Ons nuwe Graad 1’s se eerste treetjies
Deur Sandy Prinsloo en Gisele Geldenhuys (Graad 6)
Onthou jy nog jou heel eerste skooldag? Jy het opgewonde vir Willem Wouw by die hoofhek gegroet met jou splinternuwe skoolskoene aan, haartjies netjies gekam en jou ouers wat honderde foto’s van jou neem! Dit is presies wat die nuwe Graad 1’s van 2021 beleef het.
Die Graad 1’s van Laerskool Anton van Wouw se eerste skooldag het op 12 Februarie plaasgevind. Hulle het die skool op daardie dag tot 11:45 besoek. Volgens Mia Jansen, Leon Greef en Thomas du Plessis, wat vanjaar in Graad 1 is, was hul eerste dag baie lekker! Hier volg wat hulle nog vir ons vertel het:
Mia het met ons gedeel dat haar mamma haar op die eerste skooldag afgelaai het en saam met haar na haar nuwe klas toe kon stap. Thomas vertel dat die Graad 1’s bederf is met lekkers by die hoofhek toe hulle by die skool ingestap het. Leon se mamma het hope foto’s geneem en hy het sommer gou almal in sy klas leer ken.
Mia en Thomas stem saam dat hulle gunsteling deel van die skool, die snoepie is! Leon reken alhoewel skool vir hom lekker is, dit glad nie pret is om elke middag te sit en huiswerk doen nie! Al drie is egter gaande daaroor om te kan swem tydens Kinetika. Thomas dink ook dit is glad nie snaaks om elke oggend só vroeg op te staan nie, maar hy hou baie van die juffrouens en natuurlik veral van die pouses! Mia geniet elke oomblik daarvan om met haar maatjies te speel en voel die skool is baie groot.
Ons dink met nostalgie terug aan ons eie eerste skooldae wat min of meer net soos Mia Jansen, Leon Greef en Thomas du Plessis se eerste skooldag verloop het! Die Wouwtjies glo dat ons nuwe Graad 1’s se pad by Laerskool Anton van Wouw net so vol pret sal wees soos hulle Graad 1 jaar tot dusver.