Die ligtoring

Die ligtoring

DIE LIGTORING

Deur Zanika Kruger (Graad 6)

 

In Natuurwetenskap en Tegnoloige het die graad 6’e ‘n opdrag gekry om ‘n ligtoring te bou.

 

Daar is baie bespiegel oor hoe die torings moet lyk.  Elke klas is in groepe ingedeel en juffrou Mart-Marie het aan ons verduidelik hoe ons te werk moet gaan.  Sy het ook vir ons ‘n lysie gegee van alles wat ons nodig gaan kry om die torings te bou.

 

Die groepe het bymekaar gekom en bespreek hoe hulle te werk sal gaan en wat elke leerder moet bring.  Elkeen moes sorg dat die items waarvoor hy verantwoordelik is, die dag by die skool is wanneer daar met die projek begin word.

 

Die dag breek aan en die bouery begin.  Dit was bietjie deurmekaar en alles is vinnig uitsorteer.  Daar is toe besluit met watter deel van die toring ons gaan begin en wie bou watter deel. Die ligtoring se ligte moes skyn.  Dit was ‘n uitdaging, maar gelukkig het almal dit reggekry.  Juffrou het so hier en daar gehelp en raad gegee.

 

Die toring is geverf en afgerond om soos ‘n werklike ligtoring te lyk.  Die platform waarop die toring gestaan het, moes geverf word om die illusie van die see te skep.

 

Die dag van die toets het aangebreek.  Almal was senuweeagtig.  Gaan die ligte skyn…  of nie?

 

HOERA!!  Die ligte skyn en nou kan  ons ontspan!

Markdag

Markdag

Markdag

Deur Chanté Stremmelaar en Ingrid Potgieter (Graad 7)

 

Die klok lui.  Almal hardloop vining na hulle klasse toe.  Die tyd moet nou gou verbygaan.  Almal sit geduldig en haal nie hul oë van die horlosie teen die muur af nie.  Dis uiteindelik die dag wat almal voor gewag het.  Dis Markdag!  Uiteindelik slaan die klok agtuur en met ‘n stroom kom almal aan.  Die reuk van lekkernye en “Boba”-tee vul die lug soos wat die graad een tot sesse uit die klasse uit stroom.  Kleurspatsels en vriendelike gesigte is te siene rondom die swembad en saal.

 

Markdag word eenkeer ‘n jaar tydens kwartaal drie aangebied en dit is ‘n hoogtepunt van die jaar.  Dit word as assessering aangebied vir die graad sewes vir hul EBW (Ekonomiese Bestuurswetenskap) punte en daarby baat die graad een tot sesse deur hul sakgeld te bring en die graad sewes te ondersteun deur ‘n paar oulike goedjies te koop.  Die graad sewes berei al weke voor vir hierdie dag om als eksie perfeksie te kry.

 

Dis nie net die stalletjie wat hulle moet voorberei nie, maar ook ‘n markplan.  Hierdie markplan bestaan uit ‘n doelwitlys, ‘n uitgawestaat, advertensie en ‘n inkomstestaat, met die wins of verlies wat hulle gemaak het.  By die mark was daar verskeie produkte, soos handgeverfte dra-sakke tot ‘n karwrak waarop jy al jou woede kon uitslaan.  Daar was ook klomp juwele, speletjies en heerlike kossoorte te koop.

 

Na ‘n lang twee, ure is voete seer en beursies leeg.  Die klok lui en almal beweeg weer klasse toe.  So kom die graad sewes van 2022 se markdag tot ‘n einde, net soos alle ander goeie dinge.

 

VEREFEES 2022

VEREFEES 2022

VEREFEES 2022

Deur Nika van Rooyen en Linda du Plessis (Graad 6)

 

Ai, ai die vere het gewaai

die hokke so alte fraai

Heerlik het almal gebraai

en die kinders het hoog geswaai!

 

Soos elke jaar, het die leerders en ouers van Laerskool Anton van Wouw met groot opgewondenheid uitgesien na die Verefees.  Die doel van die heerlike geleentheid is natuurlik om fondse in te samel vir die skool.  Die pragtige infrastruktuur, tuine en puik onderwysers kom nie gratis nie.

 

Vir die gemeenskap is dit egter meer ‘n prettige partytjie van vroeg tot laat.  Verefees 2022 het beslis niemand teleurgestel nie.  Dit is die twintigste keer wat die feestelike saamkuier aangebied is en elke jaar is dit ‘n groot sukses.

 

Die Wouwtjies kon nie wag om die pretritte aan te durf nie.  Dit is vir die kinders die heel lekkerste lekker van die Verefees.  Daar is dikwels lang rye kinders wat geduldig wag vir hul gunsteling inspuiting van adrenalien!  Baie ridders het hard geval tydens hul stryd met die meganiese bul, terwyl ander dapper, met hul ogies styf toegeknyp, by die monsterglybaan afgegaan het.

