WOUWTJIES SKITTER IN DIE WATER!

WOUWTJIES SKITTER IN DIE WATER!

WOUWTJIES SKITTER IN DIE WATER!

Deur Clarisé van Niekerk (Graad 6)

 

Op julle MERKE, GEREED, SWEM!  Ons interhuis-swemgala van hierdie kwartaal was ‘n reuse sukses!  Dit was vir ons baie lekker om weer die ouers op die pawiljoene te hê na twee woeste jare!  Daar was ‘n vreeslike gejuig van die pawiljoene af en almal kon weer ware Wouwtjie-gees ervaar.

 

Ons swemmers het in die blou water van Laerskool Anton van Wouw geduik en absoluut net hulle beste gegee!  Ek is doodseker dit is nie net die water wat gespat het nie, maar ook die swemrekords!

 

Die reën het wél gemaak dat ons eers die volgende oggend die gala kon voltooi, maar die swemmers het bly skitter die volgende dag.

 

Ons sien met groot verwagting uit na wat hierdie jaar gaan inhou vir al die swemmers!  Ons wens vir al ons hardwerkende Wouwtjie-swemmers baie sterkte toe!  Ek wil graag afsluit met die volgende woorde: “Every champion was once a contender who never gave up!”

WOUWTJIE RUITERSPORT

WOUWTJIE RUITERSPORT

WOUWTJIE RUITERSPORT

Kop op, kort teuels, hakke af… hier gaan ons!

Deur Jua Visagie (Graad 7)

 

2022 het afgeskop met ‘n gallop vir die Wouwtjie ruitersport ruiters.  Die eerste Gauteng Noord SANESA uitdunrondtes was alreeds op 13 Februarie vanjaar.  Dit het die klomp ruiters en hul perde nie baie tyd gegee om voor te berei nie.

 

Dit was ook die eerste keer in Anton van Wouw se ruitersport geskiedenis, dat die kinders in spesifieke Wouwtjie-ruitersporthemde gery het, en hulle het sommer baie spoggerig gelyk!  Die Wouwtjies lyk by verre die beste van al die laerskole met ons splinternuwe skoolnumnas en -hempies.  Om nie eers te praat van ons ruitersport “gazebo” nie!

 

Maar, “goed lyk”, was nie al wat die klomp brawe Wouwtjie-ruiters reggekry het nie.  Hulle het boonop ook al uitstekend presteer met die eerste twee skoue hierdie jaar.  Ten spyte van die taai kompetisie, spog Anton van Wouw reeds met 6 eerste plekke; 2 tweede plekke; 4 derde plekke en dit sluit nie eers die klomp wat in die boonste derde van hulle klas geeïndig het, in nie!

 

Ons is baie opgewonde om ook heelwat nuwe Wouwtjie-ruiters te verwelkom in die Wouwtjie-ruitersportspan, en veral die ruiters wat so braaf was om hierdie seisoen aan hulle heel eerste SANESA skoue deel te neem.  Dit sit nie in almal se saal om so braaf te wees nie!

 

Met hierdie klomp entoesiastiese en vreeslose Wouwtjie-ruiters en hulle perde, kan ek nie wag om te sien wat die res jaar gaan oplewer nie!

Wouwtjieland se nuutste familielid

Wouwtjieland se nuutste familielid

Wouwtjieland se nuutste familielid

Deur Chanté Stremmelaar en Kiki Butler (Graad 7)

 

Glo dit of nie, Juffrou Annelien Serfontein het nie altyd in die loopbaan as onderwyseres belanggestel nie.  Dit was die ontmoeting met ‘n hartseer seuntjie by ‘n skool, wat deur ander geboelie was.  Nadat sy hom gehelp het en hy haar bedank het, het die gebaar haar hart só aangeraak, dat sy op daardie oomblik besef het dat sy ‘n onderwyseres wil word en so ‘n verskil in kinders se lewens kan maak.

 

Juffrou Annelien is die nuutste Sosiale Wetenskappe en Kinetika-onderwyseres hier by Laerskool Anton van Wouw.  ‘n Mens hoef nie lank in haar geselskap deur te bring om agter te kom dat sy ‘n baie vriendelike, nederige en ‘n warmhartige mens is nie.  As juffrou Annelien die dag alleen voel, kan sy beurte maak by wie sy die dag wil aanklop vir geselskap omdat sy een van tien kinders is.

