Die ryk geskiedenis van Laerskool Anton van Wouw lê die grondslag vir ‘n opwindende toekoms

Die ryk geskiedenis van Laerskool Anton van Wouw lê die grondslag vir ‘n opwindende toekoms

Laerskool Anton van Wouw is ’n ietwat weggesteekte juweel agter die Brooklyn Mall en in die hartjie van ’n lowerryke, rustige woonbuurt, Nieuw Muckleneuk, in Pretoria. Die skool bied ouers en kinders álles wat hul hart begeer. As waardegedrewe skool, is dit vir ons baie belangrik om ons ouers se goeie opvoeding tuis, binne ons skool voort te sit. 

Laerskool Anton van Wouw is een van die oudste skole in die Oostelike voorstede van Pretoria en spog met ‘n kleurryke geskiedenis en ‘n trotse tradisie van besondere akademiese-, kulturele– en sportprestasies. 

Van die belangrikste uitgangspunte by ons skool is dat ons ‘n gemeenskapsentrum is, wat goed gebalanseerde leerders aan die samelewing lewer deur alle rolspelers, soos ouers, kerke, opvoedkundiges, akademici en entrepreneurs, wat moontlik ‘n bydrae kan lewer tot die opvoeding van ons kinders, die geleentheid daartoe te bied. Om hierdie rede is ons bevoorreg om sekerlik een van die gelukkigste leerderkorpse en ‘n betrokke ouergemeenskap te hê. 

Ons opvoedkundige uitgangspunt is dat ons leerders al die lewensvaardighede hier moet verwerf wat hulle nodig het om te oorleef en floreer in ‘n kompeterende Suid-Afrika, en ook in die moderne, kleinerwordende wêreld. 

Laerskool Anton van Wouw het ‘n ryk geskiedenis, wat teruggaan na die vroeë jare van die twintigste eeu. Laerskool Anton van Wouw open op 27 Januarie 1925 sy deure as die  Nu-Muckleneuk Skool. In Mei 1958 word aansoek gedoen om die skool na die beeldhouer, Anton Van Wouw, te vernoem. 

Anton van Wouw is in 1862 in die Nederlandse stad, Driebergen, gebore. Hy het in 1890 na Suid-Afrika verhuis en is bekend vir sy realistiese beeldhouwerk. Van Wouw was ‘n groot voorstander van Afrikaans as taal, en het selfs gehelp met die ontwikkeling van ‘n Afrikaanse Bybelvertaling. Dit was dus gepas om ‘n skool wat Afrikaans as taal bevorder het, na hom te vernoem. 

Die skool het in die loop van jare ‘n uitstekende reputasie opgebou. Ons is bekend vir ons akademiese uitnemendheid, asook vir puik sport- en kultuurprogramme. Baie bekende Suid-Afrikaanse sport- en kultuurpersoonlikhede, is oud-Wouwtjies. 

Laerskool Anton van Wouw voed verskeie hoërskole in die omgewing. Hierdie skole sluit in: Hoërskool Menlopark; Hoërskool Waterkloof; Afrikaanse Hoër Seunskool; Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria; Hoërskool Garsfontein en Hoërskool Die Wilgers. Al hierdie skole bied ‘n hoë standaard van onderwys en het ‘n goeie reputasie in die omgewing.  

Laerskool Anton van Wouw is ‘n moderne skool met baie goeie fasiliteite om die leerproses vir die kinders te optimaliseer. Hier is ‘n paar voorbeelde van dié topklas- fasiliteite: 

  • Moderne tegnologie: Alle klaskamers is toegerus met moderne onderwys-tegnologie. Elke klas het ‘n dataprojektor en internet; verskeie klasse het interaktieweborde. 
  • Biblioteek: Laerskool Anton van Wouw het ‘n moderne biblioteek wat ‘n wye verskeidenheid boeke en ander bronne bevat, om die kinders se leerervaring te verbeter. 
  • Rekenaarsentrum: Die skool het ‘n goed-toegeruste rekenaarsentrum, waar kinders toegang het tot die nuutste rekenaarsagteware en -tegnologie. Hierdie fasiliteit word gebruik om kinders se lees- en rekenaarvaardighede te verbeter. 
  • Sport-fasiliteite: Die skool het groot sportvelde, wat gebruik word vir atletiek, rugby, krieket, netbal en ander sportsoorte. Ons nuwe veeldoelige bane word benut vir hokkie, netbal en tennis. Ons het ook ’n verhitte swembad. 
  • Kuns- en kultuurfasiliteite: Laerskool Anton van Wouw moedig kuns- en kultuuraktiwiteite aan, en daar is fasiliteite vir musiek, dans, toneelspel en ander kultuuraktiwiteite. 

