Wouwtjies se harte klop-klop vir atletiek

Wouwtjies se harte klop-klop vir atletiek

Wouwtjies se harte klop-klop vir atletiek

Deur Gisele Geldenhuys en Sandy Prinsloo (Graad 7)

Na ‘n lang pandemie het die atletiek vir ‘n ruk stilgestaan, maar vroeër vanjaar het die Wouwtjies weer vinnig-vinnig die bal aan die  rol gekry en hulle het uitmuntende prestasies behaal.  Die Wouwtjies  het stof in hul opponente se oë geskop en by elke byeenkoms Anton van Wouw se naam hoog gehou.

 

Die eerste atletiekbyeenkoms van die jaar was op ons skoolvelde teen Laerskool Olienpark, Generaal Hendrik Schoeman en Laerskool Taalfees.  Alle atlete het op hierdie byeenkoms hul beste voetjie voorgesit en hul harde werk is deur hul uitsonderlike prestasies beloon. In elke afdeling, van hekkies tot aflos, en van spiesgooi tot     diskus, het elke Wouwtjie-atleet hul beste probeer en natuurlik hulself geniet.  Daar is vier van ons atlete wat die Victrix Lodorum toekenning behaal het, naamlik Megan Nieman, Simónn Hugo, Waldré van der Merwe en Christiaan Bosman.  Laerskool Anton van Wouw het hierdie atletiekbyeenkoms gewen en dit was die begin van ‘n klopdisselboom atletiekseisoen.

 

Die tyd het aangebreek vir die Cluster-byeenkoms by Hoërskool Garsfontein, waar die top-atlete van ons skool deelgeneem het.  Hulle het kliphard gewerk en al was hulle bietjie senuweagtig, het dit die atlete nie ondergekry nie.  Hulle het puik prestreer en daarom het nege atlete aan die Distrik-skolebyeenkoms op 26 Februarie deelgeneem.  Dit was nie die einde nie, want hierdie atlete het bo- gemiddeld goed presteer en daarom het vyf atlete, Adri de Beer, Megan Nieman, Waldré van der Merwe, Danielle Bam en Shiloh Snijders, aan die GISSA op 11 en 12 Maart by Pilditch deelgeneem.

 

Na ‘n fantastiese atletiekseisoen kan elke Wouwtjie net trots wees.  Hulle het deur en deur Anton van Wouw se naam hoog gehou en die vrugte van hul harde werk gepluk.  Dit is sowaar ‘n atletiekseisoen  om te onthou.

Spieëltjie, spieëltjie…

Spieëltjie, spieëltjie…

Spieëltjie, spieëltjie…

Deur Raine Smit (Graad 6)

 

Het jy al ooit gewonder watter klaskamer in die skool is die mooiste?  Dalk Juffrou Adelé se klaskamer vir leerders wat van diere hou, of dalk Juffrou Lyn se geheimsinnige sitplekkie in die hoek van haar klaskamer waar jy rustig kan lees.  Die onderwysers van Laerskool Anton van Wouw doen só ongelooflik baie moeite om hulle klaskamers mooi en treffend te maak dat dit amper ontmoontlik is om te besluit watter klaskamer die mooiste is.  Meneer Marinus se klaskamer ruik altyd soos lekker koffie en jy voel dadelik tuis wanneer jy instap.  Daardie “café” gevoel laat my sommer opgewonde raak oor Wiskunde!

 

Juffrou Lize-Maríe Swart se pragtige geverfde deur wat lyk soos ʼn klavier wys dat sy baie lief vir musiek is en maak haar klaskamer uniek.

 

Die lys hou nooit op nie omdat Laerskool Anton van Wouw se onderwysers soveel passie het vir hulle klaskamers!  Dit sal interessant wees om te hoor watter klaskamer julle Wouwtjies dink die mooiste is!

SKOKVERSLAG: SA kinders kan nie lees – gryp só self in.

SKOKVERSLAG: SA kinders kan nie lees – gryp só self in.

SKOKVERSLAG: SA kinders kan nie lees – gryp só self in.

Deur Lindsay de Freitas | 5 Januarie 2018 | Uitgawe 11 Januarie 2018

Moenie druk op jou kind uitoefen om op ‘n meer gevorderde vlak te lees as waarmee hulle gemaklik is nie.

