrek nie.
- Prioritiseer akademie en stel vaste tydslotte in.
- Effektiewe studiemetodes: vind uit wat jou kind se spesifieke leertegnieke is.
- Gereelde hersiening van werk is baie belangrik.
- Kry hulp en ondersteuning… moenie bang wees om te vra nie! Praat met onderwysers, klasmaats werk lekker saam, ouer kinders werk lekker in studiegroepe, gebruik biblioteke, opvoedkundige toeps asook aanlyn-platforms.
Waardes wat vasgelê moet word:
- Glo in jouself!
- Moenie terugdeins vir uitdagings nie.
- Hanteer terugslae as geleenthede om te leer.
- Fokus op ‘n positiewe uitkyk in alle opsigte.
- Vier klein oorwinnings.
- Leer uit jou foute.
ONTHOU: Dit gaan níe net oor akademiese prestasie nie, maar ook die persoonlike groei en vaardighede wat jy leer in die proses, wat sal lei tot sukses in die toekoms.