Graad 1 Moedertaalonderrig – Ontsluit Jou Kind se Potensiaal

Graad 1 Moedertaalonderrig – Ontsluit Jou Kind se Potensiaal

By Laerskool Anton van Wouw verstaan ​​ons dat Graad 1 ‘n deurslaggewende mylpaal in u kind se opvoedkundige reis is. Dit lê die grondslag vir toekomstige leer en berei die weg voor na akademiese sukses. As trots Afrikaans medium laerskool glo ons vas in die krag van moedertaalonderrig, veral gedurende hierdie vormingsjare. In hierdie artikel sal ons die belangrikheid van Graad 1 ondersoek en hoe die aanbied van onderwys in jou moedertaal voordelig kan wees vir ‘n kind se leer en ontwikkeling.

DIE BETEKENIS VAN GRAAD 1 IN JOU KIND SE SKOOLLOOPBAAN

Graad 1 is die begin van formele onderwys en is ‘n belangrike stap in jou kind se skoolloopbaan. Gedurende hierdie jaar ontwikkel kinders noodsaaklike vaardighede en kennis wat as boustene vir toekomstige leer sal dien. Sommige van die deurslaggewende aspekte van Graad 1-onderwys sluit in:

1. Geletterdheid en syfervaardighede

In Graad 1 leer kinders die grondbeginsels van lees, skryf en wiskunde. Hulle begin letters, klanke en woorde herken, en ontwikkel basiese syfervaardighede soos tel, optel en aftrek. Hierdie vaardighede vorm die grondslag vir hulle skoolloopbaan asook daarna.

2. Sosiale- en Emosionele Ontwikkeling

Graad 1 is ook wanneer kinders belangrike sosiale- en emosionele vaardighede aanleer. Hulle leer om met hul maats te kommunikeer, te deel, beurte te maak en om konflik op te los. Hierdie vaardighede is noodsaaklik vir die bou van gesonde verhoudings en om sosiale situasies regdeur hul lewens te bestuur.

3. Onafhanklikheid en verantwoordelikheid

Soos kinders Graad 1 betree, begin hulle ‘n gevoel van onafhanklikheid en verantwoordelikheid ontwikkel. Hulle leer om instruksies te volg, take onafhanklik te voltooi en eienaarskap van hul skoolwerk te neem. Hierdie vaardighede is deurslaggewend vir hulle akademiese vordering.

DIE VOORDELE VAN MOEDERTAALONDERWYS IN GRAAD 1

By Laerskool Anton van Wouw glo ons om onderrig in jou moedertaal te ontvang, veral in Graad 1. Die volgende redes is vir ons belangrik:

1. Verbeterde kognitiewe ontwikkeling

Navorsing het getoon dat kinders wat onderrig in hul moedertaal ontvang, beter kognitiewe ontwikkeling het. Hulle is in staat om konsepte makliker te begryp, krities te dink en probleme meer effektief op te los. Dit is omdat hulle in staat is om inligting te verwerk in ‘n taal wat vir hulle bekend en gemaklik is.

2. Verbeterde akademiese prestasie

Kinders wat in hul moedertaal leer, is geneig om akademies beter te presteer. Hulle het ‘n dieper begrip van die onderwerp en is in staat om hulself duideliker uit te druk. Dit is veral belangrik in Graad 1, aangesien die volume van nuwe vaardighede wat aangeleer word, hoog is.

3. Sterker kulturele identiteit

Om in moedertaal te leer, help kinders om ‘n sterk gevoel van kulturele identiteit te ontwikkel. Hulle is in staat om met hul erfenis, tradisies en waardes te skakel, wat bydra tot hul algehele gevoel van behoort en die bou van ‘n sterk selfbeeld.

By Laerskool Anton van Wouw is ons daartoe verbind om moedertaalonderrig van hoë gehalte in Afrikaans te verskaf. Ons ervare en toegewyde onderwysers skep ‘n koesterende en stimulerende leeromgewing wat akademiese uitnemendheid en persoonlike groei bevorder. Ons glo dat deur kinders in hul moedertaal op te voed, ons hul volle potensiaal ontsluit en hulle voorberei vir sukses op skool en in die lewe.

