DIE AMFITEATER TREK ‘N NUWE BAADJIE AAN

Deur Kiki Butler (Graad 6)

 

Na ’n lange gewag, staan daar die Dinsdagoggend van 23 Maart 2021, ‘n splinternuwe staalstruktuur in die amfiteater van Laerskool Anton van Wouw!

Die proses wat aanleiding gegee het tot die bou van die nuwe amfiteater, het eintlik al gedurende die grendeltydperk begin.  Die bestaande skadunette in die amfiteater is verwyder en reuse gate is gegrawe om die nuwe staalstruktuur te ondersteun.

Maar wag eers, kom ons begin van die heel begin af!

Waarom is daar besluit op die nuwe staaldak in die amfiteater?

Die doel van die amfiteater se nuwe dak is deeglik ondersoek.  Die huidige skoolsaal is te klein om al ons Wouwtjies en hul ouers te akkommodeer.  Dít is natuurlik te wyte aan die groeiende getalle van ons skool.  Tans kan daar slegs 320 stoele in die saal inpas tydens funksies.  Die vergroting van die skoolsaal is ook ondersoek.  Dit was ‘n moontlikheid om die bestaande skoolsaal langer en hoër te maak, maar as gevolg van die kostes en ander praktiese redes, moes ‘n ander alternatief gevind word.

Die skadunette van die amfiteater het die einde van hul leeftyd bereik en kon nie meer genoeg beskerming teen die sonlig bied nie.  Aangesien daar meer spasie was in die amfiteater en die skadunette verwyder móés word, het dit net sin gemaak om hierdie groter spasie as die “Nuwe Wouwtjie Skoolsaal” te benut.  Die skool se beheerliggaam is geraadpleeg en na deeglike oorweging, is daar besluit om ‘n nuwe dak oor die amfiteater te bou!

Die droom is in werklikheid ‘n toegeboude amfiteater, maar daar is besluit om vir nou slegs die eerste fase van die bouproses te laat plaasvind.  Die tweede fase van die projek is eintlik ‘n groot verrassing!  ‘n Amfiteater met mure, om weersomstandighede soos reën, wind en die koue uit te hou.  Ook vorm ‘n splinternuwe verhoog en ‘n goeie klankstelsel deel van die beplanning.

Hierdie droom kan egter slegs ‘n realiteit word as daar hard gewerk word aan die skool se verskeie jaarlikse fondsinsamelingsprojekte.

Die Wouwtjies sien so uit na ons eerste funksie en samekoms in Laerskool Anton van Wouw se splinternuwe amfiteater!