‘n Sportterrein sonder ouers
Deur Gisele Geldenhuys & Sandy Prinsloo (Graad 6)
Die Covid-pandemie het nou wel tot gevolg dat mense maskers moet dra en ‘n sosiale afstand moet handhaaf, maar sedert Maart vanjaar kon ons vir die eerste keer in amper twee jaar weer sport beoefen! Die netbaldogters het die een na die ander doel aangeteken en die rugbyseuns het hope drieë gedruk.
Daar is vele wedstryde gespeel, maar as ‘n mens langs die sportvelde gekyk het, was en is daar steeds geen ouers nie. Die Covid-pandemie het veroorsaak dat daar geen ouers op die sportvelde toegelaat word nie. Alhoewel verskeie harte bitter seer is daaroor, het dit nie die Wouwtjies gekeer om aan te hou presteer nie!
Die meeste sportafrigters stem saam dat die ouers se afwesigheid langs die sportveld nie noodwendig ‘n slegte ding is nie, omdat dit selfstandigheid by die leerders kweek. Daar is heel moontlik ook baie minder addisionele druk van die ouers af.
Mnr. Duan sê: “Persoonlik dink ek die leerders is meer vry om hulself uit te druk op die sportveld en daar is minder inmenging van die ouers af.’’
Meneer Jaco is van mening dat baie leerders beter presteer sonder die druk van hul ouers en dat hulle dan beter na hul afrigters luister. Mnr. Carel sê ook: “Ek glo kinders speel nou vir mekaar, waar hulle voorheen meer individueel ingestel was.”
Daar is egter wel ook sekere negatiewe gevolge:
Meneer Reghardt sê: “Die kommunikasie tussen die ouers en die onderwysers is moeiliker en heelwat kinders benodig wel die ondersteuning van hul ouers langs die veld om op hul beste te kan presteer. Boonop is die vervoer na en van die wedstryde moeliker bekombaar.” Mnr. Reghardt sê dat ‘n positiewe aspek is dat die verhoudings tussen die kinders en die onderwysers versterk het, omrede die leerders nou meer moet staatmaak op hul onderwysers.
Meneer Duan sê dat een van die groot leemtes is dat daar geen aanmoediging en toejuiging van die skare af is nie. Dit dra dikwels soveel by tot die leerders se motivering.
Vanuit die ouers se oogpunt, is dit ‘n hartseer saak dat hulle nie hul kinders kan sien speel nie. ’n Kind se laerskoolloopbaan is so kort en tyd wag vir niemand nie! Ouers mis dus die geleentheid om hul kinders te sien presteer, deelneem en sportherinneringe te bou.
Ongeag of die ouers langs ‘n sportveld teenwoordig mag wees of nie, ons moet vasbyt! Daar is tog altyd ‘n lig aan die einde van die tonnel! Die leerders van Laerskool Anton van Wouw bewys daagliks dat die Covid-beperkinge hulle nie onderkry nie en dat die Wouwtjies aanhou presteer en aanhou om net hul heel beste te lewer!