GRAAD 7 BEROEPE-DAG…

GRAAD 7 BEROEPE-DAG…

GRAAD 7 BEROEPE-DAG…

Deur Clarisé van Niekerk (Graad 6)

 

Op die 31ste Augustus, stap ek by die skool in en skielik sien ek ‘n nuwe juffrou…

 

Ek stap verder en sien ‘n dokter, argitek en ‘n klomp perderuiters.  Skielik wonder ek of ek op die regte plek is.  Dan besef ek dis beroepe-dag vir ons graad 7’s.

 

Vroegoggend het ek met ‘n paar graad 7’s gaan praat, naamlik: Hatie Dippenaar, Demi Roets en Isa-Marié Bezuidenhout.  Hatie se droom is om ‘n neurochirurg te word.  Demi en Isa-Marie wil graag perderuiters word.  Ek ontmoet ook ‘n aspirant veearts, ‘n argitek en prokureur.

 

Alhoewel ons weet dat daar nog baie water in die see moet loop voordat hierdie graad 7’s se drome sal kan realiseer, is ek van mening dat ons toekoms verseker in baie goeie hande is!

 

Ek het wel nog gehoop om ‘n ruimtevaarder, argeoloog en selfs ‘n president raak te loop!  Ek wil beslis nog baie weet van Mars en Jupiter en wil verseker nog lees oor nuwe argeologiese ontdekkings.  Wat belangrik is, is dat elke beroep en die uniekheid daarvan, nodig is in ons sameweling en dat elkeen ‘n bydrae maak.

 

Ek wonder wat my beroep eendag sal wees en wat ek volgende jaar gaan aantrek vir my graad 7 beroepe-dag.

 

Welgedaan, graad 7’s!  Julle het ons verseker aan die dink gesit, maar ook opgewonde gemaak oor ‘n toekoms met soveel moontlikhede wat voorlê.  Mag julle elkeen se beroepsdroom waar word!

Tafels en stoele kry weer ‘n nuwe lewe by Banareng Laerskool

Tafels en stoele kry weer ‘n nuwe lewe by Banareng Laerskool

Tafels en stoele kry weer ‘n nuwe lewe by Banareng Laerskool

Deur Kiki Butler (Graad 7)

 

Op Donderdag 4 Augustus 2022, is die Banareng Laerskool in Atteridgeville besoek.  Die kuier aan die skool het alle verwagtinge oorskry.  Ons is met warm harte, oop arms en vriendelike gesigte ontvang.

 

Laerskool Anton van Wouw het sy oorskot bruikbare tafels en stoele geskenk, sodat ander wat daarvoor nut het, daarby kan baat vind.  Ons flukse Wouwtjie-familie het saamgery en gehelp met die aflaai daarvan.

 

Ons is later die oggend uitgenooi om deel te wees van die opskep en bediening van hulle kospakkie-program.

 

Ons het ook die geleentheid gehad om in ‘n skeppende kunste-klas Vader Jacob, of alombekend “Bana ba sekolo”, te sing.  Hulle vrolikheid het uit-en-uit vir my baie beteken.

Vir my het baie dinge uitgestaan, naamlik: die respek wat die skoliere, onderwysers en hulle skoolhoof aan ons getoon het.  Hulle dankbaarheid het ‘n afdruk in my hart gelaat en my weer opnuut laat besef dat ons elke dag al ons baie seëninge moet tel.

Die grootste blywende indruk, was die besef dat elke kind net soos ek wil hard werk, sy of haar potensiaal wil bereik en droom om eendag suksesvol te wees.

 

Ek is hoopvol, want saam kan ons as reënboognasie staan en is dit moontlik om saam te droom oor ‘n kleurvolle Suid-Afrika.

 

Dit was een van die grootste voorregte vir my om Banareng Laerskool te besoek en deel te wees om ander se harte te kon bly maak.  Baie dankie vir die geleentheid.

AGN-atlete presteer puik!

AGN-atlete presteer puik!

AGN-atlete presteer puik!

Deur Lea Dirker (Graad 6)

 

Hierdie seisoen se landloop-atlete het elke oggend geoefen…  deur só hard te oefen, het ons Wouwtjies puik gevaar!

8 van ons atlete het Gauteng-Noord kleure gekry en deurgedring na die SA’S!

Op Saterdag, 17 September, gaan ons Wouwtjies in die SA-kampionskappe hardloop!

Baie sterkte aan die wat die 17de hardloop en dankie aan die wat so hard geoefen het die afgelope seisoen.  Ons is trots op julle!

MENEER MARINUS SE TOER NA SWEDE!

