SÁÁM MAAK ONS TYD VIR JOU KIND

Laerskool Anton van Wouw is ’n ietwat weggesteekte juweel… agter die Brooklyn Mall en in die hartjie van ’n lowerryke, rustige woonbuurt.

Ons skool bied ouers en kinders álles wat hul hart begeer… as waardegedrewe skool, is dit vir ons baie belangrik om ons ouers se goeie opvoeding tuis, binne ons skool voort te sit.  Ons leuse – “Sáám maak ons tyd vir u kind” – is die spil waarom Wouwtjie-wees draai.

As ons dink aan wát ’n ouer en kind in sóveel dae en ure hier beleef, het ons te doen met ’n uurglas wat sewe jaar se sandjies stadig laat deurloop.

Aan die ander kant, as ons na één besige dag op ’n slag kyk, het ons eerder te doen met ’n sekondewyser wat bokspring en tiekiedraai tussen die oomblikke, minute, ure… alles wat in een dag toegevoeg word tot ’n lewetjie.

Ons Wouwtjie-wêreld bestaan uit derduisende kleurvolle, uniek-verskillende Lego-boublokkies,  wat op ’n wonderlike, kleurvolle manier by mekaar inklik en inskakel, om ’n wêreld te bou wat moeilik nageboots kan word.  Elke aspek van ons skool vorm ’n bousteen waarop die volgende een ingepas kan word en elke onderwyser, kind en ouer maak die kombinasie van kleure, interessante karaktertjies en rekwisiete, heeltemal uniek!

Uit die hoof se kantoor

Baie welkom by ons pragtige skool!  Laerskool Anton van Wouw is een van die oudste skole in die oostelike voorstede van Pretoria en kan spog met ‘n kleurryke geskiedenis en ‘n trotse tradisie van besondere hoë akademiese-, kulturele– en sportprestasies.

Laerskool Anton van Wouw :

  • Bied ‘n omgewing waar kinders emosioneel gelukkig is.
  • Neem mensgeoriënteerde onderwysers in diens wat ’n uitnodigende, liefdevolle leer- en speelomgewing skep.
  • Prioritiseer individuele aandag.
  • Fokus op vroegtydige identifisering en oplossing van probleme.

Laerskool Anton van Wouw se leuse is : “ Sáám maak ons tyd vir u kind”.

Hierdie leuse word bereik deur :

  • Leesmammas wat ons jonger maatjies help lees.
  • Gratis ekstra klasse in Afrikaans, Engels en Wiskunde.
  • Begeleiding met huiswerk in die Naskoolsentrum.
  • Die getal leerders per klas te beperk.
  • Begeleiding met assessering en toetse.

Laerskool Anton van Wouw is ’n waardegedrewe skool.  Ons streef na en bevorder onder andere: selfwaarde en -respek, waardering en respek vir ander, waardering en respek vir die gemeenskap en omgewing. 

Die doel is om innerlike etiek by leerders te kweek wat hul optrede en gedrag bepaal.

Ons belangrikste opvoedkundige doelstelling is om te verseker dat ons leerders al die lewensvaardighede verwerf  om hul volle potensiaal te bereik en om te presteer in ‘n kompeterende samelewing, nasionaal en internasionaal.

Laerskool Anton van Wouw bied ‘n kultuur wat bevorderlik is vir gelukkige leerders en noue betrokkenheid van ouers.

Ons wil u uitnooi om ‘n afspraak met ons te maak en u sodoende te vergewis van die kwaliteit opvoeding wat ons vir u kind kan bied.