WOUWTJIE RUITERSPORT

Kop op, kort teuels, hakke af… hier gaan ons!

Deur Jua Visagie (Graad 7)

 

2022 het afgeskop met ‘n gallop vir die Wouwtjie ruitersport ruiters.  Die eerste Gauteng Noord SANESA uitdunrondtes was alreeds op 13 Februarie vanjaar.  Dit het die klomp ruiters en hul perde nie baie tyd gegee om voor te berei nie.

 

Dit was ook die eerste keer in Anton van Wouw se ruitersport geskiedenis, dat die kinders in spesifieke Wouwtjie-ruitersporthemde gery het, en hulle het sommer baie spoggerig gelyk!  Die Wouwtjies lyk by verre die beste van al die laerskole met ons splinternuwe skoolnumnas en -hempies.  Om nie eers te praat van ons ruitersport “gazebo” nie!

 

Maar, “goed lyk”, was nie al wat die klomp brawe Wouwtjie-ruiters reggekry het nie.  Hulle het boonop ook al uitstekend presteer met die eerste twee skoue hierdie jaar.  Ten spyte van die taai kompetisie, spog Anton van Wouw reeds met 6 eerste plekke; 2 tweede plekke; 4 derde plekke en dit sluit nie eers die klomp wat in die boonste derde van hulle klas geeïndig het, in nie!

 

Ons is baie opgewonde om ook heelwat nuwe Wouwtjie-ruiters te verwelkom in die Wouwtjie-ruitersportspan, en veral die ruiters wat so braaf was om hierdie seisoen aan hulle heel eerste SANESA skoue deel te neem.  Dit sit nie in almal se saal om so braaf te wees nie!

 

Met hierdie klomp entoesiastiese en vreeslose Wouwtjie-ruiters en hulle perde, kan ek nie wag om te sien wat die res jaar gaan oplewer nie!