As jy op soek is na ‘n laerskool wat moedertaalonderrig waardeer en toegewy is aan jou kind se holistiese ontwikkeling, oorweeg gerus Laerskool Anton van Wouw. Besoek ons ​​webwerf [https://laerskoolantonvanwouw.co.za/] om meer te wete te kom oor hoe ons jou kind kan help floreer.

Is huiswerktyd soms ’n nagmerrie vir jou én jou kind?  

Is huiswerktyd soms ’n nagmerrie vir jou én jou kind?  

Deur Mariette Snyman

“Dis vir die meeste ouers van jong kinders ’n groot uitdaging,” sê dr. Shirley, ’n algemene praktisyn met ’n spesiale belangstelling in neurologiese toestande. “Huiswerk word gewoonlik aan die einde van die dag ingepas. Dopamien, die breinhormoon verantwoordelik vir wakkerheid en motivering, is smiddae op sy laagste en ná ’n vol dag is kinders boonop sensories oorlaai. Dis ’n slegte tyd vir ’n herhalende, vervelige aktiwiteit.

“Omdat kinders tuis veilig voel en vertrou dat hul ouers, hulle ondanks swak gedrag steeds sal liefhê, kan hulle ekstra moeilik wees. G’n wonder Finland – algemeen beskou as die land met die mees ontwikkelde onderwysstelsel – skeduleer smiddae geen akademiese werk behalwe lees nie. In Suid-Afrika is ons nog nie so gelukkig nie, maar ons kan wel die lewe vir ons en ons kinders makliker maak.

10 praktiese wenke wat dit vir almal makliker maak:

  1. Skep ʼn huiswerkhoekie

Nes ons ’n slaapkamer met slaap assosieer, help dit as jou kind se brein ’n sekere hoekie met huiswerk en ’n leeringesteldheid verbind. As die ruimte beperk is, kan jy sommer ’n hoekie van ’n kamer met maskeerband afbaken.

Minimaliseer afleiding indien jou kind se aandag maklik afgelei word. Sê: “Ek skakel my foon vir 20 minute af en gaan by jou sit en werk/lees/brei. Ons hou Boetie uit die vertrek.”

Sorg vir ’n gemaklike temperatuur.

Party kinders kan met musiek leer, ander nie. Eksperimenteer met wit geraas soos ’n waaier in die agtergrond, musiek sonder woorde, ensovoorts. Vir brain sequencing is Bach en Mozart die stimulerendste.

As jou kind se sensoriese integrasie nie optimaal is nie – soos by alle kinders met aandagafleibaarheid/hiperaktiwiteit – kan diep druk op jou kind se skoot of skouers strelend wees. Probeer ’n weighted jacket of kombers; die graansakkies wat fisioterapeute verskaf; ’n hondjie-deurstopper vol sand; of ’n teddiebeer wat ’n paar kilogram weeg. Die graansakkies kan warmgemaak of in die vrieskas gesit word. Eksperimenteer!

Kyk watter uitwerking verskillende geure het. Party is kalmerend, soos laventel; ander stimulerend, soos peperment. Koop suiwer essensiële olies met net een geur.

  1. ʼn Volledige werkstasie

Hou ’n volledige stel benodigdhede in die huiswerkhoekie. Geen huisgenoot mag dit leen nie! As jou kind eers moet opstaan om ’n skerpmaker te gaan haal, verbreek dit sy konsentrasie.

  1. Spring reg weg

Laat jou kind kies waarmee hy/sy wil begin – verkieslik eenvoudiger take. Verduidelik dat ’n makliker wegspringplek jou kans op sukses verbeter omdat jou brein ook “opwarm”. Ouer kinders kan met die moeilikste taak begin, terwyl hulle nog vars is.

  1. Hou ʼn ogie

Help ’n jong kind aanvanklik deur by hom/haar te sit of, as jy nie kan nie, vra van tyd tot tyd: “Hoe vorder jy? Kan ek help?”

  1. Skep asem

Sorg dat jou verwagtinge van jou kind se studievermoë realisties is. Dit is verstandig om te breek vóór jou kind se brandstof opraak. Gebruik ’n uurglas sodat jou kind die tydsverloop kan sien, en sê: “Kom ons doen vyf (of tien) minute lank wiskunde totdat die sand deurgeloop het.”

