Cowboys kan ook sokkie!

Nina Broschk (Graad 6)

 

Die opgewondenheid het aan my maagspiere gepluk terwyl ek die skoolsaal binnestap.  Die musiek het deur my lyf vibreer en die ligte het my verblind.  Kwartaal twee se ‘‘cowboys and crooks’’-sokkie het definitief die leerders stomgeslaan.  Die funky hoedens en realistiese uitrustings het my laat dink aan die cowboy-films wat ek al gesien het.  Dit was duidelik dat baie meer leerders die byeenkoms bygewoon het.  Was dit dalk die tema wat die leerders aangemoedig het om te kom dans?  Of, was dit die feit dat dit ‘n lekker manier was om te ontspan en van die druk van die komende eksamen te vergeet?  Ek is nie seker nie.

 

Daar was teepees en versierings wat aan die dak gehang het.  Die fotohoekie is versier met kartonuitknipsels van cowboys, hooi, toue en selfs ‘n perdesaal!  Die WANTED-plakkate teen die mure met foto’s van onderwysers was ook baie oulik.  Die hoekie in die saal vir foto’s, die ongelooflike atmosfeer, die musiek en natuurlik die “dance-off’ was alles hoogtepunte.  Ek moes net versigtig wees dat ek nie deur die “crooks” beroof word nie!

 

Die musiek wat deur die luidsprekers my ore laat tuit het, was net een van die redes waarom die sokkie vir my die beste een ooit was.  Dit het my so lus gemaak vir dans dat ek my maats na die dansvloer moes sleep sodat ek nie alleen hoef te dans nie.  Ek wens ek kon langer gedans het, al was ek pootuit teen nege-uur daardie aand.  Die onderwysers het ook lekker saam met die leerders gedans.  Om eerlik te wees: ons het so lekker gedans, dit het gevoel asof die vloer bewe.  Dit het vir my gelyk asof die spanning wat op die leerders se skouers was, net verdwyn het.

 

Ek is vreeslik beïndruk met die wenners van die cowboy-uitrustingkompetisie.  Hulle het duidelik ‘n hele rukkie aan hulle kostuums beplan.  Die “crooks” wat rondgehardloop het met speelgewere se kostuums was ook baie realisties.  Die drankies en lekkernye wat daar te koop was, het my mond laat water: sjokolade, burgers, koeldranke en ook skyfies.

 

Ek het saam met almal gekreun toe daar oor die luidsprekers aangekondig word dat dit ongelukkig tyd was om huis toe te gaan.  Duidelik wou niemand ophou dans nie.  Ek sien so uit om te sien watter verrassings by ons skool se volgende sokkie wag.  Een ding is seker: ons Wouwtjies ken van sokkie!