Wouwtjieland se nuutste familielid

Deur Chanté Stremmelaar en Kiki Butler (Graad 7)

 

Glo dit of nie, Juffrou Annelien Serfontein het nie altyd in die loopbaan as onderwyseres belanggestel nie.  Dit was die ontmoeting met ‘n hartseer seuntjie by ‘n skool, wat deur ander geboelie was.  Nadat sy hom gehelp het en hy haar bedank het, het die gebaar haar hart só aangeraak, dat sy op daardie oomblik besef het dat sy ‘n onderwyseres wil word en so ‘n verskil in kinders se lewens kan maak.

 

Juffrou Annelien is die nuutste Sosiale Wetenskappe en Kinetika-onderwyseres hier by Laerskool Anton van Wouw.  ‘n Mens hoef nie lank in haar geselskap deur te bring om agter te kom dat sy ‘n baie vriendelike, nederige en ‘n warmhartige mens is nie.  As juffrou Annelien die dag alleen voel, kan sy beurte maak by wie sy die dag wil aanklop vir geselskap omdat sy een van tien kinders is.

 

Juffrou Annelien het in Mpumalanga grootgeword en het haar graad in onderwys deur Stadio Education verower.

 

Indien jy baie hou van netbal en van avonture, asook om staproetes te onderneem, sal jy baie goed met juffrou Annelien oor die weg kom!

 

Twee interessante feite van juffrou Annelien is: haar gunsteling kleur is groen en Raponsie is haar gunsteling Disney-karakter.

 

Op haar vraag of sy ‘n ma is, antwoord sy: “Ja, ek is ‘n ma van een Skotse Terriër en ‘n miniatuur Dappel Worshond!”

 

Juffrou Annelien is op haar gelukkigste en geniet haarself wanneer sy in die stilte van die bos haar gunsteling Karen Kingsbury boeke kan lees.

 

Hier volg die antwoord op die vraag wat op al die Wouwtjies se lippe hang – Hoe ervaar juffrou Annelien Serfontein Laerskool Anton van Wouw en die kinders?  “Ek is mal oor die kinders omdat hulle altyd respek teenoor my toon, al is ek nuut.  Dit is ‘n groot eer om ‘n Wouwtjie te wees.  Ek sien dit as een van my grootste prestasies wat ek nog ooit bereik het; daarom kan ek nie trotser wees nie.”

 

Laat hierdie kompliment vir ons as Wouwtjies ons altyd herinner om elkeen in Wouwtjie-land te laat welkom voel.  Dit is vir ons ‘n groot voorreg en eer om vir juffrou Annelien in ons Wouwtjie familie te verwelkom.