
Toastmasters
Nina Broschk (Graad 6)
Wat het ‘n vrees vir hansworse, ‘n wêreld wat nét uit sjokolade bestaan, ‘n haat vir die son en honde wat in oliebolle verander, in gemeen? Hierdie was alles onderwerpe van praatjies by die Internasionale Toastmasters-kursus wat ’n groep graad ses- en sewe leerders onlangs bygewoon het. Ja-nee. Sport is nie die enigste ding wat deur ons Wouwtjies se bloed vloei nie. Toastmasters het nou ook ’n plek tussen al ons sportrekords. Ons organiseerders, mee. Naudé en Bowker, en ons aanbieder, meneer Flint, sê dit was die grootste Wouwtjie-groep tot op hede wat vir die kursus ingeskryf het.
Toastmasters gee ’n Wouwtjie se toespraak-talent die kans om die lig te sien. Nou het ons geen verskoning meer om nie op ‘n verhoog te staan en met ons woorde te spog nie. G’n wonder die banket waar ons moes demonstreer wat ons geleer het, was so ‘n groot sukses nie. Daar is baie gelag en gespot met woorde. Ek het nie ’n idee gehad dat party van die leerders wat ek al so lank ken, só ’n goeie humorsin het nie.
By Toastmasters het ons hope wyses geleer om meer gebruik te maak van ons lyftaal, hoe om onvoorbereide- en voorbereide toesprake te lewer, formele- en informele heildronke in te stel, en natuurlik, hoe om ʼn bietjie humor by ons praatjies in te wriemel.
Ek het al baie praatjies gehoor, maar niks kom naby die Toastmasters-praatjies wat ek tydens die kursus gehoor het nie. Die beste van alles, was om te sien hoe ons met elke sessie verbeter en met meer selfvertroue ons woord doen. As jy ’n Toastmaster Wouwtjie se liggaamstaal en stemtoon aan die begin van die kursus met daardie einste Wouwtjie s’n by die banket moes vergelyk, sou jy skaars jou ore en oë kon glo! Dit boonop alles in Engels. Maar die heel lekkerste vir my was om al die interessante onderwerpe aan te hoor: If my drawings came to life; Why I love detention; Dreams; If I could control the solar system; I woke up in a video game… en vele meer. Net nóg ’n rede waarom Toastmasters ‘n reuse sukses was!
So, as jy praatjies wil lewer asof jy dit al vir jare doen én jou Engels verbeter, is Toastmasters net die ding vir jou. In die woorde van Shakespeare: “All the world’s a stage.’’