Die Wouwtjies se skoolkatte

Deur Gisele Geldenhuys (Graad 6) 

 

Reeds vir die afgelope 97 jaar is daar leerders wat skoolgaan in Laerskool Anton van Wouw!  Gedurende die laaste sewe jaar, het daar egter kinders van ‘n ander aard by die Wouwtjies aangesluit…

 

Katte spandeer ongeveer 50 % van hul dag aan selfversorging en danksy die meer as twintig spiere wat hul ore beheer, het katte uitstekende gehoor!  Katte kan meer as ‘n 100 geluide maak met hul stembande.  Dit is 90 keer meer as die geluide wat honde maak!  Ek dink ons kan almal saamstem dat katte unieke en intelligente diere is.

 

Graag stel ek julle voor aan die skoolkatte van Laerskool Anton van Wouw!  Ontmoet die grys tabby-kat, Astrantjie.  Dit is die enigste oorblywende kat van die oorspronklike groepie katte.  Dan is daar ook Hesie, ‘n calico-kat met ’n skor stemmetjie en Swart Boelie, die baasspeler!  Sylvester is ‘n langhaar tuxedo-kat en Swart Blasie ‘n skaam kat wat blaas vir vreemdes.  Elkeen van ons skoolkatte het hul eie unieke persoonlikheid en elkeen van hul beskik oor die potensiaal om iemand se troeteldier te word!

 

Volgens Tannie Marcelia, ‘n oudleerling van Laerskool Anton van Wouw, is dit baie belangrik om katte te steriliseer, want dit is goed vir die omgewing  en dit keer aanwas.  Dit is te danke aan tannie Marcelia, oom Thinus, tannie Estelle, tannie Mathilda en natuurlik die skool, dat al die katte by die Waterkloof Dierehospitaal gesteriliseer is.  Hierdie vier omgee-mense, tesame met die skool se ouers wat katkos skenk en Juffrou Hester van Sittert wat ook die katte voer, verseker dat die diertjies versorg en gesond is.  Die skoolkatte word aan die oosgrens van die skoolgronde naby die personeel se parkering en ook in Langestraat gevoer.

 

Tannie Mathilda sê die katjies herken haar stem en haar motor en kom groet haar altyd baie vriendelik wanneer sy hulle kom voer.  Hulle gee glad sulke klein sprongetjies en swaai hulle sterte terwyl hulle wag vir die kos.

 

Elkeen van hierdie katte is so spesiaal en verdien net die beste.  Daarom bedank die Wouwtjies almal wat help om die lewens van hierdie katjies te verbeter!  Die Dalai Lama het eens op ‘n tyd gesê: “Happiness is not something ready-made, it comes from your own actions.”

 

Enigiemand wat graag wil help om Laerskool Anton van Wouw se skoolkatte te voer, kan katkos by Juffrou Hester van Sittert in die Naskoolsentrum skenk.  Enige bydraes word opreg waardeer!