As top Afrikaanse laerskool máák ons tyd vir u kind! 

Ons wil u uitnooi om ‘n afspraak met ons te maak en u sodoende te vergewis van die kwaliteit opvoeding wat ons u kind kan bied. 

Top Afrikaanse Laerskool berei leerders voor vir ‘n blink toekoms

Top Afrikaanse Laerskool berei leerders voor vir ‘n blink toekoms

Die vele wêreldklas hoërskole in Pretoria behaal jaarliks van die beste akademiese uitslae, nie net in Gauteng nie, maar in Suid-Afrika. Laerskool Anton van Wouw is trots om as een van die beste Afrikaanse laerskole in Pretoria, ‘n top voedingskool te wees, waar leerders ‘n keuse het tussen van die topskole in die land. Laerskool Anton van Wouw se akademie is op ‘n hoë standaard en dit lei daartoe dat ons leerders uitstekend aanpas in enige hoërskool. Ons doelwit is om ‘n verantwoordelike, selfstandige, gelukkige en trotse kind tot volle potensiaal in die etos van ons omgewing te ontwikkel en toe te rus om bydraes te maak in die Suid-Afrikaanse en internasionale arenas.

In die hartjie van Brooklyn en Nieuw Muckleneuk uitbreiding lê ons lowergroen juweel, een van die bes gevestigde Afrikaanse laerskole in Pretoria-Oos. Ons ongelooflike netjiese skoolgronde is ‘n lushof! Die boomryke tuine, groen grasperke, netjiese geboue (waarvan sommige dele 98 jaar oud is)… ons lekkerte om elke dag te kan geniet!  Speelruimte is vir ons baie belangrik en ons groen gras orals om die skool, getuig daarvan.

By Laerskool Anton van Wouw word ‘n gebalanseerde ingesteldheid tot studie, sport, kultuur en leierskap aangewakker. ‘n Skool waar kultuur en sport van ewe groot belang is, skep pioniere in leierskap. Laerskool Anton van Wouw-personeel sorg dat leerlinge kreatief dink en leer om analities probleme op te los.

As een van die top 10 laerskole in Pretoria, bied Laerskool Anton van Wouw ouers en kinders álles wat hul hart begeer. As waardegedrewe skool, is dit vir ons baie belangrik vir ons om ons ouers se goeie opvoeding tuis, binne ons skool voort te sit.  Elke aspek van ons skool vorm ’n bousteen waarop die volgende een ingepas kan word en elke onderwyser, kind en ouer maak die kombinasie van kleure, vorms en grootte van dié boustene!

By Laerskool Anton van Wouw fokus ons op potensiaal en nie net op prestasies nie. Ons kweek ‘n gesindheid en begeerte om te groei en gewilligheid om te help. Ons filosofie oor die onderwys is gebaseer op die feit dat elke kind in ons skool gelukkig moet wees. Kinders wat gelukkig is, werk hard op skool en die voordele daaraan verbonde is legio. Ons doen heelwat moeite om skoolgaan vir ons leerders lekker te maak te midde van harde werk op akademiese, kultuur- en sportgebied.

Ons bereik al die doelwitte wat ons stel vir ons skool deur middel van goed toegeruste, gemotiveerde en kundige personeel met die beste, bekostigbare fasiliteite binne die omgewing (politiese, sosiale en besigheid) in vennootskap met betrokke ouers. Dit is waarom Laerskool Anton Van Wouw deur baie geag word as een van die beste laerskole in Pretoria.

Laerskool Anton van Wouw bied elke leerder voortreflike akademiese onderrig in ‘n kindervriendelike, geborge milieu van liefde en meelewing deur passievolle onderwysers. Hier dink ons anders en doen ons anders en bruis entoesiasme deur ons klasse en gange en oor ons velde.

