Ons eerste revue-oefening

Ons eerste revue-oefening

Ons eerste revue-oefening

Deur Linda du Plessis en Nika van Rooyen (Graad 6)

 

Die naweek van 26-27 Februarie 2022 was dit elke Wouwtjie se eerste revue-oefening.  Meer spesifiek, 11:00 was dit graad 6Z se beurt! Stewel en gespoor met oefenklere en tekkies en bewapen met ‘n reuse waterbottel, het ek die stryd betree.  Toe ek uit die kar klim by die rugbyveldhek, het ek onmiddellik geweet hierdie gaan nie ‘n gewone dag wees nie.  Die kombinasie van pure opgewondendheid en so bietjie onsekerheid het gehang in die lug soos die geur van warm pannekoek op ‘n koue dag.

 

Spoedig het Juffrou Mariàn ons kom haal en na ons oefenplek geneem.  Daar het ons vir mnr. Danie ontmoet.  Hy is die choreograaf wat ons klas se danspassies vir ons sou leer.  Nie lank nie, en met polsende musiek in die agtergrond, het ons die eerste bewegings van ons dans geleer.  Dit was makliker gesê as gedaan!  Die eerste paar keer het ons maar lomp gevoel – en meer as een van ons het oor ons eie voete geval!  Met baie geduld en uitstekende lesse van mnr. Danie, was ons reg om ons eie oefentyd aan te pak.  Dit het darem nie te sleg afgeloop nie.

 

Na amper twee ure se oefening, het ons sessie tot ‘n einde gekom.  Hierdie moeë, maar baie gelukkige Wouwtjie het teruggestrompel na die rugbyveldhek om opgelaai te word.

 

Toe ek daardie aand in die bed klim (effe styf van die dag se oefening!), het ek geweet ek gaan sommer ‘n barshou slaap.  En kort voor lank, terwyl ek nog wonder oor wat die revue vir ons gaan inhou, het ek so stil-stil droomland besoek…

Toastmasters

Toastmasters

Toastmasters

Nina Broschk (Graad 6)

 

Wat het ‘n vrees vir hansworse, ‘n wêreld wat nét uit sjokolade bestaan, ‘n haat vir die son en honde wat in oliebolle verander, in gemeen? Hierdie was alles onderwerpe van praatjies by die Internasionale Toastmasters-kursus wat ’n groep graad ses- en sewe leerders onlangs bygewoon het.  Ja-nee.  Sport is nie die enigste ding wat deur ons Wouwtjies se bloed vloei nie.  Toastmasters het nou ook ’n plek tussen al ons sportrekords.  Ons organiseerders, mee. Naudé en Bowker, en ons aanbieder, meneer Flint, sê dit was die grootste Wouwtjie-groep tot op hede wat vir die kursus ingeskryf het.

 

Toastmasters gee ’n Wouwtjie se toespraak-talent die kans om die lig te sien.  Nou het ons geen verskoning meer om nie op ‘n verhoog te staan en met ons woorde te spog nie.  G’n wonder die banket waar ons moes demonstreer wat ons geleer het, was so ‘n groot sukses nie. Daar is baie gelag en gespot met woorde.  Ek het nie ’n idee gehad dat party van die leerders wat ek al so lank ken, só ’n goeie humorsin het nie.

 

By Toastmasters het ons hope wyses geleer om meer gebruik te maak van ons lyftaal, hoe om onvoorbereide- en voorbereide toesprake te lewer, formele- en informele heildronke in te stel, en natuurlik, hoe om ʼn bietjie humor by ons praatjies in te wriemel.

