Die Wouwtjie Covid-“workout”!

Die Wouwtjie Covid-“workout”!

 

Die Wouwtjie Covid-“workout”!

Deur Meaghan Lamprecht (Graad 6)

 

Net nou die dag skryf ek daaroor dat Laerskool Anton Van Wouw stadig, maar seker, terugkeer na normaal.  Skaars het dinge net weer normaal begin voel, toe moet ek my woorde sluk!  Ons het proewe vir netbal en rugby gehad, al te lekker as spanne saam geoefen en wedstryde by ander skole gaan speel.  Ai, daar gebeur die onverwagte toe!  Geen kontaksport word meer toegelaat nie en binne ‘n oogwink was die netbalseisoen verby.  My hart was so seer!

 

Ons dank ons sterre dat die leerders van Laerskool Anton van Wouw nog kan voortgaan om elke dag skool toe te gaan!  Daar is soveel ander skole se leerders wat nog steeds net twee of drie keer per week skool toe kan gaan.  Die Wouwtjies is sowaar baie bevoorreg!

 

Met die derde vlaag van Covid-19 in Gauteng, het die kwartaal vir my behoorlik soos ‘n behoorlike wipwaentjierit gevoel!  Eers was daar goeie nuus, maar dan weer slegter nuus.  Ons moes weer soggens reguit klasse toe gaan en mag nie meer voor die skooldag begin of tydens pouses saam speel nie.  Met die weeklikse Covid-19 gevalle by Laerskool Anton Van Wouw, sien ons almal mekaar maar min omdat ons sosiale afstand handhaaf.

 

Ek glo die Here sal Covid-19 tot ‘n einde bring en ek bid elke aand dat ons weer sal kan terugkeer na normaal.  Ek kan nie wag om nie meer ‘n masker hoef te dra nie en net weer normale sosiale gebeure by die skool te hê nie!

 

Om my berig mee af te sluit, deel ek graag hierdie video wat ons onderwysers vir die Wouwtjies gemaak het toe ons in Junie 2020 kon terugkeer skool toe.

 

Kyk gerus daarna en dans “Die Wouwtjie Covid-workout” saam!

 

https://fb.watch/6hqRMdyjFq/

Eet, slaap, sport!

Eet, slaap, sport!

Eet, slaap, sport!

Deur Sandy Prinsloo (Graad 6)

 

Laerskool Anton van Wouw blink al vir 96 jaar lank in Kultuur en Akademie uit, maar moenie vergeet van die sport wat ons ook al sedert 1925 beoefen nie!  Die woord “sport” het ons al dikwels gehoor.  Ons weet dit is ‘n manier om te ontspan en om jouself fiks te hou, maar vir sommige leerders is sport hul absolute passie!

 

Megan Nieman in Graad 6 geniet sport ontsettend baie en neem al vir nege jaar lank aan sport deel.  Sy pluk reeds die vrugte van haar harde werk!  In 2019 verteenwoordig sy Suid-Afrika by die Wêreldkampioenskappe in Florida, Amerika, deur deel te neem aan biathles .  Sy het ook aan die SANJ (South African National Juniors) deelgeneem.  Boonop het Megan die afgelope drie jaar Gauteng-Noord kleure in tweekamp, akrobaat, gimnastiek en atletiek behaal.  Haar  droom en doelwit is om eendag aan die Olimpiese Spele deel te neem!

 

Kobus du Plooy in Graad 2 beoefen rugby, swem… en sy heel gunsteling sport is gholf.  Hy neem aan sport deel sedert hy drie jaar oud is en oefen vyf dae ‘n week!  Hy het deelgeneem aan die US Kids Golf Tournament en het daar ‘n brons medalje verwerf.

 

Kobus vertel dat sy pa ook gholf speel en dat dit sy pa was wat hom aangemoedig het om te speel.  Dit is Kobus se droom om eendag ‘n groot gholftrofee in sy kamer te hê!

 

Ruan Nieman in Graad 5 beoefen golf, tennis, swem, atletiek en biathles, maar hy geniet krieket die heel meeste!  Hy neem reeds vir sewe jaar lank aan sport deel en vertel dat dit sy ma was wat hom aangemoedig het om aan sport deel te neem.  Ruan speel tans vir die Tshwane Titans PSI hokkie en het in 2019 aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe in biathles deelgeneem.