By Laerskool Anton van Wouw, glo ons dat ‘n kind wat leer in sy/haar eie moedertaal leer makliker, verstaan makliker, neem kennis makliker in en ontleed moeilike terme, probleme of situasies beter.  As ‘n baba ontwikkel ‘n kind deur te luister in hul moedertaal. Deur  taal te ontleed, leer hul dan van emosies en hoe om situasies te analiseer.  Deur taal vorm die begrip en vermoë om somme te kan doen, klanke te vorm en te kan kommunikeer.  Die vaardighede word dan weer gebruik op skool en leervlak.  Die oomblik wat ‘n kind kan leer en verstaan wat hy/sy lees, kan hul beter presteer. As trotse Afrikaanse laerskool, ervaar ons daagliks moedertaalonderrig as een van die boustene van sukses,

Ons het hoë verwagtinge en standaarde – maar verwag nie die onmoontlike nie. Alles gaan gepaard met positiewe aanmoediging wat ons personeel met soveel passie uitleef en die balans tussen die beste akademiese-, kulturele- en sportgeleenthede met die klem op gelukkige kinders wat hulle volle potensiaal ontwikkel. Ons gee om vir elke kind. Ons stel doelwitte vir die leerders – klein treetjies vir treetjies. Leerders skryf hulle mylpale en suksesse neer, ongeag van die prestasies.

As voornemende ouer moet jy net by ons kom kuier, en jy sal self die bogenoemde ervaar. Ons jaarlikse Opedag vind plaas op die 22ste April vanaf 8h30, en ons nooi graag enige voornemende Wouwtjies en belangstellende ouers hartlik uit om by ons ‘n draai te maak en self te kom beleef wat een van die beste laerskole in Pretoria-Oos vir jou kind kan bied.

Besoek gerus ons webwerf vir meer inligting oor die skool en al die wonderlike geleenthede wat ons bied: https://laerskoolantonvanwouw.co.za/

Boekkarakter-dag

Boekkarakter-dag

Boekkarakter-dag

Deur Raine Smit (Graad 6)

 

Laerskool Anton van Wouw het elke jaar ‘n spesiale dag wat menige boekwurm laat krul van plesier!  Boekkarakter-dag is op 30 September 2022 gehou en almal het as hulle gunsteling boekkarakters aangetrek.

 

Almal mag aan Boekkarakter-dag deelneem, maar hierdie jaar was daar ‘n paar leesaktiwiteite waarvan voldoen moes word om vir deelname te kon kwalifiseer. Verskeie aktiwiteite is op Microsoft Teams, gelaai sodat leerders dit kon lees.  Jy moes vier of meer leesaktiwiteite voltooi om te kon deelneem aan hierdie opwindende dag.  Dit is ‘n slim poging om ons leerders te inspireer om meer te lees.

 

Boekkarakter-dag was ‘n reuse sukses.  Verskeie karakters uit “Boekland” het kom kuier.  Sneeuwitjie, Pippie Langkous, Tinkerbell, Mary Poppins, “Cat in the Hat”, prinsesse van heinde en verre, karakters van die Harry Potter-boekreeks en selfs Shrek, het besoek kom aflê.  Die onderwysers het ook deelgeneem aan die pret! Juffrou Neline het as Tinkerbell aangetrek, Juffrou Anneline as Pippie Langkous, Juffrou Mart-Marié as ‘n sprokiesprinses en Juffrou Terry was ‘n slim Rooikappie wat nie maklik deur die wolf om die bos gelei sal word nie.

 

Boekkarakter-dag is gereël deur Juffrou Terry, meneer Thomas en die einste, Bennie Boekwurm.  Baie dankie vir al die individue se moeite om die dag te beplan, te reël en om al die aktiwiteite te skryf en te laai op Teams.  Hierdie dag maak dit lekker om te lees en voordat jy jou oë knip, is jy smoorverlief op lees.  Lees het baie voordele en wakker nuuskierigheid en kreatiwiteit aan.

 

Te oordeel aan die verskeie “The Cat in the Hat” karakters wat ons gesien het, is dié boek ‘n Wouwtjie-gunsteling.  Dit was heerlik om almal se unieke interpretasie te sien van hulle gunsteling boekkarakters.

 

Lees, lees en nog meer lees!  Soos deur Dr.Seus gesê: “You can find magic wherever you look.  Sit back and relax, all you need is a book.”

DIE HOLLYWOOD SOKKIE

DIE HOLLYWOOD SOKKIE

DIE HOLLYWOOD SOKKIE

Deur Sandy Prinsloo en Gisele Geldenhuys (Graad 7)

 

Op 26 September 2022 het die tyd aangebreek vir die derde kwartaal se Hollywood-sokkie!  Alle graad 5 tot 7-leerders het geskitter in hul Hollywood-klere en het soos “filmsterre” op die rooi tapyt ingestap.  Die saal was gevul met Hollywood-akteurs van alle soorte.  Van Wonder-woman tot Kim Kardashian, en van Prinses Jasmine tot die “T-Birds”.  Die saal was pragtig opgemaak en het gelyk asof dit uit ‘n Hollywood-tydskrif geknip is.  

