‘n Sportterrein sonder ouers

‘n Sportterrein sonder ouers

‘n Sportterrein sonder ouers

Deur Gisele Geldenhuys & Sandy Prinsloo (Graad 6)

 

Die Covid-pandemie het nou wel tot gevolg dat mense maskers moet dra en ‘n sosiale afstand moet handhaaf, maar sedert Maart vanjaar kon ons vir die eerste keer in amper twee jaar weer sport beoefen!  Die netbaldogters het die een na die ander doel aangeteken en die rugbyseuns het hope drieë gedruk.

 

Daar is vele wedstryde gespeel, maar as ‘n mens langs die sportvelde gekyk het, was en is daar steeds geen ouers nie.  Die Covid-pandemie het veroorsaak dat daar geen ouers op die sportvelde toegelaat word nie.  Alhoewel verskeie harte bitter seer is daaroor, het dit nie die Wouwtjies gekeer om aan te hou presteer nie!

 

Die meeste sportafrigters stem saam dat die ouers se afwesigheid langs die sportveld nie noodwendig ‘n slegte ding is nie, omdat dit selfstandigheid by die leerders kweek.  Daar is heel moontlik ook baie minder addisionele druk van die ouers af.

 

Mnr. Duan sê: “Persoonlik dink ek die leerders is meer vry om hulself uit te druk op die sportveld en daar is minder inmenging van die ouers af.’’

 

Meneer Jaco is van mening dat baie leerders beter presteer sonder die druk van hul ouers en dat hulle dan beter na hul afrigters luister.  Mnr. Carel sê ook: “Ek glo kinders speel nou vir mekaar, waar hulle voorheen meer individueel ingestel was.”

 

Daar is egter wel ook sekere negatiewe gevolge:

Meneer Reghardt sê: “Die kommunikasie tussen die ouers en die onderwysers is moeiliker en heelwat kinders benodig wel die ondersteuning van hul ouers langs die veld om op hul beste te kan presteer.  Boonop is die vervoer na en van die wedstryde  moeliker bekombaar.”  Mnr. Reghardt sê dat ‘n positiewe aspek is dat die verhoudings tussen die kinders en die onderwysers versterk het, omrede die leerders nou meer moet staatmaak op hul onderwysers.

 

Meneer Duan sê dat een van die groot leemtes is dat daar geen aanmoediging en toejuiging van die skare af is nie.  Dit dra dikwels soveel by tot die leerders se motivering.

 

Vanuit die ouers se oogpunt, is dit ‘n hartseer saak dat hulle nie hul kinders kan sien speel nie.  ’n Kind se laerskoolloopbaan is so kort en tyd wag vir niemand nie!  Ouers mis dus die geleentheid om hul kinders te sien presteer, deelneem en sportherinneringe te bou.

 

Ongeag of die ouers langs ‘n sportveld teenwoordig mag wees of nie, ons moet vasbyt!  Daar is tog altyd ‘n lig aan die einde van die tonnel!  Die leerders van Laerskool Anton van Wouw bewys daagliks dat die Covid-beperkinge hulle nie onderkry nie en dat die Wouwtjies aanhou presteer en aanhou om net hul heel beste te lewer!

Lente

Lente

Lente

Deur Stephan Jonker (Graad 7)

 

Goeiedag aan al my mede-Wouwtjies!  Die meeste van julle wonder seker ook met die lekker warm lente wat uiteindelik hier is, wat ‘n mens nou kan doen om af te koel?  Wel, ek het ‘n paar opsies ondersoek as antwoord op hierdie vraag:

 

Ek het verskeie mede-Wouwtjies gevra wat hulle doen om af te koel en te baljaar in hierdie heerlike hitte wat die lente vir ons gebring het.  Daniël, David en Ludwijk het gesê hulle hou baie daarvan om te swem, asook om ysies en ander koel lekkernye te eet.  Estain hardloop graag deur die sproeiers saam met sy hond of sy boetie.  Laastens het Mieke vertel dat sy nadat sy gehardloop of geoefen het, sy in die skaduwee sit, water drink of gaan swem.

