Wouwtjies leer Sepedi

Wouwtjies leer Sepedi

Wouwtjies leer Sepedi

Deur Kay-Lee McDonald (Graad 7)

 

Hier by Laerskool Anton van Wouw praat ons nie net Afrikaans en Engels nie!  Sedert Graad 1, leer ons ook ‘n derde taal aan, naamlik Sepedi.

 

Om met mense in hul eie taal te kan kommunikeer, is ‘n wonderlike manier om te wys dat jy ander respekteer en hulle belange op die hart dra!  Sepedi is een van Suid-Afrika se elf amptelike tale en word deur 9.1% van alle Suid-Afrikaners gepraat.

 

Hierdie klasse in Sepedi word deur ons eie, passievolle juffrou Lize Wilken aangebied en sy kwyt haar werklik uistekend van haar taak!  Die leerders geniet dit besonder baie.

 

Aanvanklik word daar met die aanleer van basiese woorde begin, soos byvoorbeeld: kat-katse, olifant-tllou, tamatie-tamati, huis-ntlo.  Daarna begin die leerders sinne en frases praat deur dit van die klas se dataprojektor af te lees.  Daar word elke dag kliphard geoefen, want die uitspraak en tempo is baie belangrik tydens die praat van Sepedi.

 

Ons is so trots op al die Wouwtjies wat wys dat Sepedi sommer groot pret is!

 

Totsiens, gaan wel, “Sepela gabotse!”

Wouwtjie Kunstefees 2021!

Wouwtjie Kunstefees 2021!

Wouwtjie Kunstefees 2021

Deur Meaghan Lamprecht (Graad 6)

 

Is jy gereed om jou kreatiewe kant te wys?

 

Dit is weer tyd vir die gewilde Wouwtjie Kunstefees waar ons as Wouwtjies met ons talente kan spog!  Daar is soveel kategorieë om van te kies.  Vermaak die beoordeelaars met jou unieke danspassies, of kom sing jou hart uit!  Wie weet?  Dalk is die volgende Johnny Clegg of Karen Zoid in ons skool!  In Laerskool Anton van Wouw is daar ook heelwat talentvolle leerders wat hul instrumente op die kunstefees kom bespeel.

 

My gunsteling kategorie is tafeldek.  Ek geniet dit om my kreatiwiteit op ‘n tafel uit te leef, net soos die beroemde Nataniël.  Dan is daar natuurlik ook ‘n afdeling vir blommerangskikking, wat ook hope pret is!  Ek is baie nuuskierig om uit te vind wat hierdie jaar se tema vir die Wouwtjie Kunstefees gaan wees.  Dalk “Take of the mask” of “Goeie Herinneringe”?

 

Ons sien uit om al julle talente op die Wouwtjie Kunstefees te waardeer en te geniet!

‘n Blink toekoms vir Afrikaans!

‘n Blink toekoms vir Afrikaans!

’n Blink toekoms vir Afrikaans!

Deur Chanté Stremmelaar en Kiki Butler (Graad 6)

 

Juffrou Sarika Eybers is een van drie sussies en het grootgeword in Louis Trichardt, Limpopo.  Sy was in Laerskool- en Hoërskool Louis Trichardt.  Tans is sy ‘n student wat onderwys studeer aan die Universiteit van Pretoria.

 

Haar passie om kinders te help het haar geïnspireer om ‘n onderwyseres te word.  Sy wou nog altyd hierdie beroep beoefen, maar in haar laaste twee jare op hoërskool het sy daaroor begin twyfel en wou eerder verpleegkunde studeer.  ‘n Juffrou wat met soveel liefde en passie vir haar Afrikaans aangebied het in Graad 12, het Juffrou Sarika gemotiveer om onderwys te studeer.  Behalwe vir Afrikaans as vak, studeer sy ook kuns en musiek!

 

Juffrou Sarika het in Afrikaans (Graad 6) geproef tydens die tweede kwartaal.  Sy het Laerskool Anton van Wouw baie goed ervaar en volgens haar is die kinders besonder oulik en die onderwysers behulpsaam en verwelkomend!  Ons is baie dankbaar dat juffrou Sarika haar tweede kwartaal hier by die Wouwtjies kon deurbring en vir ons soveel nuwe dinge kon leer.

 

Ons beste wense vir haar toekoms as ‘n Afrikaanse onderwyser vergesel haar!

 

Grappige goggas

Grappige goggas

GRAPPIGE GOGGAS

Deur Megan Naudé en Zoe Louw (Graad 7)

 

Die meeste mense het ‘n vrees vir goggas!  Selfs dié wat te trots is om dit te erken, kry soms ‘n koue rilling wanneer ‘n sprinkaan, stokgogga of onskuldige miertjies saggies oor die blare trippel.

 

In die geval van juffrou Lize-Marié Swart, is daar wél twee “goggas” wat vir haar hoendervleis gee, naamlik die mot en die akkedis.  Meer as net een keer het dit al met dié arme juffrou gebeur dat sy rustig na skool sit en werk en daar dan ewe skielik ‘n mot in die klas rondfladder!  Vir diegene wat braaf genoeg is om dit nader as 3 meter aan die arme insek te waag, is dit natuurlik bitter snaaks!  Nadat daar op meer as een manier verseker is dat die mot, en natuurlik sy volgelinge, terug is in hul natuurlike habitat, is daar eers weer ‘n kans dat dit veilig genoeg is om die klas binne te gaan.

