
Die Anton van Wouw sokkie 2022
Deur Ingrid Potgieter (Graad 7)
MAMMA MIA! Dis waar wat hulle sê: “Wouwtjies kan woeker… Veral op die dansvloer.” Ja, jy’t reg geraai. Die dansvloer waarop die eerste sokkie van 2022 gehou is. Die héél eerste sokkie na Covid-grendeltyd. Vanaf die oomblik wat jy uit die motor geklim het, kon jy musiek hoor wat veraf speel. Spatsels kleur het verskyn soos die Wouwtjies een vir een by die eerste sokkie opgedaag het in hulle pragtige uitrustings.
Die gelag van kinders het weergalm deur die skool en die lug was gevul met opwinding. Almal het hulle “danshare” gedra en was gereed om hulle gate uit te geniet. Soos die son gesak het in die weste, het die veelkleurige, flikkerende ligte van die verhoog af begin skyn. Híérdie was ʼn sokkie wat die Wouwtjies nie sommer sal vergeet nie!
Maar… “wat is ʼn goeie danssessie sonder ʼn versnapering? Natuurlik was daar ook heerlike Spur Burgers en Pizza. Met hope verwagting, vol mae en ʼn onblusbare danslus was die Wouwtjies weer aan die gang. Ons het die aand omgedans op die maat van moderne musiek en nie ʼn oomblik gemors nie. Daar was ook interessante danspassies en uitrustings wat almal se asem weggeslaan het…” Natuurlik was daar ook ʼn danskompetisie tussen die seuns en dogters (ons almal weet wie het gewen) en ander kompetisies, insluitende: die persoon met die beste dansbewegings en die persoon met die mooiste uitrusting.
Die musiek was uitstekend en al die kinders het hulle litte los geskud! Later die aand het seuns en dogters saam gedans en oulike sokkie-danspassies uitgevoer. Daardie aand kon almal huis toe gaan en dink aan hulle wonderlike belewenis hier in Wouwtjieland. Ek is seker al die Wouwtjies stem saam dat díé geleentheid baie spesiaal en indrukwekkend was. Ons sal dit elkeen onthou. Dit is ʼn herrinering wat elke Wouwtjie in sy/haar hart kan hou as hulle eendag Wouwtjieland verlaat.
So, ek herhaal… MAMMA MIA! Die Wouwtjies kan woeker, veral op die dansvloer…