 

Persoonlik dink ek dat dit ‘n uitstekende plan is om in die swembad af te koel!  Ek sal die Wouwtjies ook aanraai om ‘n groot glas water vol ysblokkies te drink om die hitte hok te slaan.  Dit is ook ‘n goeie idee om dalk net in ‘n bad vol koel water of onder ‘n sproeier af te koel!

 

Ek hoop hierdie blitswenke het vir jul prettige idees verskaf oor hoe om af te koel in hierdie hitte!

 

 

Klop-Klop aan by die Wouwtjieklop!!

Klop-Klop aan by die Wouwtjieklop!!

Klop-Klop aan by die Wouwtjieklop!!

Deur Kay-Lee McDonald (Graad 7)

 

Die alombekende Covid-pandemie het nie die vermoë om die Wouwtjies op enige gebied te affekteer nie!  Ons draai nooit briek aan as dit kom by Kultuur nie!

 

Die Wouwtjieklop is Laerskool Anton van Wouw se eie Kunstefees wat ons jaarliks hou en aan deelneem.

 

Tydens die Wouwtjieklop, neem die Wouwtjies deel aan items soos Dans, Drama, Tafeldek, Musiek, Blommerangskik en nog vele meer!  Ons kry dan ‘n gasbeoordelaar om saam met ons wonderlike onderwysers hier by die Wouwtjies te kom beoordeel.  Deelnemers ontvang ‘n pragtige sertifikaat na afloop van hulle item.

 

Ons weet ons is baie bevoorreg om steeds te kan deelneem aan sulke lekker aktiwiteite in hierdie vreemde tye waarin ons leef.  Tydens elke item word Covid-19 maatreëls streng toegepas.  Ek het self aan die Wouwtjieklop deelgeneem en ek moet sê, om weer op die verhoog te kon staan en voor beoordelaars te kon optree, was ongelooflik lekker!

Die briljante 0.13A-span

Die briljante 0.13A-span

Die briljante 0.13A-span

Deur Zoë Louw (Graad 7)

 

Met die aanvang van die derde kwartaal, is dit ook altyd die begin van Laerskool Anton van Wouw se immergewilde hokkie-seisoen!  Ons het waarlik briljante spanne!

 

 Ons 0.13 A dogterspan is uniek in hulle eie reg.  Voor die wedstryd is dit grappe, dansies, toertjies, kompetisies en nog vele meer!  Wanneer die klok slaan vir die wedstryd, is dit egter in alle erns!  Dan weet almal wat om te doen!  Wen!  Spanwerk en -gees is een van hul beste eienskappe.  Die 0.13 A’s help mekaar altyd en is daar vir die span.  As een persoon ‘n besering opdoen, is almal daar om haar te ondersteun.

 

Hierdie span gaan ook nie maklik verloor nie, want hulle beskik oor die strategie dat daar altyd ‘n plan B is!  Dus moet hul opponente maar gereed wees, want dit was net die stilte voor die storm!  Die bal gaan nie vinnig verby hulle stokke nie, want hulle keer elke bal uitstekend!

 

Tydens elke hokkie-oefening is daar harde werk om te verrig!  Hulle afrigter, mnr. Marinus, beskou fiksheid in ‘n ernstige lig en soms tap die sweet die arme meisies af!  Tydens sommige van die oefeninge ontvang die 0.13 A dogterspan selfs gaste ,soos mnr. Regardt, mnr Armand en selfs mnr. Jaco!  Hulle maak die oefeninge altyd net nóg lekkerder!

 

Dit is dalk hierdie dogters se laaste jaar om vir Laerskool Anton van Wouw hokkie te kan speel, maar hulle maak dit beslis die beste jaar van hulle laerskoolloopbaan!  Daar is nie eers een vervelige oomblik op die veld of by die oefeninge nie.  Hierdie dogters is soos familie vir mekaar en met die laaste paar oefeninge maak hulle die beste van elke oomblik!

Só kan jy jou kind help om maats by die skool te maak.