 

Hierdie is slegs‘n handvol van Laerskool Anton van Wouw se sportsterre en daar is nog vele meer leerders vir wie sport hope pret, asook ‘n noodsaaklikheid is!

 

Die Wouwtjies geniet dit om die bal aan die rol te kry en hul passies ten volle uit te leef!

 

‘n Wouwtjie bly ‘n Wouwtjie – masker of te nie!

‘n Wouwtjie bly ‘n Wouwtjie – masker of te nie!

Wat is die punt van ‘n masker?

Deur Megan Naudé (Graad 7)

 

‘n Masker hou jou asem in      

voor jy nog met jou sin begin.             

Dit keer jou nie met speel en lag,    

maar beskerm jou met alle mag!

 

Jy moet dit heeldag dra,

al maak dit jou ‘n bron van kla.

Ons gaan dit glad nie baie mis,

solank ons net nie tyd verkwis!

 

Die jaar 2020 was ‘n wilde een, vol vreemde, onverwagse gebeurtenisse om elke hoek en draai!  Dit het egter nie die Wouwtjies ondergekry nie, omdat ons standvastige waardes het, hard werk en met ‘n gees wat skrik vir niks, elke dag ten volle aangepak het!  Na die uitstel van die terugkeer van leerders na die skool , het die deure uiteindelik op 15 Februarie 2021 weer wawyd oop gestaan om die onderwysers en leerders na die lang vakansie  terug te verwelkom! Van daardie dag is af is ons weer volstoom aan die werk, asook besig met sportoefeninge.  Natuurlik laat die gewilde Kaskardag almal se harte tiekie-draai van opgewondenheid!

Al moet ons nou maskers dra, het dit ons nie gekeer om steeds ons sosiale lewe hoog te ag nie! (Soms so ‘n bietjie hoër as die akademie, veral oor naweke.) Ons gesels vir ure met mekaar oor wie weet wat en hou selfs meer as die verlangde sosiale afstand!

Dit is meer as genoeg bewys dat ‘n masker dalk jou gesig mag wegsteek, maar definitief nie jou persoonlikheid nie!  Die Wouwtjie-gemeenskap staan hand aan hand (1,5 meter uitmekaar) en reg om die virus te beveg!

 

Laerskool Anton van Wouw keer stadig, maar seker, terug na normaal

Laerskool Anton van Wouw keer stadig, maar seker, terug na normaal

Laerskool Anton Van Wouw keer stadig, maar seker, terug na normaal

Deur Meaghan Lamprecht (Graad 6)

 

Op 23 Maart 2020, het President Cyril Ramaphosa ‘n grendeltydperk in Suid-Afrika ingestel.  Almal was vasgevang in hul huise en mag nêrens heen gegaan het nie, in ‘n poging om die verspreiding van die nuwe Covid-19 virus te bekamp.  Ons het behoorlik soos voëltjies in ‘n hok gevoel!  Ons kon nie ons families of vriende besoek het vir ‘n baie lang ruk nie en ons moes vir eers ons skoolwerk tersyde stel.  Die lang vakansie was aanvanklik lekker, maar later het dit nie meer so wonderlik gevoel nie.  Ek kon vir my vriendinne boodskappe stuur van my ma se selfoon af, maar dit is nie dieselfde  as om iemand in persoon te sien en mee te gesels nie.

 

Die jaar 2020 het so voortgegaan, totdat ons weer later ons skoolwerk kon begin doen vanuit ons huise.  Wat ‘n uitdaging vir die onderwysers, leerlinge, sowel as die ouers!  Die personeel by Laerskool Anton van Wouw het hul bes probeer om vir ons as leerlinge die leerproses te vergemaklik en het onder andere lesse aangebied deur ‘n nuutgeskepte digitale platform.

 

Dit was wonderlik om weer later die jaar terug te kon keer skool toe!  Op een dag het die meisies skool bygewoon en die volgende dag was dit die seuns se beurt.  Leerlinge moes in graadverband op verskillende plekke op die skoolterrein sit tydens pouses, sowel as in klasverband.  So, as jou maatjie in ‘n ander klas was, kon jul mekaar nie sien nie!

