PA – ONDERWYSER ÓF ONDERWYSER – PA

Deur Nika van Rooyen en Linda du Plessis (Graad 6)

 

Jou pa is ‘n onderwyser by jou skool – hoe voel dit, vra almal?  Mmmm…  laat ek dink.  Somtyds baie ongemaklik!

 

Eendag in die klas vra my pa (mnr.) vir my: “Waar is jou huiswerk?”

Ek: Uhm, ek kry dit nie in my tas nie, Mnr.

Pa (mnr.): Wel, dan kry jy nul!

Ek: Maar Mnr. het my gisteraand daarmee gehelp, Mnr. weet ek het dit gedoen!

Pa (mnr.): Jou pa weet dit, maar nie jou onderwyser nie.

Ag tog!!

 

Dit het ook soms voordele om saam met jou pa werk toe te kom elke dag.  Ek is nooit laat vir skool nie!  Ek ry elke oggend saam met my pa en hy moet altyd douvoordag daar wees.  In die winter is dit nie altyd so lekker nie.  Mens voel nogal veilig omdat hy daar is, alhoewel ek hom onder geen omstandighede by die personeelkamer mag pla nie.  As jy vergeet het wat jy moet doen in ‘n ander vak, kan jy jou pa vra om onderwyser te “whatsapp”.  Dit het al ‘n paar keer my bas gered!

 

Jy kan egter nie altyd jouself wees nie.  Ek het nogal baie persoonlikheid (om dit mooi te stel) en my pa sal my vinnig op my plek sit.  Ek kan ook nooit kattekwaad aanvang nie – dit sal gou by my pa se ore uitkom.  Gelukkig is meeste van die personeel redelik genadig met my.  Dit is tóg ook ‘n probleem.  Die feit dat die hele personeel jou ken en dikwels van al jou persoonlike dingetjies weet.  My pa vertel graag van my lawwe sêgoed en die interessante dinge wat in ons huis gebeur.  Soms sommer voor my!!  Vrééslik vernederend!

 

Die ander mansonderwysers by die skool terg my aanhoudend.  Ek kan nie by een van hulle verbystap sonder dat hulle my siel uittrek nie.  Ek weet dis net grappies, maar ek moet sê, as ek stilletjies ‘n ompad kan stap, dan doen ek dit.

 

Ek kan ook nooit my toetspunte wegsteek vir my ouers nie.  My pa weet gewoonlik hoe ek gevaar het voordat ek weet…  mens sou dink my dierbare onderwysers sal my privaatheid respekteer!

 

Ek moet sê dit help dat my pa ‘n geliefde en gerespekteerde onderwyser is by my skool.  Hy ken al my maatjies, kan nogal kwaai wees, maar is net so gou om ‘n grappie te maak.  Hy is my veilige hawe by die skool en ek is mal oor my Meneer-pa!!