Die Amfiteater trek ‘n nuwe baadjie aan

Die Amfiteater trek ‘n nuwe baadjie aan

DIE AMFITEATER TREK ‘N NUWE BAADJIE AAN

Deur Kiki Butler (Graad 6)

 

Na ’n lange gewag, staan daar die Dinsdagoggend van 23 Maart 2021, ‘n splinternuwe staalstruktuur in die amfiteater van Laerskool Anton van Wouw!

Die proses wat aanleiding gegee het tot die bou van die nuwe amfiteater, het eintlik al gedurende die grendeltydperk begin.  Die bestaande skadunette in die amfiteater is verwyder en reuse gate is gegrawe om die nuwe staalstruktuur te ondersteun.

Maar wag eers, kom ons begin van die heel begin af!

Waarom is daar besluit op die nuwe staaldak in die amfiteater?

Die doel van die amfiteater se nuwe dak is deeglik ondersoek.  Die huidige skoolsaal is te klein om al ons Wouwtjies en hul ouers te akkommodeer.  Dít is natuurlik te wyte aan die groeiende getalle van ons skool.  Tans kan daar slegs 320 stoele in die saal inpas tydens funksies.  Die vergroting van die skoolsaal is ook ondersoek.  Dit was ‘n moontlikheid om die bestaande skoolsaal langer en hoër te maak, maar as gevolg van die kostes en ander praktiese redes, moes ‘n ander alternatief gevind word.

Die skadunette van die amfiteater het die einde van hul leeftyd bereik en kon nie meer genoeg beskerming teen die sonlig bied nie.  Aangesien daar meer spasie was in die amfiteater en die skadunette verwyder móés word, het dit net sin gemaak om hierdie groter spasie as die “Nuwe Wouwtjie Skoolsaal” te benut.  Die skool se beheerliggaam is geraadpleeg en na deeglike oorweging, is daar besluit om ‘n nuwe dak oor die amfiteater te bou!

Die droom is in werklikheid ‘n toegeboude amfiteater, maar daar is besluit om vir nou slegs die eerste fase van die bouproses te laat plaasvind.  Die tweede fase van die projek is eintlik ‘n groot verrassing!  ‘n Amfiteater met mure, om weersomstandighede soos reën, wind en die koue uit te hou.  Ook vorm ‘n splinternuwe verhoog en ‘n goeie klankstelsel deel van die beplanning.

Hierdie droom kan egter slegs ‘n realiteit word as daar hard gewerk word aan die skool se verskeie jaarlikse fondsinsamelingsprojekte.

Die Wouwtjies sien so uit na ons eerste funksie en samekoms in Laerskool Anton van Wouw se splinternuwe amfiteater!

 

Naelbyt-oomblikke vir Enviro-leiers

Naelbyt-oomblikke vir Enviro-leiers

Naelbyt-oomblikke vir Enviro-leiers

Deur Zoe Louw (Graad 7)

 

Die Gryswater Uitdaging het op 22 Maart 2021 afgeskop by Laerskool Anton van Wouw.

Gabby Dorner en Shay Nel is as die organiseerders van die Gryswater-uitdaging aangestel.  Hulle het ‘n prys belowe vir die klas wat die meeste gryswater kon insamel.

Die kompetisie het egter aanvanklik traag gevorder, weens ‘n gebrek aan entoesiasme.  Gabby en Shay het gou besef dat hulle sal moet ingryp!  Hulle besluit toe om die prys vir die Gryswater Uitdaging se wenner bekend te maak.  Die eerste prys was pizza’s vir die hele klas en die tweede en derde plekke het suigstokkies ontvang.  Na dié aankondiging, het die gryswater letterlik begin instroom!

Op die laaste dag van die Gryswater-uitdaging was daar egter konsternasie!  Die ongeduld het hoog geloop by al die deelnemers.  Hulle het daarop aangedring dat die wenners so gou as moontlik bekend gemaak moet word.  Die organiseerders van die Gryswater-uitdaging moes toe haastig honderde liters water meet en kon kort daarna aankondig dat Graad 4Z die wenners van die Gryswater-uitdaging was.

Alhoewel daar vir Gabby Dorner en Shay Nel ‘n paar naelbyt-oomblikke was, is hulle verlig dat hulle ‘n bydrae kon lewer tot die omgewing.  Hulle kon selfs ‘n stukkie pizza by die wenners gaps!