Volgens ‘n nuwe verslag kan amper 8 uit 10 gr. 4’s in SA nie behoorlik lees nie. Wat is die redes hiervoor, en wat kan ouers doen?

Die rapport het einde verlede jaar gekom en dit was skokkend en teleurstellend; trouens, ‘n volslae ramp.

Dis dalk ‘n skrale troos, maar dit was nie net jou bloedjie wat sleg gevaar het nie – ongelukkig het ‘n groot klomp van die land se leerders, onderwysers en onderrigmetodes nie die mas opgekom nie. Of dit is altans wat in ‘n nuwe verslag aangevoer word.

‘n Volle 78% van die gr. 4-leerders in Suid-Afrika kan nie behoorlik lees nie, wys die uitslag van die Progress in International Reading Literacy Study (Pirls) oor kinders se geletterdheidsvlakke wêreldwys. En om sout in die wonde te vryf het ons kinders die heel swakste gevaar van die 50 lande waar leerders se leesvermoë gemeet is.

Die toppresteerders was leerders van Singapoer, die Russiese Federasie en Noord-Ierland.

Toe navorsers aan die Universiteit van Pretoria se sentrum vir evaluering en assessering (Sea) die plaaslike toetse vir Pirls uitvoer, is elke kind beoordeel in die taal waarin hulle die gemaklikste is. Maar steeds kon byna agt uit 10 gr. 4-leerders nie verstaan wat hulle lees nie – as hulle hoegenaamd individuele woorde kon uitpluis.

  • As jy nie kan lees nie, gaan jou geleenthede op en ná skool beperk wees.

Die kommerwekkende uitslag het ‘n vurige debat onder plaaslike onderwyskenners ontketen oor die redes vir ons land se swak prestasie, maar oor een ding is almal dit eens: Dit is verpletterende nuus.

“Die vermoë om te lees is die sleutel tot akademiese en toekomstige sukses,” sê Celeste Combrinck, Sea se waarnemende direkteur.

“As jy nie kan lees nie, gaan jou geleenthede op en ná skool beperk wees,” verduidelik sy. Sommige kenners meen uit die skokkende uitslag blyk dit gr. R- tot gr. 3-onderwysers weet nie hoe om kinders te leer lees nie.

“Leesmetodes is wisselvallig of onvolgoende en die grondslagvaardighede word nie in die eerste skooljare behoorlik vasgelê nie,” verduidelik Melanie Hartgill, ‘n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg.

“Daar is baie papegaaileerwerk, waar van die hele klas verwag word om dieselfde goed saam agter die onderwyser aan te herhaal, maar hulle kan nie onafhanklik lees nie.”

Erine Botha, ‘n leesteratpeut by ‘n Kaapstadse tak van die Tina Cowley-leessentrum, glo hierdie problem vat al lank voor die gr. 4-jaar pos.

“Daar word te veel op assessering gekonsentreer pleks van op die ontwikkeling van vaardighede en behoorlik onderrig, veral in gr. 1,” sê sy.

HOE WEET EK MY KIND IS OP KOERS?

Melanie raai ouers aan om te sog dat hul kinders die volgende geletterdheidsvlakke onder die knie het aan die einde van hul eerste skooljaar en teen die tyd dat hulle  gr. 4 bereik:

Graad R

Aan die einde van die jaar moet jou kind die basiese kleure ken, die alfabet kan opsê, die name en klanke van letters ken, hul eie naam in skrif herken, weet hoe om ‘n boek reg vas te hou, weet dat ‘n mens van links na regs lees en ‘n belangstelling in boeke toon.

  • Laat hulle hul naam op papier, ‘n bord, in die sand of met magnetiese letters skryf.
  • Lees vir en saam met jou kind.
  • Volg aan die begin die woorde met jou vinger sodat hulle verstaan hoe ‘n mens lees en dat wat jy sê verband hou met die letters op die blad.
  • Moedig hulle aan om oor prentjies in boeke te praat en vra hulle om te voorspel wat volgende in die storie gaan gebeur.

 

 Graad 4

Aan die einde van die jaar moet kinders selfversekerde, gevorderde lesers wees.

