PA – ONDERWYSER ÓF ONDERWYSER – PA

PA – ONDERWYSER ÓF ONDERWYSER – PA

PA – ONDERWYSER ÓF ONDERWYSER – PA

Deur Nika van Rooyen en Linda du Plessis (Graad 6)

 

Jou pa is ‘n onderwyser by jou skool – hoe voel dit, vra almal?  Mmmm…  laat ek dink.  Somtyds baie ongemaklik!

 

Eendag in die klas vra my pa (mnr.) vir my: “Waar is jou huiswerk?”

Ek: Uhm, ek kry dit nie in my tas nie, Mnr.

Pa (mnr.): Wel, dan kry jy nul!

Ek: Maar Mnr. het my gisteraand daarmee gehelp, Mnr. weet ek het dit gedoen!

Pa (mnr.): Jou pa weet dit, maar nie jou onderwyser nie.

Ag tog!!

 

Dit het ook soms voordele om saam met jou pa werk toe te kom elke dag.  Ek is nooit laat vir skool nie!  Ek ry elke oggend saam met my pa en hy moet altyd douvoordag daar wees.  In die winter is dit nie altyd so lekker nie.  Mens voel nogal veilig omdat hy daar is, alhoewel ek hom onder geen omstandighede by die personeelkamer mag pla nie.  As jy vergeet het wat jy moet doen in ‘n ander vak, kan jy jou pa vra om onderwyser te “whatsapp”.  Dit het al ‘n paar keer my bas gered!

 

Jy kan egter nie altyd jouself wees nie.  Ek het nogal baie persoonlikheid (om dit mooi te stel) en my pa sal my vinnig op my plek sit.  Ek kan ook nooit kattekwaad aanvang nie – dit sal gou by my pa se ore uitkom.  Gelukkig is meeste van die personeel redelik genadig met my.  Dit is tóg ook ‘n probleem.  Die feit dat die hele personeel jou ken en dikwels van al jou persoonlike dingetjies weet.  My pa vertel graag van my lawwe sêgoed en die interessante dinge wat in ons huis gebeur.  Soms sommer voor my!!  Vrééslik vernederend!

 

Die ander mansonderwysers by die skool terg my aanhoudend.  Ek kan nie by een van hulle verbystap sonder dat hulle my siel uittrek nie.  Ek weet dis net grappies, maar ek moet sê, as ek stilletjies ‘n ompad kan stap, dan doen ek dit.

 

Ek kan ook nooit my toetspunte wegsteek vir my ouers nie.  My pa weet gewoonlik hoe ek gevaar het voordat ek weet…  mens sou dink my dierbare onderwysers sal my privaatheid respekteer!

 

Ek moet sê dit help dat my pa ‘n geliefde en gerespekteerde onderwyser is by my skool.  Hy ken al my maatjies, kan nogal kwaai wees, maar is net so gou om ‘n grappie te maak.  Hy is my veilige hawe by die skool en ek is mal oor my Meneer-pa!!

Meneer Jeandré Jones

Meneer Jeandré Jones

Meneer Jeandré Jones

Deur Zanika Kruger (Graad 6)

 

Mnr. Jeandré was verbonde aan Laerskool Anton van Wouw vanaf 2016 tot Februarie 2022.

 

Die eerste vak wat hy gegee het, was Afrikaans.

 

Hoe mnr. hier begin het as onderwyser, was dat hy rugby afgerig het en toe besef hy dat hy baie daarvan hou om kinders te leer.  Hy het toe daar besluit om onderwys te gaan studeer.  Hy het toe assistent-onderwyser by Laerskool Anton van Wouw geword.

 

Sy eerste werk was by Ubaru, wat ‘n landbou organisasie is.  Sy gunsteling vak as onderwyser was Sosiale Wetenskap vir Graad 6.  Hy het nie geweet watter vak hy sou gee nie en was baie bly toe dit Sosiale Wetenskap is.  Hy het die vak baie geniet en baie interessant gemaak vir die kinders.

 

Mnr Jeandré se gunsteling vak op skool was Siviele Ingenieurswese en Toerisme.  Die graad wat hy die meeste geniet het tydens sy skoolloopbaan, was Graad 12 (Matriek).

 

Alhoewel Mnr. altyd gesê het: “Julle moet lees!”  was hy self nie mal oor lees nie.  Hy het net altyd die sportblaaie gelees.  Die vakke waarvan Mnr. glad nie gehou het nie, was Wiskunde en Lewensvaardigheid.

 

Ongelukkig het hy ‘n beter pos gekry en die onderwys verlaat, om sy loopbaan buite onderwys voort te sit.

 

Mnr. Jeandré word baie gemis op alle gebiede.

Die Anton van Wouw sokkie 2022

Die Anton van Wouw sokkie 2022

Die Anton van Wouw sokkie 2022

Deur Ingrid Potgieter (Graad 7)

 

MAMMA MIA!  Dis waar wat hulle sê: “Wouwtjies kan woeker…  Veral op die dansvloer.”  Ja, jy’t reg geraai.  Die dansvloer waarop die eerste sokkie van 2022 gehou is.  Die héél eerste sokkie na Covid-grendeltyd.  Vanaf die oomblik wat jy uit die motor geklim het, kon jy musiek hoor wat veraf speel.  Spatsels kleur het verskyn soos die Wouwtjies een vir een by die eerste sokkie opgedaag het in hulle pragtige uitrustings.