 

Juffrou Annelien het in Mpumalanga grootgeword en het haar graad in onderwys deur Stadio Education verower.

 

Indien jy baie hou van netbal en van avonture, asook om staproetes te onderneem, sal jy baie goed met juffrou Annelien oor die weg kom!

 

Twee interessante feite van juffrou Annelien is: haar gunsteling kleur is groen en Raponsie is haar gunsteling Disney-karakter.

 

Op haar vraag of sy ‘n ma is, antwoord sy: “Ja, ek is ‘n ma van een Skotse Terriër en ‘n miniatuur Dappel Worshond!”

 

Juffrou Annelien is op haar gelukkigste en geniet haarself wanneer sy in die stilte van die bos haar gunsteling Karen Kingsbury boeke kan lees.

 

Hier volg die antwoord op die vraag wat op al die Wouwtjies se lippe hang – Hoe ervaar juffrou Annelien Serfontein Laerskool Anton van Wouw en die kinders?  “Ek is mal oor die kinders omdat hulle altyd respek teenoor my toon, al is ek nuut.  Dit is ‘n groot eer om ‘n Wouwtjie te wees.  Ek sien dit as een van my grootste prestasies wat ek nog ooit bereik het; daarom kan ek nie trotser wees nie.”

 

Laat hierdie kompliment vir ons as Wouwtjies ons altyd herinner om elkeen in Wouwtjie-land te laat welkom voel.  Dit is vir ons ‘n groot voorreg en eer om vir juffrou Annelien in ons Wouwtjie familie te verwelkom.

SANDY EN DANIE BESOEK LAERSKOOL BANARENG

SANDY EN DANIE BESOEK LAERSKOOL BANARENG

SANDY EN DANIE BESOEK LAERSKOOL BANARENG

Deur Monja du Plooy en Mpho Moeti (Graad 7)

 

Mnr. Marinus, Sandy en Danie besoek laerskool Banareng.  Hulle ontmoet die onderhoof van die skool wat hulle na die Gr.4-klasse toe neem.  Die kinders in gr.4 is so soet soos stroop en hulle maniere is baie goed.

 

Danie sê: “Die terrein lyk baie netjies,” en Sandy het vir ons gesê dat hulle hul eie groetetuin het.  Sy’t ook gesê dat, net soos ons by ons skool, hulle verskeie vakke het.  Hulle het nog ‘n addisionele vak by, naamlik groentetuin-bewerking.

 

Hulle klasse het vyf en vyftig leerders in een klas.  Die twee hoofleiers het ons ook vertel van ‘n klas met ‘n groot uitdaging.  Die probleem was dat daar twee klaskamers langs mekaar was wat van mekaar geskei is deur ‘n skewe skuifdeur. Die skuifdeur het op ‘n dag gebreek, en het veroorsaak dat daar 110 kinders bymekaar moes sit in een klas.

 

Die Swede was toe die superhelde en het Laerskool Banareng tot hulp gekom.  Hulle het die klasse weer van mekaar geskei deur ‘n baksteenmuur tussen die klasse te bou in stede van ‘n skewe skuifdeur.

 

Die Swede het nie net dít gedoen vir die onbevoorregte skool nie.  Oom Johan van Swede is vir laerskool Banareng die “Fadern” of “pa”, want hy help met skoolfondse en onderwys aanlyn.  Die Sweedse mense het ook ‘n inhuldiging gehou vir die nuwe klasse en het daar aangekondig dat hulle nog ‘n klas gaan bysit.

 

By die inhuldiging was die Sweedse ambassedeurs, Mnr. Marinus, Danie Gräbe en Sandy Prinsloo.  Die funksie was genotvol, want daar was fondinsamelings-vennote, naamlik, “Pretoria bookstore fundraiser” en “Funeral Planner” wat die kos voorsien het.  Danie en Sandy sê ook dat die kinders “gumboot” danse gedoen en toesprake gelewer het.

 

Danie en Sandy sê dit was baie opwindend en hulle sal graag weer so ‘n spesiale ervaring wil beleef.