MENEER MARINUS SE TOER NA SWEDE!

MENEER MARINUS SE TOER NA SWEDE!

Deur Clarisé van Niekerk (Graad 6)

 

Hoe het Meneer Swede ervaar?

Swede is ‘n ongelooflike land.  Dit was interessant om te sien hoe hulle stelsels werk.

 

Watter weersomstandighede het Meneer ervaar?

Dit is die oorskakeling van winter na somer, so dit was darem nie te koud nie.  Daar was wel een dag wat dit gereën het, wat koelerig was.

 

Sal Meneer graag vir die Sweedse kinders wil skoolhou, of verkies Meneer dit in Suid-Afrika?

Ek verkies dit om vir Suid-Afrikaanse kinders skool te hou.  Hier is baie meer dissipline in ons land se skole.

 

Hoe sal Meneer hulle akademie beskryf, is ons op dieselfde akademiese standaard?

Die akademie in Swede is op ‘n baie goeie standaard.  Ons hier by Laerskool Anton van Wouw moet bevoorreg wees om in so ‘n akademiese omgewing onderig te kan word.  Ons leer, veral in wiskunde, baie dieselfde as in Swede.

 

Wat dink Meneer van Swede, sal Meneer dalk daar wil bly?

Ek glo nie ek sal in Swede kan bly nie, alhoewel ek mal is oor die rustigheid daar.  Suid-Afrikaners is meer mense-mense, lekker mense.  Ek sal ‘n gesellige braai vir niks verruil nie.

 

Watter soort kos het Meneer geëet, was dit lekker?

Ons het die eerste aand net vis geëet, Swede hou van ‘n salm.  ‘n Tradisionele kos van Swede is “meatballs”, wat verskriklik lekker is.

 

Wat was Meneer se gunsteling uitstappie, waarom?

Dit was vir my so interessant om elke dag die skool te besoek, om te sien hoe doen hulle kinders die werk, hoe die onderwysers onderrig en ook hoe hulle stelsels werk.

 

Dink Meneer die toer was lank genoeg, of sou meneer dalk langer wou bly?

Ek sou graag meer van Swede wou sien, bietjie Stockholm toe gaan en daar gaan “explore”.

 

Hoe laat moet die Sweedse personeel by die skool wees?

Die skool begin om 08:20.  Die personeel moet net opdaag vir hulle klasse, daar is geen stelsel waar die onderwysers moet rapporteer of ‘n vergadering bywoon nie.

 

Is daar iets uit die Sweedse skole wat Meneer graag sal wil inbring in ons skool?

Daar is ‘n hele paar akademiese aspekte wat mens hier kan oorweeg.  Soos bv. in die laer grade word ‘n klas in 3 groepe verdeel.  Een groep doen akademiese werk (in die skrif), die ander groep doen groot motoriese bewegings met musiek, die ander groep doen fisiese oefeninge.

 

Watter vervoermiddel gebruik die meeste kinders om by die skool te kom?

Baie van die leerders loop skool toe, want hulle bly naby die skool.  Die gr.9 leerders ry self met karre skool toe, maar die kar kan net 30km per uur ry.

 

Wat het vir Meneer uitgestaan van hulle skool?

Die leerders dra glad nie skooluniforms nie, seuns kan lang hare hê en oorbelle dra.  Die dogters mag gremering dra en hare hê wat gekleur is.

 

Sal Meneer graag weer soontoe wil gaan?

Dit was lekker om te besoek, maar ek sal nie daar wil skoolhou nie.

 

Watter ander land sal Meneer ook graag wil besoek?

Ek dink Finland of Denemarke sal ‘n ongelooflike belewenis wees.  Dit is die lande met die beste skool sisteme.

 

Was die mense in Swede vriendelik en bedagsaam?

Oor die algemeen is die Sweedse mense baie bot, totdat jy met hulle Engels praat, dan weet hulle jy is ‘n toeris en is dan baie bedagsaam en vriendelik.

 

Oor die algemeen is dit vir Meneer lekkerder in Swede, of in Suid-Afrika? Waarom?

In Suid-Afrika.  Daar is niks lekkerder as ‘n Suid-Afrikaanse sonskyndag met ‘n braaivleisvuur nie.

Wouwtjies skitter in die kollig

Wouwtjies skitter in die kollig

Wouwtjies skitter in die kollig

Deur Gisele Geldenhuys en Sandy Prinsloo (Graad 7)

 

Na vier jaar was dit weer tyd vir Wouwtjies om tydens die Revue hul talente op die verhoog uit te leef.  Na 6 weke se harde oefening en beplanning het die Wouwtjies tussen die 10de en 13de Mei die Amfi se dak gelig.  Van Lekkerland tot Wouwtjieland het ons onsself geniet en was dit ‘n geleentheid vir almal om te onthou.