  • Hulle moet stamwoorde (oftewel woorde wat die basis vir ander woorde vorm, soos “slaap” in “verslaap”), konteksleidrade (soek leidrade in omliggende teks en foto’s in die storie) en woordeindes (algemene agtervoegsels soos ”-ing” in “bedoeling” en “-lik” in “wenslik”) kan gebruik om nuwe woorde uitte pluis.
  • Hulle moet ‘n uur lank op hul eie kan lees en skryf. Hulle moet ook al self ‘n woordeboek, ‘n ensiklopedie, die biblioteek en die internet kan raadpleeg.
  • Hulle moet die teks verstaan en ook die hoofpunte kan uitlig om die vir ‘n opstel of mondeling te gebruik.

 

HOE KAN OUERS INGRYP?

WENKE VIR BESIGE OUERS

Laat ouer broers of susters of ‘n grootouer vir jou kind lees.

  • Speel oudioboeke in die motor of tuis.
  • Lees elke aand ‘n boek saam met hulle.
  • Word lid van plaaslike biblioteek en laat hulle gereeld daar boeke uitneem.
  • Laat hulle by leesgroepe of -kringe in biblioteke aansluit.
  • Skryf jou kind vir ‘n professionele leesprogram in soos wat landwyd by die Tina Cowley-sentrum aangebied word, sê die leesteratpeut Erine Botha. Leesprogramme is ook in Afrikaans beskikbaar.

 

Ouers van gr. R-kinders moet hulle aanmoedig om oor prentjies in boeke te

praat en hulle vra om te voorspel wat volgende in die storie gaan gebreur.

 

LEER SPEEL-SPEEL LEES MET APPS

DIERETUINPRET

Gratis op Android Dié oulike app leer jou kind die alfabet en hoe om klanke en letters te herken. Kinders kan die storie self op die app lees of dit kan vir hulle voorgelees word.

Met kleurryke prente en prettige geluide bied die app vermaak vir kinders terwyl hulle leer lees.

 

LEES

Gratis op Android Die app leer kinders nie net op ‘n interessante manier lees nie; dit toets ook hoeveel hulle onthou van wat hulle gesien en of hulle verstaan wat hulle gelees het, moet hulle drie vrae daaroor beantwoord om na die volgende vlak te vorder.

 

SPEL PRET IN AFRIKAANS

Hierdie app het sowat 500 woorde wat volgens hul lengte in verskillende groepe verdeel is. Eers verskyn byvoorbeeld ‘n prentjie van ‘n kalf en dan kry die kind leidrade oor hoe om dit te spel. Ná elke groep woorde is ‘n verslag beskikbaar.Op iOS (R49.99) en Android (R29.99).

 

LEES SO SAAM MET JOU KIND

VOOR JULLE BEGIN LEES

  • Kies ‘n boek wat jy en jou kind albei sal geniet.
  • Kies stories met interessante karakters en goeie dialoog.
  • Skep ‘n ontspanne atmosfeer.

 

AS JY HARDOP LEES

  • Lees stadig en duidelik, maar natuurlik.
  • Skep atmosfeer deur die volume en toonhoogte van jou stem te verander.
  • Gebruik humor en lag by die snaakse dele.
  • Moedig vrae en besprekings aan. Deel persoonlike gedagtes oor die foto’s en storie.
  • Bied ekstra inligting en verduidelik sleutelkonsepte en nuwe woorde sonder om die storie te bederf.

 

 

NADAT JY VOORGELEES HET

  • Vra die kind ‘n paar vrae oor die storie. Doen dit gemoedelik.
  • Moedig die kind aan om vrae te vra.
  • Laat die kind die storie vir jou opsom.
  • Laat die storie aansluit by iets wat jou kind ervaar het.
  • Deel persoonlike voor- en afkeure en emosionele reaksies op die storie.

 

DIT IS TABOE:

  • Moenie lees ‘n taak maak waaraan elke dag ‘n vaste tyd afgestaan moet word nie.
  • Moenie jou kinders volgens hul leesvermoë oordeel en dit dan deur jou houding en gedrag aan hulle oordra nie.
  • Moenie druk op jou kind uitoefen om op ‘n meer gevorderde vlak te lees as waarmee hulle gemaklik is nie.
  • Moet nooit jou kind om koop om te lees nie.