 

Ek het al baie praatjies gehoor, maar niks kom naby die Toastmasters-praatjies wat ek tydens die kursus gehoor het nie.  Die beste van alles, was om te sien hoe ons met elke sessie verbeter en met meer selfvertroue ons woord doen.  As jy ’n Toastmaster Wouwtjie se liggaamstaal en stemtoon aan die begin van die kursus met daardie einste Wouwtjie s’n by die banket moes vergelyk, sou jy skaars jou ore en oë kon glo!  Dit boonop alles in Engels.  Maar die heel lekkerste vir my was om al die interessante onderwerpe aan te hoor: If my drawings came to life; Why I love detention; Dreams; If I could control the solar system; I woke up in a video game…  en vele meer. Net nóg ’n rede waarom Toastmasters ‘n reuse sukses was!

 

So, as jy praatjies wil lewer asof jy dit al vir jare doen én jou Engels verbeter, is Toastmasters net die ding vir jou.  In die woorde van Shakespeare: “All the world’s a stage.’’

PA – ONDERWYSER ÓF ONDERWYSER – PA

PA – ONDERWYSER ÓF ONDERWYSER – PA

PA – ONDERWYSER ÓF ONDERWYSER – PA

Deur Nika van Rooyen en Linda du Plessis (Graad 6)

 

Jou pa is ‘n onderwyser by jou skool – hoe voel dit, vra almal?  Mmmm…  laat ek dink.  Somtyds baie ongemaklik!

 

Eendag in die klas vra my pa (mnr.) vir my: “Waar is jou huiswerk?”

Ek: Uhm, ek kry dit nie in my tas nie, Mnr.

Pa (mnr.): Wel, dan kry jy nul!

Ek: Maar Mnr. het my gisteraand daarmee gehelp, Mnr. weet ek het dit gedoen!

Pa (mnr.): Jou pa weet dit, maar nie jou onderwyser nie.

Ag tog!!

 

Dit het ook soms voordele om saam met jou pa werk toe te kom elke dag.  Ek is nooit laat vir skool nie!  Ek ry elke oggend saam met my pa en hy moet altyd douvoordag daar wees.  In die winter is dit nie altyd so lekker nie.  Mens voel nogal veilig omdat hy daar is, alhoewel ek hom onder geen omstandighede by die personeelkamer mag pla nie.  As jy vergeet het wat jy moet doen in ‘n ander vak, kan jy jou pa vra om onderwyser te “whatsapp”.  Dit het al ‘n paar keer my bas gered!

 

Jy kan egter nie altyd jouself wees nie.  Ek het nogal baie persoonlikheid (om dit mooi te stel) en my pa sal my vinnig op my plek sit.  Ek kan ook nooit kattekwaad aanvang nie – dit sal gou by my pa se ore uitkom.  Gelukkig is meeste van die personeel redelik genadig met my.  Dit is tóg ook ‘n probleem.  Die feit dat die hele personeel jou ken en dikwels van al jou persoonlike dingetjies weet.  My pa vertel graag van my lawwe sêgoed en die interessante dinge wat in ons huis gebeur.  Soms sommer voor my!!  Vrééslik vernederend!

 

Die ander mansonderwysers by die skool terg my aanhoudend.  Ek kan nie by een van hulle verbystap sonder dat hulle my siel uittrek nie.  Ek weet dis net grappies, maar ek moet sê, as ek stilletjies ‘n ompad kan stap, dan doen ek dit.

 

Ek kan ook nooit my toetspunte wegsteek vir my ouers nie.  My pa weet gewoonlik hoe ek gevaar het voordat ek weet…  mens sou dink my dierbare onderwysers sal my privaatheid respekteer!

 

Ek moet sê dit help dat my pa ‘n geliefde en gerespekteerde onderwyser is by my skool.  Hy ken al my maatjies, kan nogal kwaai wees, maar is net so gou om ‘n grappie te maak.  Hy is my veilige hawe by die skool en ek is mal oor my Meneer-pa!!

Meneer Jeandré Jones

Meneer Jeandré Jones

Meneer Jeandré Jones

Deur Zanika Kruger (Graad 6)

 

Mnr. Jeandré was verbonde aan Laerskool Anton van Wouw vanaf 2016 tot Februarie 2022.

 

Die eerste vak wat hy gegee het, was Afrikaans.