 

Dit het alles begin by die naweek-oefeninge.  Elke Wouwtjie het hard saam met die choreograwe geoefen om die danse te leer.  Die Wouwtjies het ook in skooltyd geoefen om die danse ten beste uit te leef.  Tesame met die danse, het die Wouwtjies hul harte uit gesing en die ouers en personeel trots gemaak.  Die sanggroep het met hul wonderlike stemme die liedjies opgeneem.  Behalwe die gesing en gedansery, het die Wouwtjies se kostuums in die kollig geskitter.  Die kostuums is spesiaal vir elke klas en kind ontwerp en met liefde gemaak.  Te danke aan Tannie Elisma, is die Revue-opname gedoen en die foto’s geneem, waarna ons vir altyd kan verwys.

 

Die hoofkarakters het deur sewe verskillende lande gereis om hul eindbestemming te bereik.  Elke land het sy eie storie vertel en die toeskouers saam op die avontuur gevat.  Elke graad het ’n land verteenwoordig waardeur hul gereis het om op die ou einde Wouwtjieland ( wat die graad 7’s verteenwoordig het) te bereik, want Wouwtjieland is die plek waar vriende gemaak word, wat hou vir ‘n leeftyd!

 

Die 2022-Revue was ‘n reuse sukses, wat vir ewig in elke Wouwtjie se hart sal bly.  Te danke aan die personeel het hulle hierdie jaar se Revue vir ons moontlik gemaak en te danke aan hul moeite en toewyding, was dit spesiaal, prettig en beslis een vir die boeke!

Cowboys kan ook sokkie!

Cowboys kan ook sokkie!

Cowboys kan ook sokkie!

Nina Broschk (Graad 6)

 

Die opgewondenheid het aan my maagspiere gepluk terwyl ek die skoolsaal binnestap.  Die musiek het deur my lyf vibreer en die ligte het my verblind.  Kwartaal twee se ‘‘cowboys and crooks’’-sokkie het definitief die leerders stomgeslaan.  Die funky hoedens en realistiese uitrustings het my laat dink aan die cowboy-films wat ek al gesien het.  Dit was duidelik dat baie meer leerders die byeenkoms bygewoon het.  Was dit dalk die tema wat die leerders aangemoedig het om te kom dans?  Of, was dit die feit dat dit ‘n lekker manier was om te ontspan en van die druk van die komende eksamen te vergeet?  Ek is nie seker nie.

 

Daar was teepees en versierings wat aan die dak gehang het.  Die fotohoekie is versier met kartonuitknipsels van cowboys, hooi, toue en selfs ‘n perdesaal!  Die WANTED-plakkate teen die mure met foto’s van onderwysers was ook baie oulik.  Die hoekie in die saal vir foto’s, die ongelooflike atmosfeer, die musiek en natuurlik die “dance-off’ was alles hoogtepunte.  Ek moes net versigtig wees dat ek nie deur die “crooks” beroof word nie!

 

Die musiek wat deur die luidsprekers my ore laat tuit het, was net een van die redes waarom die sokkie vir my die beste een ooit was.  Dit het my so lus gemaak vir dans dat ek my maats na die dansvloer moes sleep sodat ek nie alleen hoef te dans nie.  Ek wens ek kon langer gedans het, al was ek pootuit teen nege-uur daardie aand.  Die onderwysers het ook lekker saam met die leerders gedans.  Om eerlik te wees: ons het so lekker gedans, dit het gevoel asof die vloer bewe.  Dit het vir my gelyk asof die spanning wat op die leerders se skouers was, net verdwyn het.

 

Ek is vreeslik beïndruk met die wenners van die cowboy-uitrustingkompetisie.  Hulle het duidelik ‘n hele rukkie aan hulle kostuums beplan.  Die “crooks” wat rondgehardloop het met speelgewere se kostuums was ook baie realisties.  Die drankies en lekkernye wat daar te koop was, het my mond laat water: sjokolade, burgers, koeldranke en ook skyfies.

 

Ek het saam met almal gekreun toe daar oor die luidsprekers aangekondig word dat dit ongelukkig tyd was om huis toe te gaan.  Duidelik wou niemand ophou dans nie.  Ek sien so uit om te sien watter verrassings by ons skool se volgende sokkie wag.  Een ding is seker: ons Wouwtjies ken van sokkie!