 

Die Pawson-Pakket

Die Pawson-Pakket

Die Pawson-Pakket

Deur Nina Nel en Mia van Rooyen (Graad 7)

Ons het ‘n heerlike gesprek gehad met die gewilde Pawson-broers, wat toevallig saam by ons skool werk.  Ons het hulle vrae gevra oor hul grootwordjare, skooldae en hul drome vir die toekoms.  Kom leer saam met ons meer van Laerskool Anton van Wouw se Pawson-Pakket!

 

Waar het Meneer-hulle grootgeword?

 

Ons het in Randfontein grootgeword.  Ons het daar gewoon totdat ons universiteit toe gegaan het.

 

Noem ‘n insident uit Meneer-hulle se kinderjare waar julle baie stout was.

 

Ons was redelik soet as kinders, maar ons het tog soms “Tok-Tokkie” gespeel en eiers op mense se karre en voordeure gegooi!

 

Wie van julle twee is meer verantwoordelik?

 

Mnr. Marinus: Ek is meer verantwoordelik as dit by die skool kom, maar Heinrich is meer verantwoordelik wat sy huis en familie betref.

Mnr. Heinrich: Ek stem saam met daardie stelling!

 

Moes julle klere deel toe julle klein was?

 

Mnr. Marinus: Ja, ek moes Heinrich se klere dra as dit hom nie meer gepas het nie.  Nou is dit anders om!

 

Vir die mense wat nie geweet het dat julle ‘n sussie het nie, kan julle ons ‘n bietjie meer vertel van haar?

 

Sy is jonger as ons, 25 jaar oud en ‘n onderwyseres by dieselfde skool as ons ma.  Sy is ook ‘n 400m SA hekkies-kampioen!

 

Het julle enige gewoontes wat die ander een irriteer?


Mnr. Marinus: Ja, Heinrich wil dinge altyd op sy manier hê!

Mnr. Heinrich: Nee wat, nie regtig nie.

 

Hou Meneer-hulle van dieselfde kos en klere?


Mnr. Heinrich: Meestal, ja!

Mnr. Marinus: Heinrich het meer styl as ek!

 

Hoe was julle op hoërskool?  Bleeksiele, sportief, musikaal, sosiaal of gewild?

 

Mnr. Heinrich: Ons het altwee BAIE van sport gehou!

Mnr. Marinus: Ek het graag aan kultuur deelgeneem en het in die koor gesing.  Ek was akademies sterk en was mal oor hokkie.

Mnr. Heinrich: Ek het ook van kultuur gehou en in die koor gesing.  Ek het krieket en rugby gespeel en ons was altwee in die eerste tennisspan!  Marinus het meer onderskeidings behaal as wat ek het in matriek.

 

Wie is die slim een en wie die aantreklike een tussen julle twee?

 

Mnr. Marinus: Ek is die slim een en Heinrich die aantreklike een!

Mnr. Heinrich: Ja, alhoewel ek ook dink ek is slim!

Na watter tipe musiek luister Meneer-hulle graag?

 

Mnr. Marinus: Ek hou van enige musiek, afhangende van my bui.

Mnr. Heinrich: Ek hou meer van lekker Afrikaanse sokkie musiek!

 

Baklei julle soms nog?

 

Nee. Ons is baie rustig teenoor mekaar.

 

Het julle ooit gedink dat julle by dieselde skool sal werk? Geniet julle dit om saam te werk?

Nee,glad nie!  Dit is baie lekker, maar ons sien mekaar nie so baie nie.

Waarom het julle albei onderwysers geword en hoekom het julle Laerskool Anton van Wouw gekies om by skool te hou?

 

Mnr. Marinus: Ek is as ‘n onderwyser gebore!  Dit is die enigste skool waar ek nog ooit aansoek gedoen het en ek het die pos gekry!

Mnr. Heinrich: Ek wou ‘n beroep kies waar ek met mense kon werk en ek hou baie van sport.  Pretoria het heelwat goeie skole, maar ek het sulke goeie dinge gehoor van die Wouwtjies, dat ek dit graag wou kom ervaar!

 

Daar het julle dit! Ons ken die broers nou heelwat beter en is baie in ons skik  daarmee dat die Pawson-Pakket deel is van die Wouwtjie-familie!

 

 

 

 

 

 

Waar is Willem Wouw?

Waar is Willem Wouw?

Waar Is Willem Wouw?

Deur Skye Smit en Kay-Lee McDonald (Graad 7)

 

Willem Wouw!  Willem Wouw!  Waar is Willem Wouw?

Willem Wouw is weg!  Ons het hom amper twee jaar gelede laas gesien!

Ons almal onthou nog sy vriendelike glimlag, groot passievolle oë, modderbruin vere en goudgeel snawel.  Hy is ‘n geelbekwou valk (ja, ek het ook gedink hy is ‘n uil) wat baie hou van mense en mal is oor sy pitkos!

