Waar Is Willem Wouw?
Deur Skye Smit en Kay-Lee McDonald (Graad 7)
Willem Wouw! Willem Wouw! Waar is Willem Wouw?
Willem Wouw is weg! Ons het hom amper twee jaar gelede laas gesien!
Ons almal onthou nog sy vriendelike glimlag, groot passievolle oë, modderbruin vere en goudgeel snawel. Hy is ‘n geelbekwou valk (ja, ek het ook gedink hy is ‘n uil) wat baie hou van mense en mal is oor sy pitkos!
Willem Wouw was altyd daar om die Graad 1’s te verwelkom en die sportspanne aan te moedig as hulle oefen. Hy het ál die Wouwtjies laat glimlag en altyd saam met ons gespeel, maar waar is hy nou?
Ons het van ons Wouwtjie-vriende gevra waar hulle dink Willem Wouw is.
Hier volg ‘n paar leidrade:
- Ruben en Johan (Gr. 1V) sê dat hulle dink Willem Wouw is dalk in ‘n boom, ‘n bos, of in ‘n woud. Robynne (Gr. 1X) en Divan (Gr. 1W) stem saam met hulle.
- Madeley (Gr. 1V) dink hy’s in die skool se uilboks. Eleanor (Gr. 1V) en Micke (Gr. 1Y) dink Willem Wouw kruip weg in die houthuisie.
- Lisa (Gr. 7V) dink hy’s onder die verhoog in die saal, terwyl Michael (Gr. 7Z) dink dat hy weggevlieg het!
- Die res van die Gr. 7’s vermoed iets eienaardigs het met Willem Wouw gebeur!
- Ons het vir Mnr Jaco gevra en hy sê die laaste keer toe hy vir Willem Wouw gesien het, het hy vir sy vriend Eagi by die Noord-Wes Universiteit gaan kuier. Meneer Jaco dink egter dat Willem Wouw gaan studeer het om ‘n onderwyser te word.
- My pa dink Willem Wouw is op vakansie in die Bahamas en lê met lang, yskoue sambreel-koeldranke op die strand terwyl hy wag vir die Covid-19 virus om te verdwyn.
Selfs met al hierdie leidrade, kon ons nog steeds nie vir Willem Wouw vind nie! Dit is waarom ons die Wouwtjies se hulp nodig het! Volgende kwartaal gaan Willem Wouw tien spesiale, genommerde voël-verwante artikels wegsteek. Wanneer die Wouwtjies al tien hierdie dinge gevind het, sal Willem Wouw weer sy verskyning maak!
Julle moet heeltyd op die uitkyk wees vir Willem Wouw en sy weggesteekte artikels!
Sterkte met die soektog!