ʼn Pouse van vyf minute kan jou kind help herlaai.

Realistiese verwagtinge: graad 2 – twee sessies van vyf minute elk; graad 3 – 15 minute op ’n slag; graad 4 – 20 minute op ’n keer; kinders tot graad 7 – sessies van 40, dan 30, dan 20 minute. Selfs volwassenes behoort ná ’n werksessie van 45 minute te strek of ’n anders sensoriese breek te neem.

Eksperimenteer deur ’n kort pouse met ’n langer pouse af te wissel.

Mamma moenie ’n “pliggie” wees en deurdruk tot die werk klaar is nie – dis teenproduktief. Wanneer ’n kind te lank moet konsentreer, beland sy in beseringstyd, wat meer kwaad as goed doen. Respekteer jou kind se versadigingspunt; indien die huiswerk dit oorskry, kan jy ’n vriendelike briefie vir die onderwyser skryf en noem dat die kind werklik gefokus gewerk het maar nie die werk kon voltooi nie. Bespreek die huiswerklading met die onderwyser indien dit dikwels gebeur.

  1. Geduld, o geduld!

Sukseservarings lei tot groter sukses, terwyl skerp kritiek en die vrees vir mislukking ’n kind in oorlewingsmodus kan plaas. In die veg/vlugmodus het ons nie toegang tot hoër kognitiewe funksies nie. Probeer om nie ongeduldig te raak nie; kyk hoe jy kan help eerder as om die kind ontoereikend te laat voel. Op dié manier sal jou kind gouer onafhanklik kan werk – dis in jou belang!

  1. Spelpret
  • Spelling is iets wat alle kinders moet leer. Die brein hou van afwisseling, ’n uitdaging en kompetisie – span dit tot julle voordeel in. Skryf die week se spelwoorde netjies op indekskaarte. Maak twee stelle en speel Snap!
  • Skep ’n Bingo-bord. Pak een stel spelwoorde daarop. Laat jou kind die woorde spel. Vir elkeen wat hy reg het, is dit Bingo!
  • Gebruik gekleurde pypskoonmakers om letters en syfers te buig en bou die spelwoorde daarmee.
  • Speel “Vang Mamma uit”. Mamma skryf vier variasies van ’n spelwoord onder mekaar, byvoorbeeld K.L.O.U.T.E.R, klOUter, klouteR en kloutir, en laat die kind die verkeerd gespelde woord aandui.
  • Skep ’n pak kaarte met opdragte wat sensories verskil, byvoorbeeld: Skryf die spelwoord in rooi/geel/groen, skryf dit in potlood/koki-pen/vetkryt, skryf dit twee/drie/vyf keer, sê die woord in ’n fluisterstem/ operastem/ robotstem. Laat jou kind elke keer ’n kaart trek en die opdrag uitvoer.
  • Deesdae is daar ook penne met verskillende geure, byvoorbeeld ’n oranje pen met lemoengeur. Betrek dit by dié speletjie; die gebruik van verskillende sintuie skakel die geheue aan.
  • Laat die kind haar oë toemaak en die woorde uitskryf.
  • Steek die kaarte met spelwoorde weg op jou kind se roete van die etenstafel na byvoorbeeld haar tandeborsel. Sy moet elke kaart optel, lees en sê – ’n interessante vorm van herhaling.
  1. Mooi so!
  • Beloon jou kind vir elke sessie. Ouers is soms bang hulle koop ’n kind om, maar volwassenes werk ook beter as daar belonings is. Navorsing wys positiewe versterking kan vyf keer kragtiger wees as die vrees vir onaangename gevolge.
  1. Pak weg
  • Maak seker jou kind het alles wat nodig is vir die volgende skooldag, en dat die boeksak gepak is en by die voordeur wag.
  1. Vier dit!
  • Doen ná elke sessie iets lekkers saam – dit skep die gevoel van “ek hoort hier, ek het ’n plek”. Speel vinnig ’n speletjie, jaag mekaar, dans ’n dansie, vertel elkeen ’n grappie, luister na ’n liedjie, vertel van julle dag, slaan iets in die kombuis aanmekaar of gaan kielie vir Pappa. Al weet jy wat jou kind se liefdestaal is, spel alle kinders liefde só: “tyd” en “aandag”.