Laerskool Anton Van Wouw keer stadig, maar seker, terug na normaal
Deur Meaghan Lamprecht (Graad 6)
Op 23 Maart 2020, het President Cyril Ramaphosa ‘n grendeltydperk in Suid-Afrika ingestel. Almal was vasgevang in hul huise en mag nêrens heen gegaan het nie, in ‘n poging om die verspreiding van die nuwe Covid-19 virus te bekamp. Ons het behoorlik soos voëltjies in ‘n hok gevoel! Ons kon nie ons families of vriende besoek het vir ‘n baie lang ruk nie en ons moes vir eers ons skoolwerk tersyde stel. Die lang vakansie was aanvanklik lekker, maar later het dit nie meer so wonderlik gevoel nie. Ek kon vir my vriendinne boodskappe stuur van my ma se selfoon af, maar dit is nie dieselfde as om iemand in persoon te sien en mee te gesels nie.
Die jaar 2020 het so voortgegaan, totdat ons weer later ons skoolwerk kon begin doen vanuit ons huise. Wat ‘n uitdaging vir die onderwysers, leerlinge, sowel as die ouers! Die personeel by Laerskool Anton van Wouw het hul bes probeer om vir ons as leerlinge die leerproses te vergemaklik en het onder andere lesse aangebied deur ‘n nuutgeskepte digitale platform.
Dit was wonderlik om weer later die jaar terug te kon keer skool toe! Op een dag het die meisies skool bygewoon en die volgende dag was dit die seuns se beurt. Leerlinge moes in graadverband op verskillende plekke op die skoolterrein sit tydens pouses, sowel as in klasverband. So, as jou maatjie in ‘n ander klas was, kon jul mekaar nie sien nie!
Op 15 Februarie 2021 het die skool weer amptelik geopen vir die skooljaar van 2021! Al die leerlinge kon toe terugkeer na die skool, maar mag nog steeds nie saam speel tydens pouses of sonder hul maskers loop nie. Die kinders sit nog steeds geïsoleer in graadverband op verskillende plekke op die skoolterrein, ter wille van sosiale afstand en hul algemene veiligheid en gesondheid.
Ons het egter onlangs die beste nuus ontvang! Van nou af mag die leerders in graadverband, voor die skooldag begin, asook tydens pouses op die verskillende speelterreine saam speel. Natuurlik moet ons steeds ons maskers dra en sosiale afstand handhaaf, maar dit maak nie vir ons saak nie, want ons kan weer met mekaar gesels, grappies maak en lag!
‘n Hele jaar het al verloop sedert daardie ingehokte grendeltydperk. Wie weet? Dalk vra ons volgende jaar hierdie tyd vir mekaar, Corona-wie? So asof hierdie wrede virus nooit bestaan het nie! Hopelik het ons uit hierdie vreemde tyd in ons lewens geleer om waarlik die klein dingetjies in die lewe te waardeer!