 

Dan is daar die verhaal van ‘n akkedis wat ook eendag ongenooid by Juffrou Lize-Marié kom inloer het!  Die bogenoemde proses is natuurlik herhaal om elke spoor van hierdie pes te verwyder! (Dalk ook so ‘n bietjie sanitering buite die sig van ander.)  Die vreemdste van alles is dat Juffrou Lize-Marié geen idee het wat die oorsprong van haar gogga-fobie is nie!  Dalk het sy as ‘n baba onsuksesvol een probeer vang en van toe af is dit neusie verby met hierdie vreesaanjaende goggas!

 

Anders as die letterlike goggas wat voorheen bespreek is, is daar ook figuurlike goggas wat mens op ‘n ander manier kan laat gril!

 

Hoe sal jy daarvan hou as jy niksvermoedend staan en klas gee en jy meteens agterkom dat die hek wat jou juis moet beskerm, ewe skielik in  jou grootste vyand verander het!  Daar is drie skuldiges wat afsonderlik gedink het dat dit ‘n blink plan is om vir Juffrou Lize-Marié soos ‘n gevangene in haar eie klas toe te sluit!  Juffrou Marica en Meneer Leon het eers na skool hierdie streke uitgehaal, terwyl Christiaan du Bruyn tydens klastyd nie net vir juffrou nie, maar ook haar hele graad 4-klas toegesluit het!  Ek is seker dat as die leerders daarna een van die minder gewilde vakke moes aandurf, dit hulle glad nie sou pla om toegesluit te wees nie!

 

Let wel dat hierdie artikel nie daarop gemik is om nog meer idees aan die Wouwtjies te verskaf oor hoe om die arme Juffrou Swart se siel verder te versondig nie!  Dit was reeds meer as genoeg vir een mens om te hanteer!

 

Die Wouwtjies se skoolkatte

Die Wouwtjies se skoolkatte

Die Wouwtjies se skoolkatte

Deur Gisele Geldenhuys (Graad 6) 

 

Reeds vir die afgelope 97 jaar is daar leerders wat skoolgaan in Laerskool Anton van Wouw!  Gedurende die laaste sewe jaar, het daar egter kinders van ‘n ander aard by die Wouwtjies aangesluit…

 

Katte spandeer ongeveer 50 % van hul dag aan selfversorging en danksy die meer as twintig spiere wat hul ore beheer, het katte uitstekende gehoor!  Katte kan meer as ‘n 100 geluide maak met hul stembande.  Dit is 90 keer meer as die geluide wat honde maak!  Ek dink ons kan almal saamstem dat katte unieke en intelligente diere is.

 

Graag stel ek julle voor aan die skoolkatte van Laerskool Anton van Wouw!  Ontmoet die grys tabby-kat, Astrantjie.  Dit is die enigste oorblywende kat van die oorspronklike groepie katte.  Dan is daar ook Hesie, ‘n calico-kat met ’n skor stemmetjie en Swart Boelie, die baasspeler!  Sylvester is ‘n langhaar tuxedo-kat en Swart Blasie ‘n skaam kat wat blaas vir vreemdes.  Elkeen van ons skoolkatte het hul eie unieke persoonlikheid en elkeen van hul beskik oor die potensiaal om iemand se troeteldier te word!

 

Volgens Tannie Marcelia, ‘n oudleerling van Laerskool Anton van Wouw, is dit baie belangrik om katte te steriliseer, want dit is goed vir die omgewing  en dit keer aanwas.  Dit is te danke aan tannie Marcelia, oom Thinus, tannie Estelle, tannie Mathilda en natuurlik die skool, dat al die katte by die Waterkloof Dierehospitaal gesteriliseer is.  Hierdie vier omgee-mense, tesame met die skool se ouers wat katkos skenk en Juffrou Hester van Sittert wat ook die katte voer, verseker dat die diertjies versorg en gesond is.  Die skoolkatte word aan die oosgrens van die skoolgronde naby die personeel se parkering en ook in Langestraat gevoer.

 

Tannie Mathilda sê die katjies herken haar stem en haar motor en kom groet haar altyd baie vriendelik wanneer sy hulle kom voer.  Hulle gee glad sulke klein sprongetjies en swaai hulle sterte terwyl hulle wag vir die kos.

 

Elkeen van hierdie katte is so spesiaal en verdien net die beste.  Daarom bedank die Wouwtjies almal wat help om die lewens van hierdie katjies te verbeter!  Die Dalai Lama het eens op ‘n tyd gesê: “Happiness is not something ready-made, it comes from your own actions.”

 

Enigiemand wat graag wil help om Laerskool Anton van Wouw se skoolkatte te voer, kan katkos by Juffrou Hester van Sittert in die Naskoolsentrum skenk.  Enige bydraes word opreg waardeer!