 

Die gelag van kinders het weergalm deur die skool en die lug was gevul met opwinding.  Almal het hulle “danshare” gedra en was gereed om hulle gate uit te geniet.  Soos die son gesak het in die weste, het die veelkleurige, flikkerende ligte van die verhoog af begin skyn. Híérdie was ʼn sokkie wat die Wouwtjies nie sommer  sal vergeet nie!

 

Maar…  “wat is ʼn goeie danssessie sonder ʼn  versnapering?  Natuurlik was daar ook heerlike Spur Burgers en Pizza.  Met hope verwagting, vol mae en ʼn onblusbare danslus was die Wouwtjies weer aan die gang.  Ons het die aand omgedans op die maat van moderne musiek en nie ʼn oomblik gemors nie.  Daar was ook interessante danspassies en uitrustings wat almal se asem weggeslaan het…”  Natuurlik was daar ook ʼn danskompetisie tussen die seuns en dogters (ons almal weet wie het gewen) en ander kompetisies, insluitende: die persoon met die beste dansbewegings en die persoon met die mooiste uitrusting.

 

Die musiek was uitstekend en al die kinders het hulle litte los geskud!  Later die aand het seuns en dogters saam gedans en oulike sokkie-danspassies uitgevoer.  Daardie aand kon almal huis toe gaan en dink aan hulle wonderlike belewenis hier in Wouwtjieland.  Ek is seker al die Wouwtjies stem saam dat díé geleentheid baie spesiaal en indrukwekkend was.  Ons sal dit elkeen onthou.  Dit is ʼn herrinering wat elke Wouwtjie in sy/haar hart kan hou as hulle eendag Wouwtjieland verlaat.

 

So, ek herhaal…  MAMMA MIA!  Die Wouwtjies kan woeker, veral op die dansvloer…

Wouwtjies se harte klop-klop vir atletiek

Wouwtjies se harte klop-klop vir atletiek

Wouwtjies se harte klop-klop vir atletiek

Deur Gisele Geldenhuys en Sandy Prinsloo (Graad 7)

Na ‘n lang pandemie het die atletiek vir ‘n ruk stilgestaan, maar vroeër vanjaar het die Wouwtjies weer vinnig-vinnig die bal aan die  rol gekry en hulle het uitmuntende prestasies behaal.  Die Wouwtjies  het stof in hul opponente se oë geskop en by elke byeenkoms Anton van Wouw se naam hoog gehou.

 

Die eerste atletiekbyeenkoms van die jaar was op ons skoolvelde teen Laerskool Olienpark, Generaal Hendrik Schoeman en Laerskool Taalfees.  Alle atlete het op hierdie byeenkoms hul beste voetjie voorgesit en hul harde werk is deur hul uitsonderlike prestasies beloon. In elke afdeling, van hekkies tot aflos, en van spiesgooi tot     diskus, het elke Wouwtjie-atleet hul beste probeer en natuurlik hulself geniet.  Daar is vier van ons atlete wat die Victrix Lodorum toekenning behaal het, naamlik Megan Nieman, Simónn Hugo, Waldré van der Merwe en Christiaan Bosman.  Laerskool Anton van Wouw het hierdie atletiekbyeenkoms gewen en dit was die begin van ‘n klopdisselboom atletiekseisoen.

 

Die tyd het aangebreek vir die Cluster-byeenkoms by Hoërskool Garsfontein, waar die top-atlete van ons skool deelgeneem het.  Hulle het kliphard gewerk en al was hulle bietjie senuweagtig, het dit die atlete nie ondergekry nie.  Hulle het puik prestreer en daarom het nege atlete aan die Distrik-skolebyeenkoms op 26 Februarie deelgeneem.  Dit was nie die einde nie, want hierdie atlete het bo- gemiddeld goed presteer en daarom het vyf atlete, Adri de Beer, Megan Nieman, Waldré van der Merwe, Danielle Bam en Shiloh Snijders, aan die GISSA op 11 en 12 Maart by Pilditch deelgeneem.

 

Na ‘n fantastiese atletiekseisoen kan elke Wouwtjie net trots wees.  Hulle het deur en deur Anton van Wouw se naam hoog gehou en die vrugte van hul harde werk gepluk.  Dit is sowaar ‘n atletiekseisoen  om te onthou.

Spieëltjie, spieëltjie…

Spieëltjie, spieëltjie…

Spieëltjie, spieëltjie…

Deur Raine Smit (Graad 6)

 

Het jy al ooit gewonder watter klaskamer in die skool is die mooiste?  Dalk Juffrou Adelé se klaskamer vir leerders wat van diere hou, of dalk Juffrou Lyn se geheimsinnige sitplekkie in die hoek van haar klaskamer waar jy rustig kan lees.  Die onderwysers van Laerskool Anton van Wouw doen só ongelooflik baie moeite om hulle klaskamers mooi en treffend te maak dat dit amper ontmoontlik is om te besluit watter klaskamer die mooiste is.  Meneer Marinus se klaskamer ruik altyd soos lekker koffie en jy voel dadelik tuis wanneer jy instap.  Daardie “café” gevoel laat my sommer opgewonde raak oor Wiskunde!

 

Juffrou Lize-Maríe Swart se pragtige geverfde deur wat lyk soos ʼn klavier wys dat sy baie lief vir musiek is en maak haar klaskamer uniek.

 

Die lys hou nooit op nie omdat Laerskool Anton van Wouw se onderwysers soveel passie het vir hulle klaskamers!  Dit sal interessant wees om te hoor watter klaskamer julle Wouwtjies dink die mooiste is!