 

Op 15 Februarie 2021 het die skool weer amptelik geopen vir die skooljaar van 2021!  Al die leerlinge kon toe terugkeer na die skool, maar mag nog steeds nie saam speel tydens pouses of sonder hul maskers loop nie.  Die kinders sit nog steeds geïsoleer in graadverband op verskillende plekke op die skoolterrein, ter wille van sosiale afstand en hul algemene veiligheid en gesondheid.

 

Ons het egter onlangs die beste nuus ontvang!  Van nou af mag die leerders in graadverband, voor die skooldag begin, asook tydens pouses op die verskillende speelterreine saam speel.  Natuurlik moet ons steeds ons maskers dra en sosiale afstand handhaaf, maar dit maak nie vir ons saak nie, want ons kan weer met mekaar gesels, grappies maak en lag!

 

‘n Hele jaar het al verloop sedert daardie ingehokte grendeltydperk.  Wie weet?  Dalk vra ons volgende jaar hierdie tyd vir mekaar, Corona-wie?  So asof hierdie wrede virus nooit bestaan het nie!  Hopelik het ons uit hierdie vreemde tyd in ons lewens geleer om waarlik die klein dingetjies in die lewe te waardeer!

 

 

Mnr. Henning in die kollig

Mnr. Henning in die kollig

Meneer Henning in die kollig!

Deur Chanté Stremmelaar (Graad 6)

 

Die Wouwtjies wonder seker soms wat Meneer Henning se gunsteling kleur of sy gunsteling fliek is.  Ek het ‘n bietjie ondersoek gaan instel en vir Meneer Henning ‘n paar persoonlike vrae gevra, sodat ons meer van hom te wete kan kom:

Hoe streng is Meneer teenoor die onderwysers op ‘n skaal van 1 -10?

Wat die standaard van ons skool betref, is ek ‘n 10 op daardie skaal!  Ek is streng met die onderwysers daaroor dat die korrekte standaard gehandhaaf moet word, maar in terme van hul menslikheidsfaktor, plaas ek myself by ‘n 5 op die skaal.  Dus is ek hard op standaarde, maar sag op mense.

Wie of wat het Meneer geïnspireer om ‘n skoolhoof te word?

Ek het op skool ‘n onderwyser gehad wat vir my Geskiedenis gegee het.  Hy het die lesse so passievol aangebied, dat hy vir my ‘n inspirasie was!  Boonop wou ek nog altyd met kinders werk.

Het Meneer enige troeteldiere?

My hond is ‘n groot Bullmastiff wat omtrent 60kg weeg!

In watter Laerskool was Meneer?

Ek was in Laerskool Jozua Naudé in Roodepoort.

Wie is Meneer se gunsteling Wouwtjie- onderwyser?

Ek het soveel respek vir die onderwysers, want hulle almal werk ongelooflik hard!  Ons Wouwtjie-personeel verrig sowaar hul werk met passie!  Daar is dus nie net een onderwyser wat ek wil of kan uitsonder nie.

Watter beroep wou Meneer beoefen het toe u nog op skool was?

Ek het daaraan gedink om onderwys te studeer, maar het ook belang stel in die regte.  Ek wou ‘n prokureur geword het.

Het Meneer enige stokperdjies?

Ek geniet fotografie en om tyd saam met my familie deur te bring.

Na watter tipe flieks kyk Meneer graag?

Ek hou van flieks vol aksie en ook van dié gebaseer op ware verhale.

Wat was Meneer se gunsteling vak op skool?

Ek het Geskiedenis die meeste geniet!

Deel met ons Meneer se grootste prestasie wat u al ooit bereik het.

Dit is toe ek aangewys is as ‘n skoolhoof.

Wat is Meneer se gunsteling kleur?

Ek is besonder lief vir blou.

Watter stukkie wysheid sal Meneer graag met al die Wouwtjies wil deel?

Jy moet nooit bang wees om te leer uit jou foute uit nie, solank jy net leer daaruit!  Wees altyd bereid om dit te erken as jy ‘n fout gemaak het en probeer volgende keer nóg harder.  Gee altyd net jou heel beste.