Ons eerste revue-oefening
Deur Linda du Plessis en Nika van Rooyen (Graad 6)
Die naweek van 26-27 Februarie 2022 was dit elke Wouwtjie se eerste revue-oefening. Meer spesifiek, 11:00 was dit graad 6Z se beurt! Stewel en gespoor met oefenklere en tekkies en bewapen met ‘n reuse waterbottel, het ek die stryd betree. Toe ek uit die kar klim by die rugbyveldhek, het ek onmiddellik geweet hierdie gaan nie ‘n gewone dag wees nie. Die kombinasie van pure opgewondendheid en so bietjie onsekerheid het gehang in die lug soos die geur van warm pannekoek op ‘n koue dag.
Spoedig het Juffrou Mariàn ons kom haal en na ons oefenplek geneem. Daar het ons vir mnr. Danie ontmoet. Hy is die choreograaf wat ons klas se danspassies vir ons sou leer. Nie lank nie, en met polsende musiek in die agtergrond, het ons die eerste bewegings van ons dans geleer. Dit was makliker gesê as gedaan! Die eerste paar keer het ons maar lomp gevoel – en meer as een van ons het oor ons eie voete geval! Met baie geduld en uitstekende lesse van mnr. Danie, was ons reg om ons eie oefentyd aan te pak. Dit het darem nie te sleg afgeloop nie.
Na amper twee ure se oefening, het ons sessie tot ‘n einde gekom. Hierdie moeë, maar baie gelukkige Wouwtjie het teruggestrompel na die rugbyveldhek om opgelaai te word.
Toe ek daardie aand in die bed klim (effe styf van die dag se oefening!), het ek geweet ek gaan sommer ‘n barshou slaap. En kort voor lank, terwyl ek nog wonder oor wat die revue vir ons gaan inhou, het ek so stil-stil droomland besoek…