Ons eerste revue-oefening

Ons eerste revue-oefening

Ons eerste revue-oefening

Deur Linda du Plessis en Nika van Rooyen (Graad 6)

 

Die naweek van 26-27 Februarie 2022 was dit elke Wouwtjie se eerste revue-oefening.  Meer spesifiek, 11:00 was dit graad 6Z se beurt! Stewel en gespoor met oefenklere en tekkies en bewapen met ‘n reuse waterbottel, het ek die stryd betree.  Toe ek uit die kar klim by die rugbyveldhek, het ek onmiddellik geweet hierdie gaan nie ‘n gewone dag wees nie.  Die kombinasie van pure opgewondendheid en so bietjie onsekerheid het gehang in die lug soos die geur van warm pannekoek op ‘n koue dag.

 

Spoedig het Juffrou Mariàn ons kom haal en na ons oefenplek geneem.  Daar het ons vir mnr. Danie ontmoet.  Hy is die choreograaf wat ons klas se danspassies vir ons sou leer.  Nie lank nie, en met polsende musiek in die agtergrond, het ons die eerste bewegings van ons dans geleer.  Dit was makliker gesê as gedaan!  Die eerste paar keer het ons maar lomp gevoel – en meer as een van ons het oor ons eie voete geval!  Met baie geduld en uitstekende lesse van mnr. Danie, was ons reg om ons eie oefentyd aan te pak.  Dit het darem nie te sleg afgeloop nie.

 

Na amper twee ure se oefening, het ons sessie tot ‘n einde gekom.  Hierdie moeë, maar baie gelukkige Wouwtjie het teruggestrompel na die rugbyveldhek om opgelaai te word.

 

Toe ek daardie aand in die bed klim (effe styf van die dag se oefening!), het ek geweet ek gaan sommer ‘n barshou slaap.  En kort voor lank, terwyl ek nog wonder oor wat die revue vir ons gaan inhou, het ek so stil-stil droomland besoek…

Toastmasters

Toastmasters

Toastmasters

Nina Broschk (Graad 6)

 

Wat het ‘n vrees vir hansworse, ‘n wêreld wat nét uit sjokolade bestaan, ‘n haat vir die son en honde wat in oliebolle verander, in gemeen? Hierdie was alles onderwerpe van praatjies by die Internasionale Toastmasters-kursus wat ’n groep graad ses- en sewe leerders onlangs bygewoon het.  Ja-nee.  Sport is nie die enigste ding wat deur ons Wouwtjies se bloed vloei nie.  Toastmasters het nou ook ’n plek tussen al ons sportrekords.  Ons organiseerders, mee. Naudé en Bowker, en ons aanbieder, meneer Flint, sê dit was die grootste Wouwtjie-groep tot op hede wat vir die kursus ingeskryf het.

 

Toastmasters gee ’n Wouwtjie se toespraak-talent die kans om die lig te sien.  Nou het ons geen verskoning meer om nie op ‘n verhoog te staan en met ons woorde te spog nie.  G’n wonder die banket waar ons moes demonstreer wat ons geleer het, was so ‘n groot sukses nie. Daar is baie gelag en gespot met woorde.  Ek het nie ’n idee gehad dat party van die leerders wat ek al so lank ken, só ’n goeie humorsin het nie.

 

By Toastmasters het ons hope wyses geleer om meer gebruik te maak van ons lyftaal, hoe om onvoorbereide- en voorbereide toesprake te lewer, formele- en informele heildronke in te stel, en natuurlik, hoe om ʼn bietjie humor by ons praatjies in te wriemel.

 

Ek het al baie praatjies gehoor, maar niks kom naby die Toastmasters-praatjies wat ek tydens die kursus gehoor het nie.  Die beste van alles, was om te sien hoe ons met elke sessie verbeter en met meer selfvertroue ons woord doen.  As jy ’n Toastmaster Wouwtjie se liggaamstaal en stemtoon aan die begin van die kursus met daardie einste Wouwtjie s’n by die banket moes vergelyk, sou jy skaars jou ore en oë kon glo!  Dit boonop alles in Engels.  Maar die heel lekkerste vir my was om al die interessante onderwerpe aan te hoor: If my drawings came to life; Why I love detention; Dreams; If I could control the solar system; I woke up in a video game…  en vele meer. Net nóg ’n rede waarom Toastmasters ‘n reuse sukses was!

 

So, as jy praatjies wil lewer asof jy dit al vir jare doen én jou Engels verbeter, is Toastmasters net die ding vir jou.  In die woorde van Shakespeare: “All the world’s a stage.’’