Só kan jy jou kind help om maats by die skool te maak.

Só kan jy jou kind help om maats by die skool te maak.

Wat doen ’n mens as jou skaam kind nou nie juis die klas se sosiale vlinder is nie?

Aan die begin van ’n nuwe jaar het ouers van veral jong kinders meer as genoeg aanpassings om hulle oor te kwel. Benewens die gewone akademie, sport, skooluniforms en nuwe roetine, kan jou voorskoolse en laerskoolkind se sosiale lewe jou ook slapelose nagte besorg.

Jy wil graag hê jou kind moet maats maak en nie ’n eensame eenkantbloedjie wees nie. Vriendskappe het inderdaad die potensiaal om ’n kind se geluk en selfvertroue op skool en later in hul lewe te maak of breek, meen kenners.

Ons het by kenners gaan uitvind wat ’n mens kan doen om jou kind by te staan as hulle sukkel om maats te maak.

HOEKOM IS VRIENDSKAPPE BELANGRIK?

Ons het ons lewe lank verbintenisse met ander mense nodig vir ons welstand, sê Naomi van Wyk, ’n kliniese sielkundige van Stellenbosch. “Vriendskappe gee kinders nie net vermaak en steun nie; dit skep ook vir hulle die geleentheid om te leer hoe jy betekenisvol met ander mense omgaan.”

’n Kind se portuurgroep is soos ’n spieël waarin hulle kan sien hoe ander hulle ervaar. Om deur die maats aanvaar te word, moet die kind dan sosiale vaardighede ontwikkel, sê Ilhaam Solomons, ’n kliniese sielkundige van Kaapstad.

“Die kind leer so om ongemaklike gevoelens te verwerk, asook hoe om te gee en neem – alles lewensvaardighede wat nodig is vir gesonde verhoudings in die toekoms,” sê sy.

HOE KAN JY JOU KIND HELP AS HULLE SUKKEL OM MAATS TE MAAK?

Alle vriendskappe begin by ’n vriendelike bekendstelling, sê Genevieve da Silva, ’n opvoedkundige sielkundige van Bellville; daarom moet jy jou kind leer hoe om mense te groet, oogkontak te maak, hulself voor te stel en die ander mens se naam te vra.

Dit klink dalk eenvoudig, maar vir sekere kinders is dié basiese dinge moeiliker as vir ander. Vra jou skaam kind of hulle graag iemand wil bevriend en moedig hulle aan om dié maatjie gereeld te groet, langs hulle in die klas te sit en te nooi om te kom speel.

Sê ook vir jou kind om die maat te vra waarvan hulle hou of wat hulle graag doen, want dalk deel hulle ’n belangstelling en kan hulle dinge saam doen.

“Vaardighede soos om belangstelling in ander te toon en hoe om iemand oor hul belangstellings, sport en troeteldiere uit te vra, is iets wat die gesin om die etenstafel kan oefen,” is die raad van Carina van Vuuren, opvoedkundige sielkundige van Johannesburg. As ’n kind sukkel om hulself in woorde uit te druk, kan dit ’n invloed op verhoudings hê.

Cara Blackie, ’n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg, sê as jou kind sukkel om maats te maak, moet jy hul verbale vermoëns by ’n spraakterapeut laat toets. Indien hulle ’n probleem het, kan die terapeut dit behandel en ook oefeninge voorskryf wat julle by die huis kan doen.

Ouers moet ook geleenthede buite die skoolomgewing skep waar kinders kan maats maak. Benewens speel-afsprake kan jy jou kind aan sport of kultuur laat deelneem sodat hulle kinders met dieselfde belangstellings kan ontmoet.

WANNEER MOET JY BEKOMMERD RAAK?

As jou kind angstig en ongelukkig word oor skool toe gaan, moet jy ondersoek instel. Gesels met jou spruit, en sodra jy agterkom dis omdat hulle sukkel om maats te maak, is dit ’n goeie idee om met die onderwyseres te praat. Sy kan die situasie dophou en jou help planne maak, sê Ilhaam. “Praat met ander ma’s sodat jy steun kan kry sonder dat hulle inmeng.”