 

Soos altyd, het die ouers saamgekuier tot laat, die lekker musiek geniet en met tye ‘n danspassie of twee uitgekap.  Met die veiling het vrygewige ouers gebie op goed wat hulle nie regtig nodig het nie, net vir die skool se onthalwe.

 

Daar is so baie mense wat gehelp het, skenkings gemaak het en hard gewerk het om die Verefees van 2022 moontlik te maak.  Ons, as Wouwtjies, kan nie genoeg dankie sê nie.  Ek bedoel, watter Wouwtjie hou nie daarvan om op die skoolgronde mal te gaan nie!

 

Ons skud alreeds ons vere reg vir volgende jaar.

 

Lank lewe die Verefees!

GRAAD 7 BEROEPE-DAG…

GRAAD 7 BEROEPE-DAG…

GRAAD 7 BEROEPE-DAG…

Deur Clarisé van Niekerk (Graad 6)

 

Op die 31ste Augustus, stap ek by die skool in en skielik sien ek ‘n nuwe juffrou…

 

Ek stap verder en sien ‘n dokter, argitek en ‘n klomp perderuiters.  Skielik wonder ek of ek op die regte plek is.  Dan besef ek dis beroepe-dag vir ons graad 7’s.

 

Vroegoggend het ek met ‘n paar graad 7’s gaan praat, naamlik: Hatie Dippenaar, Demi Roets en Isa-Marié Bezuidenhout.  Hatie se droom is om ‘n neurochirurg te word.  Demi en Isa-Marie wil graag perderuiters word.  Ek ontmoet ook ‘n aspirant veearts, ‘n argitek en prokureur.

 

Alhoewel ons weet dat daar nog baie water in die see moet loop voordat hierdie graad 7’s se drome sal kan realiseer, is ek van mening dat ons toekoms verseker in baie goeie hande is!

 

Ek het wel nog gehoop om ‘n ruimtevaarder, argeoloog en selfs ‘n president raak te loop!  Ek wil beslis nog baie weet van Mars en Jupiter en wil verseker nog lees oor nuwe argeologiese ontdekkings.  Wat belangrik is, is dat elke beroep en die uniekheid daarvan, nodig is in ons sameweling en dat elkeen ‘n bydrae maak.

 

Ek wonder wat my beroep eendag sal wees en wat ek volgende jaar gaan aantrek vir my graad 7 beroepe-dag.

 

Welgedaan, graad 7’s!  Julle het ons verseker aan die dink gesit, maar ook opgewonde gemaak oor ‘n toekoms met soveel moontlikhede wat voorlê.  Mag julle elkeen se beroepsdroom waar word!

Tafels en stoele kry weer ‘n nuwe lewe by Banareng Laerskool

Tafels en stoele kry weer ‘n nuwe lewe by Banareng Laerskool

Tafels en stoele kry weer ‘n nuwe lewe by Banareng Laerskool

Deur Kiki Butler (Graad 7)

 

Op Donderdag 4 Augustus 2022, is die Banareng Laerskool in Atteridgeville besoek.  Die kuier aan die skool het alle verwagtinge oorskry.  Ons is met warm harte, oop arms en vriendelike gesigte ontvang.

 

Laerskool Anton van Wouw het sy oorskot bruikbare tafels en stoele geskenk, sodat ander wat daarvoor nut het, daarby kan baat vind.  Ons flukse Wouwtjie-familie het saamgery en gehelp met die aflaai daarvan.

 

Ons is later die oggend uitgenooi om deel te wees van die opskep en bediening van hulle kospakkie-program.

 

Ons het ook die geleentheid gehad om in ‘n skeppende kunste-klas Vader Jacob, of alombekend “Bana ba sekolo”, te sing.  Hulle vrolikheid het uit-en-uit vir my baie beteken.

Vir my het baie dinge uitgestaan, naamlik: die respek wat die skoliere, onderwysers en hulle skoolhoof aan ons getoon het.  Hulle dankbaarheid het ‘n afdruk in my hart gelaat en my weer opnuut laat besef dat ons elke dag al ons baie seëninge moet tel.

Die grootste blywende indruk, was die besef dat elke kind net soos ek wil hard werk, sy of haar potensiaal wil bereik en droom om eendag suksesvol te wees.

 

Ek is hoopvol, want saam kan ons as reënboognasie staan en is dit moontlik om saam te droom oor ‘n kleurvolle Suid-Afrika.

 

Dit was een van die grootste voorregte vir my om Banareng Laerskool te besoek en deel te wees om ander se harte te kon bly maak.  Baie dankie vir die geleentheid.