Eet, slaap, sport!

Deur Sandy Prinsloo (Graad 6)

 

Laerskool Anton van Wouw blink al vir 96 jaar lank in Kultuur en Akademie uit, maar moenie vergeet van die sport wat ons ook al sedert 1925 beoefen nie!  Die woord “sport” het ons al dikwels gehoor.  Ons weet dit is ‘n manier om te ontspan en om jouself fiks te hou, maar vir sommige leerders is sport hul absolute passie!

 

Megan Nieman in Graad 6 geniet sport ontsettend baie en neem al vir nege jaar lank aan sport deel.  Sy pluk reeds die vrugte van haar harde werk!  In 2019 verteenwoordig sy Suid-Afrika by die Wêreldkampioenskappe in Florida, Amerika, deur deel te neem aan biathles .  Sy het ook aan die SANJ (South African National Juniors) deelgeneem.  Boonop het Megan die afgelope drie jaar Gauteng-Noord kleure in tweekamp, akrobaat, gimnastiek en atletiek behaal.  Haar  droom en doelwit is om eendag aan die Olimpiese Spele deel te neem!

 

Kobus du Plooy in Graad 2 beoefen rugby, swem… en sy heel gunsteling sport is gholf.  Hy neem aan sport deel sedert hy drie jaar oud is en oefen vyf dae ‘n week!  Hy het deelgeneem aan die US Kids Golf Tournament en het daar ‘n brons medalje verwerf.

 

Kobus vertel dat sy pa ook gholf speel en dat dit sy pa was wat hom aangemoedig het om te speel.  Dit is Kobus se droom om eendag ‘n groot gholftrofee in sy kamer te hê!

 

Ruan Nieman in Graad 5 beoefen golf, tennis, swem, atletiek en biathles, maar hy geniet krieket die heel meeste!  Hy neem reeds vir sewe jaar lank aan sport deel en vertel dat dit sy ma was wat hom aangemoedig het om aan sport deel te neem.  Ruan speel tans vir die Tshwane Titans PSI hokkie en het in 2019 aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe in biathles deelgeneem.

 

Hierdie is slegs‘n handvol van Laerskool Anton van Wouw se sportsterre en daar is nog vele meer leerders vir wie sport hope pret, asook ‘n noodsaaklikheid is!

 

Die Wouwtjies geniet dit om die bal aan die rol te kry en hul passies ten volle uit te leef!