Wanneer jou kind psigosomatiese simptome soos ’n seer maag, naarheid of hoofpyn toon, is dit tyd om ’n kundige se hulp in te roep, meen Nicolette Liddell, ’n opvoedkundige sielkundige van Kaapstad. “Skoolwerk wat agteruitgaan, is ook dikwels ’n teken van ongelukkigheid.”

WAT MOET JY DOEN AS JOU KIND MET ’N MAAT BAKLEI?

Jy as ouer kan jou kind as’t ware emosioneel afrig om konflik te hanteer, sê Cizelle Louw, ’n kliniese sielkundige van Pretoria.

Sy stel voor jy doen dit in vyf stappe:

Let fyn op na jou kind, en vra wat pla. Op dié manier voel die kind jy as ouer sien hul ongelukkigheid raak en probeer help.

Help jou kind om name te gee vir al die emosies wat hulle voel – gevoelens soos woede, frustrasie, ongelukkigheid of alleenheid.

Normaliseer die emosies deur aan jou kind te verduidelik baie mense raak dikwels kwaad of voel so.

Stel ’n duidelike grens en verduidelik aan jou kind al is hulle soms hoe kwaad, moet niks of niemand seergemaak of beskadig word nie.

Help jou kind om ’n plan te maak om die konflik of die probleem op te los of die beste van ’n situasie te maak. Met ’n jonger kind moet jy leiding gee en by ’n ouer kind moet jy die kind uitlok om self aan idees te dink.

“Jy kan byvoorbeeld sê: ‘Ek verstaan jy is hartseer en kwaad omdat daardie maatjie jou geskop het, maar jy sal ook onthou dat mamma vir jou verduidelik het almal maak soms foute, selfs jy,’ ” stel Cizelle voor.

 

“Dan moet julle saam aan ’n plan dink wat jou kind kan laat beter voel, of aan wat hulle kan doen wanneer ’n maatjie hulle weer seermaak.

“Kinders moet ook leer die wêreld hanteer ons nie sagkens nie, dat spanning in sommige verhoudings kan inkom, dat almal nie altyd net lief en vriendelik is nie en dat dit in die haak is as maats foute maak omdat dit deel van die lewe en die mens se aard is,” sê

Cizelle. “En hoe gouer hulle dit besef, hoe beter.”

 

Speelafsprake: moets en moenies

Jy gaan eindelik vir jou alleenkind ’n speelmaat oornooi, maar is onseker oor ’n paar dinge. Die kenners gee ’n paar riglyne:

Nooi ek net een maatjie op ’n slag, of meer as een? Dit maak nie saak hoeveel jy nooi nie; laat jou kind self besluit.

Voor die tyd: Gesels met jou kind voor die maat opdaag en praat oor hoe hulle die maat belangrik kan laat voel, wat hulle wanneer kan aanbied, en dink saam aan speletjies vir wanneer hul eie idees opraak. Pak die spesiale speelgoed wat jou spruit nie bereid is om te deel nie, dan saam weg.

Moet ek toesig hou of die kinders alleen los? Bly in die nabyheid om seker te maak hulle is veilig, maar dit is beter om nie betrokke te raak nie.

Hulle lyk verveeld en opgeskeep met mekaar; moet ek ingryp? Jy moenie ál die speletjies voorstel nie. Onthou, kinders leer deur te speel. Los hulle solank jy kan, soms moet kinders verveeld wees sodat hulle hul eie kreatiwiteit kan gebruik.

Hulle stry; wanneer is dit wys om in te meng? Sodra die onenigheid in ’n slegsêery of afknouery ontaard.

Kan jy ’n sibbe of sibbes laat saamspeel? Dit hang van die individuele kinders af of jy ’n boetie en sussie laat saamspeel. Gee die een wat die maatjie genooi het die mag om te sê hulle wil eers ’n bietjie alleen speel, en help hulle die boodskap bevestig.