 

SIG EN LEERPROBLEME

Kinders se oë moet getoets word voor hulle met gr. R begin en weer in gr. 1 en 2, is Melanie se raad. As dit nie by die skool gedoen word nie, moet ouers self hul kind se oë laat toets.

“Visuele probleme met lees gaan oor meer as bloot of die kind kan sien – hulle moet ‘n reël ook behoorlik met hul oë kan volg en skadeer.”

Vroeë tekens van disleksie kan al in gr. R bespeur word, sê Melanie, maar ‘n formele diagnose kan van gr. 2 af gemaak word as die kind nie op enige ingrypings goed gereageer het nie.

7y: Dié klas met die meeste gees!

7y: Dié klas met die meeste gees!

7y: Dié klas met die meeste gees!

Deur Zoe Louw (Graad 7)

 

7y is bekend vir al die opwindende grappe, planne, partytjies en vreemde vriendskappe.  Met die einde van n jaar naby, kyk ons na ‘n paar van elke kwartaal se gunsteling herinneringe.

 

Kwartaal 1

7y gloei altyd met gees, op Kaskardag het hulle met snaakse klere gekom en tydens die resies het die klas in die verkeerde rigting gery.  Die bestuurders het probeer om hulle te help, maar het vining moed opgegee.  Met al die opwinding wat hulle geskep het, het hulle ook die meeste lawaai gemaak.

 

Kwartaal 2

Met nóg ‘n kompetiese in die oog, het 7y besluit hulle gaan ’n impak maak met die swemgala (let wel, die klas is nie die beste swemmers nie).  Die geweer word geskiet en die gala begin.  Hulle swem vryslag vir die eerste keer, maar toe hulle omdraai, was dit iets uniek.  Hulle padda-slag terug!  Hulle het ook twee ondersteuners gehad wat enduit geskree het.  Hulle het so lank gevat, dat die res van die spanne moes gewag het.

 

Kwartaal 3

Kwartaal 3 was vir 7Y die opwindendste kwartaal.  Die laaste dag het die klas geld ingesamel en Starbucks gekoop, en hulle het so lekker gelag vir al die grappe wat vertel is.

 

Kwartaal 4

Mnr. Reggie is verras op sy verjaarsdag met die grootste klaspartytjie wat die skool nóg gesien het.  Daar was so baie ballonne.  Alhoewel die “verrassing” deel nie so mooi uitgewerk het nie, was dit nog steeds ‘n onvergeetlike partytjie.

 

Die klas sien uit na hulle nuwe skole, maar weet dat, diep binne, hierdie klas ‘n pernamente merk in hulle harte gelos het.

Die Gees was nooit weg nie

Die Gees was nooit weg nie

Die Gees was nooit weg nie

Deur Meaghan Lamprecht (Graad 6)

 

Gee my ‘n G-E-E-S… wat ‘n wonderlike ervaring was dit om ‘n dirigent te kon wees

by Laerskool Anton van Wouw se huissport!

 

Ek was deel van die Klipspringers se dirigente-span en dit was ons werk om die Klippies by die huissport ‘gees’ te gee.  In die begin moes ons om die rugbyveld hardloop, span per span, wanneer dit ons beurt was.  Ons het daarna krete gesing, gelag en die atlete aangemoedig as hul deelgeneem het aan die 100 m, hoogspring, verspring, gewigstoot en hekkies.  Ons het leerlinge wat op die paviljoen gesit het, kort-kort natgespuit met watergewere en nou en dan lekkers en ysies in die skare gegooi.  Die gees van die Klippies-span was ongelooflik!

 

Ek is so dankbaar om die geleentheid te kon hê om ‘n dirigent te wees met die huissport, dit is ‘n herinnering wat ek nooit sal vergeet nie.  Daai dag het ek so gesing en geskreeu,

dat my stem skoon weg was.  Al het ons tweede plek behaal en nie die “Geesbeker” gewen nie, dink ek in my hart ons was wenners!

 

Ek is trots om deel van die Klippies-span te wees en wil net dankie sê vir elke leerling wat die atlete so uit hulle harte aangemoedig het!