Willem Wouw was altyd daar om die Graad 1’s te verwelkom en die sportspanne aan te moedig as hulle oefen.  Hy het ál die Wouwtjies laat glimlag en altyd saam met ons gespeel, maar waar is hy nou?

Ons het van ons Wouwtjie-vriende gevra waar hulle dink Willem Wouw is.

Hier volg ‘n paar leidrade:

  • Ruben en Johan (Gr. 1V) sê dat hulle dink Willem Wouw is dalk in ‘n boom, ‘n bos, of in ‘n woud.  Robynne (Gr. 1X) en Divan (Gr. 1W) stem saam met hulle.
  • Madeley (Gr. 1V) dink hy’s in die skool se uilboks.  Eleanor (Gr. 1V) en Micke (Gr. 1Y) dink Willem Wouw kruip weg in die houthuisie.
  • Lisa (Gr. 7V) dink hy’s onder die verhoog in die saal, terwyl Michael (Gr. 7Z) dink dat hy weggevlieg het!
  • Die res van die Gr. 7’s vermoed iets eienaardigs het met Willem Wouw gebeur!
  • Ons het vir Mnr Jaco gevra en hy sê die laaste keer toe hy vir Willem Wouw gesien het, het hy vir sy vriend Eagi by die Noord-Wes Universiteit gaan kuier. Meneer Jaco dink egter dat Willem Wouw gaan studeer het om ‘n onderwyser te word.
  • My pa dink Willem Wouw is op vakansie in die Bahamas en lê met lang, yskoue sambreel-koeldranke op die strand terwyl hy wag vir die Covid-19 virus om te verdwyn.

Selfs met al hierdie leidrade, kon ons nog steeds nie vir Willem Wouw vind nie!  Dit is waarom ons die Wouwtjies se hulp nodig het!  Volgende kwartaal gaan Willem Wouw tien spesiale, genommerde voël-verwante artikels wegsteek.  Wanneer die Wouwtjies al tien hierdie dinge gevind het, sal Willem Wouw weer sy verskyning maak!

Julle moet heeltyd op die uitkyk wees vir Willem Wouw en sy weggesteekte artikels!

Sterkte met die soektog!

 

 

Ons nuwe Graad 1’s se eerste treetjies

Ons nuwe Graad 1’s se eerste treetjies

Ons nuwe Graad 1’s se eerste treetjies

 Deur Sandy Prinsloo en Gisele Geldenhuys (Graad 6)

 

Onthou jy nog jou heel eerste skooldag?  Jy het opgewonde vir Willem Wouw by die hoofhek gegroet met jou splinternuwe skoolskoene aan, haartjies netjies gekam en jou ouers wat honderde foto’s van jou neem!  Dit is presies wat die nuwe Graad 1’s van 2021 beleef het.

 

Die Graad 1’s van Laerskool Anton van Wouw se eerste skooldag het op 12 Februarie plaasgevind.  Hulle het die skool op daardie dag tot 11:45 besoek. Volgens Mia Jansen, Leon Greef en Thomas du Plessis, wat vanjaar in Graad 1 is, was hul eerste dag baie lekker!  Hier volg wat hulle nog vir ons vertel het:

 

Mia het met ons gedeel dat haar mamma haar op die eerste skooldag afgelaai het en saam met haar na haar nuwe klas toe kon stap.  Thomas vertel dat die Graad 1’s bederf is met lekkers by die hoofhek toe hulle by die skool ingestap het.  Leon se mamma het hope foto’s geneem en hy het sommer gou almal in sy klas leer ken.

 

Mia en Thomas stem saam dat hulle gunsteling deel van die skool, die snoepie is!  Leon reken alhoewel skool vir hom lekker is, dit glad nie pret is om elke middag te sit en huiswerk doen nie!  Al drie is egter gaande daaroor om te kan swem tydens Kinetika.  Thomas dink ook dit is glad nie snaaks om elke oggend só vroeg op te staan nie, maar hy hou baie van die juffrouens en natuurlik veral van die pouses!  Mia geniet elke oomblik daarvan om met haar maatjies te speel en voel die skool is baie groot.

 

Ons dink met nostalgie terug aan ons eie eerste skooldae wat min of meer net soos Mia Jansen, Leon Greef en Thomas du Plessis se eerste skooldag verloop het!  Die Wouwtjies glo dat ons nuwe Graad 1’s se pad by Laerskool Anton van Wouw net so vol pret sal wees soos hulle Graad 1 jaar tot dusver.