 

Die musiek het die skoolsaal se dak laat lig en die dansvloer was lewendig – almal het hulself geniet.  Daar was ook groot pryse te wen vir die beste danser, beste “celebrity” en nog vele meer.  Al was die sokkie net drie ure lank, het die Wouwtjies seker gemaak om elke oomblik daarvan te geniet.  Almal het heel aand gedans, gelag en baljaar!  Dit was verseker ‘n suksesvolle aand.  Dit was nie net ‘n spesiale aand vir die graad 5 tot 7-leerders nie, maar ook vir juffrou Lyn se dogter, Ashley, wat die aand saam met ons deurgebring het; aangesien dit ook haar verjaarsdag was.

 

Na ‘n lang en besige kwartaal was hierdie sokkie presies wat die Wouwtjies nodig gehad het om die kwartaal af te sluit en die welverdiende vakansie af te skop.  Die “filmsterre” het met dieselfde opwinding op die rooi tapyt uitgestap, as wat hulle ingestap het.  Dit was beslis ‘n aand wat almal geniet het en vir ewig sal onthou!

Daar’s ’n paar blou voetjies op pad!

Daar’s ’n paar blou voetjies op pad!

Daar’s ’n paar blou voetjies op pad!

Deur Nina Broschk (Graad 6)

 

Juffrou Lize-Marié van der Walt se oë skitter en ‘n glimlag vorm op haar lippe toe ek my eerste vraag vra…

 

Sy en haar man gaan ouers word!  “Ek voel dankbaar dat die Here my geseën het met die grootste geskenk,” vertel sy glimlaggend.

 

Die gelukkige paartjie sien baie uit na hulle eersteling se geboorte.  “Die baba kom op 27 Oktober, behalwe as hy ons vroeër wil verras.  Maar, omdat ek vir ʼn keisersneë gaan, weet ek wanneer hy gaan kom.”  Sy sê hulle is druk besig om alles reg te kry.  “Dis my eerste kind.  Ek is baie opgewonde, want ons het gesukkel, maar dit voel baie lekker dat dit uiteindelik gebeur het.”

 

Die babatjie se naam gaan Johannes Jurie wees.  Dis ook haar man se naam.  “Dit is al baie lank in die familie en ons wil hê dat die naam moet voortleef.”  Dis nie net die paartjie wat opgewonde is nie.  Die hele familie is!

 

“My ouers bly ver van my af en toe ek uitgevind het, het ek hulle dadelik ge-Facetime by die skool. Ek kon myself net nie meer inhou nie.  Hulle was in trane van blydskap,” onthou sy.

 

Die koms van ’n baba verander ’n mens se hele lewe en Juffrou is deeglik bewus daarvan.  “Ek dink hy het klaar my lewe ten goede verander,” vertel sy met ’n sagte kyk in haar oë.  “Ek wil graag hê dat dit my ʼn beter mens maak en dat ek die beste mamma vir hom sal wees.”

 

Juffrou glo dat die baba nie ’n invloed op haar werk as onderwyser gaan hê nie.  “Ek dink dit gaan my ‘n beter begrip van kinders gee, maar my nie noodwendig ʼn beter onderwyser maak nie.”

 

Die lesse wat sy haar seuntjie gaan leer, het my laat glimlag.  “Ek sal hom leer om nooit op te gee nie en om nie skaam of bang te wees om te wys dat hy ʼn kind van God is nie,” sê sy.

Ons liefdevolle juffrou het sonder huiwering vir my gesê dat sy beslis terugkom.  “Ek verlaat definitief nie Wouwtjies nie.  Ek gaan nog lank ʼn Wouwtjie bly.”  Sy maak die derde kwartaal klaar en gaan dan ongeveer vir vyf-en-‘n-half maande met kraamverlof.  Sy beplan om volgende jaar teen die tweede kwartaal weer terug by die skool te wees.

 

“Ek sien uit om te sien wat die lewe vir my nog inhou.  Ek sal graag meer kinders wil hê, maar ek weet dis alles deel van ʼn groter plan.”

 

Baie geluk, Juffrou! Ons is almal vreeslik bly en ons weet Johannes Jurie kry wonderlike ouers!