 

Hoe mnr. hier begin het as onderwyser, was dat hy rugby afgerig het en toe besef hy dat hy baie daarvan hou om kinders te leer.  Hy het toe daar besluit om onderwys te gaan studeer.  Hy het toe assistent-onderwyser by Laerskool Anton van Wouw geword.

 

Sy eerste werk was by Ubaru, wat ‘n landbou organisasie is.  Sy gunsteling vak as onderwyser was Sosiale Wetenskap vir Graad 6.  Hy het nie geweet watter vak hy sou gee nie en was baie bly toe dit Sosiale Wetenskap is.  Hy het die vak baie geniet en baie interessant gemaak vir die kinders.

 

Mnr Jeandré se gunsteling vak op skool was Siviele Ingenieurswese en Toerisme.  Die graad wat hy die meeste geniet het tydens sy skoolloopbaan, was Graad 12 (Matriek).

 

Alhoewel Mnr. altyd gesê het: “Julle moet lees!”  was hy self nie mal oor lees nie.  Hy het net altyd die sportblaaie gelees.  Die vakke waarvan Mnr. glad nie gehou het nie, was Wiskunde en Lewensvaardigheid.

 

Ongelukkig het hy ‘n beter pos gekry en die onderwys verlaat, om sy loopbaan buite onderwys voort te sit.

 

Mnr. Jeandré word baie gemis op alle gebiede.

Die Anton van Wouw sokkie 2022

Die Anton van Wouw sokkie 2022

Die Anton van Wouw sokkie 2022

Deur Ingrid Potgieter (Graad 7)

 

MAMMA MIA!  Dis waar wat hulle sê: “Wouwtjies kan woeker…  Veral op die dansvloer.”  Ja, jy’t reg geraai.  Die dansvloer waarop die eerste sokkie van 2022 gehou is.  Die héél eerste sokkie na Covid-grendeltyd.  Vanaf die oomblik wat jy uit die motor geklim het, kon jy musiek hoor wat veraf speel.  Spatsels kleur het verskyn soos die Wouwtjies een vir een by die eerste sokkie opgedaag het in hulle pragtige uitrustings.

 

Die gelag van kinders het weergalm deur die skool en die lug was gevul met opwinding.  Almal het hulle “danshare” gedra en was gereed om hulle gate uit te geniet.  Soos die son gesak het in die weste, het die veelkleurige, flikkerende ligte van die verhoog af begin skyn. Híérdie was ʼn sokkie wat die Wouwtjies nie sommer  sal vergeet nie!

 

Maar…  “wat is ʼn goeie danssessie sonder ʼn  versnapering?  Natuurlik was daar ook heerlike Spur Burgers en Pizza.  Met hope verwagting, vol mae en ʼn onblusbare danslus was die Wouwtjies weer aan die gang.  Ons het die aand omgedans op die maat van moderne musiek en nie ʼn oomblik gemors nie.  Daar was ook interessante danspassies en uitrustings wat almal se asem weggeslaan het…”  Natuurlik was daar ook ʼn danskompetisie tussen die seuns en dogters (ons almal weet wie het gewen) en ander kompetisies, insluitende: die persoon met die beste dansbewegings en die persoon met die mooiste uitrusting.

 

Die musiek was uitstekend en al die kinders het hulle litte los geskud!  Later die aand het seuns en dogters saam gedans en oulike sokkie-danspassies uitgevoer.  Daardie aand kon almal huis toe gaan en dink aan hulle wonderlike belewenis hier in Wouwtjieland.  Ek is seker al die Wouwtjies stem saam dat díé geleentheid baie spesiaal en indrukwekkend was.  Ons sal dit elkeen onthou.  Dit is ʼn herrinering wat elke Wouwtjie in sy/haar hart kan hou as hulle eendag Wouwtjieland verlaat.

 

So, ek herhaal…  MAMMA MIA!  Die Wouwtjies kan woeker, veral op die dansvloer…