GRAPPIGE GOGGAS

Deur Megan Naudé en Zoe Louw (Graad 7)

 

Die meeste mense het ‘n vrees vir goggas!  Selfs dié wat te trots is om dit te erken, kry soms ‘n koue rilling wanneer ‘n sprinkaan, stokgogga of onskuldige miertjies saggies oor die blare trippel.

 

In die geval van juffrou Lize-Marié Swart, is daar wél twee “goggas” wat vir haar hoendervleis gee, naamlik die mot en die akkedis.  Meer as net een keer het dit al met dié arme juffrou gebeur dat sy rustig na skool sit en werk en daar dan ewe skielik ‘n mot in die klas rondfladder!  Vir diegene wat braaf genoeg is om dit nader as 3 meter aan die arme insek te waag, is dit natuurlik bitter snaaks!  Nadat daar op meer as een manier verseker is dat die mot, en natuurlik sy volgelinge, terug is in hul natuurlike habitat, is daar eers weer ‘n kans dat dit veilig genoeg is om die klas binne te gaan.

 

Dan is daar die verhaal van ‘n akkedis wat ook eendag ongenooid by Juffrou Lize-Marié kom inloer het!  Die bogenoemde proses is natuurlik herhaal om elke spoor van hierdie pes te verwyder! (Dalk ook so ‘n bietjie sanitering buite die sig van ander.)  Die vreemdste van alles is dat Juffrou Lize-Marié geen idee het wat die oorsprong van haar gogga-fobie is nie!  Dalk het sy as ‘n baba onsuksesvol een probeer vang en van toe af is dit neusie verby met hierdie vreesaanjaende goggas!

 

Anders as die letterlike goggas wat voorheen bespreek is, is daar ook figuurlike goggas wat mens op ‘n ander manier kan laat gril!

 

Hoe sal jy daarvan hou as jy niksvermoedend staan en klas gee en jy meteens agterkom dat die hek wat jou juis moet beskerm, ewe skielik in  jou grootste vyand verander het!  Daar is drie skuldiges wat afsonderlik gedink het dat dit ‘n blink plan is om vir Juffrou Lize-Marié soos ‘n gevangene in haar eie klas toe te sluit!  Juffrou Marica en Meneer Leon het eers na skool hierdie streke uitgehaal, terwyl Christiaan du Bruyn tydens klastyd nie net vir juffrou nie, maar ook haar hele graad 4-klas toegesluit het!  Ek is seker dat as die leerders daarna een van die minder gewilde vakke moes aandurf, dit hulle glad nie sou pla om toegesluit te wees nie!

 

Let wel dat hierdie artikel nie daarop gemik is om nog meer idees aan die Wouwtjies te verskaf oor hoe om die arme Juffrou Swart se siel verder te versondig nie!  Dit was reeds meer as genoeg vir een mens om te hanteer!