Deur Mariette Snyman
“Dis vir die meeste ouers van jong kinders ’n groot uitdaging,” sê dr. Shirley, ’n algemene praktisyn met ’n spesiale belangstelling in neurologiese toestande. “Huiswerk word gewoonlik aan die einde van die dag ingepas. Dopamien, die breinhormoon verantwoordelik vir wakkerheid en motivering, is smiddae op sy laagste en ná ’n vol dag is kinders boonop sensories oorlaai. Dis ’n slegte tyd vir ’n herhalende, vervelige aktiwiteit.
“Omdat kinders tuis veilig voel en vertrou dat hul ouers, hulle ondanks swak gedrag steeds sal liefhê, kan hulle ekstra moeilik wees. G’n wonder Finland – algemeen beskou as die land met die mees ontwikkelde onderwysstelsel – skeduleer smiddae geen akademiese werk behalwe lees nie. In Suid-Afrika is ons nog nie so gelukkig nie, maar ons kan wel die lewe vir ons en ons kinders makliker maak.
10 praktiese wenke wat dit vir almal makliker maak:
- Skep ʼn huiswerkhoekie
Nes ons ’n slaapkamer met slaap assosieer, help dit as jou kind se brein ’n sekere hoekie met huiswerk en ’n leeringesteldheid verbind. As die ruimte beperk is, kan jy sommer ’n hoekie van ’n kamer met maskeerband afbaken.
Minimaliseer afleiding indien jou kind se aandag maklik afgelei word. Sê: “Ek skakel my foon vir 20 minute af en gaan by jou sit en werk/lees/brei. Ons hou Boetie uit die vertrek.”
Sorg vir ’n gemaklike temperatuur.
Party kinders kan met musiek leer, ander nie. Eksperimenteer met wit geraas soos ’n waaier in die agtergrond, musiek sonder woorde, ensovoorts. Vir brain sequencing is Bach en Mozart die stimulerendste.
As jou kind se sensoriese integrasie nie optimaal is nie – soos by alle kinders met aandagafleibaarheid/hiperaktiwiteit – kan diep druk op jou kind se skoot of skouers strelend wees. Probeer ’n weighted jacket of kombers; die graansakkies wat fisioterapeute verskaf; ’n hondjie-deurstopper vol sand; of ’n teddiebeer wat ’n paar kilogram weeg. Die graansakkies kan warmgemaak of in die vrieskas gesit word. Eksperimenteer!
Kyk watter uitwerking verskillende geure het. Party is kalmerend, soos laventel; ander stimulerend, soos peperment. Koop suiwer essensiële olies met net een geur.
- ʼn Volledige werkstasie
Hou ’n volledige stel benodigdhede in die huiswerkhoekie. Geen huisgenoot mag dit leen nie! As jou kind eers moet opstaan om ’n skerpmaker te gaan haal, verbreek dit sy konsentrasie.
- Spring reg weg
Laat jou kind kies waarmee hy/sy wil begin – verkieslik eenvoudiger take. Verduidelik dat ’n makliker wegspringplek jou kans op sukses verbeter omdat jou brein ook “opwarm”. Ouer kinders kan met die moeilikste taak begin, terwyl hulle nog vars is.
- Hou ʼn ogie
Help ’n jong kind aanvanklik deur by hom/haar te sit of, as jy nie kan nie, vra van tyd tot tyd: “Hoe vorder jy? Kan ek help?”
- Skep asem
Sorg dat jou verwagtinge van jou kind se studievermoë realisties is. Dit is verstandig om te breek vóór jou kind se brandstof opraak. Gebruik ’n uurglas sodat jou kind die tydsverloop kan sien, en sê: “Kom ons doen vyf (of tien) minute lank wiskunde totdat die sand deurgeloop het.”
ʼn Pouse van vyf minute kan jou kind help herlaai.
Realistiese verwagtinge: graad 2 – twee sessies van vyf minute elk; graad 3 – 15 minute op ’n slag; graad 4 – 20 minute op ’n keer; kinders tot graad 7 – sessies van 40, dan 30, dan 20 minute. Selfs volwassenes behoort ná ’n werksessie van 45 minute te strek of ’n anders sensoriese breek te neem.
Eksperimenteer deur ’n kort pouse met ’n langer pouse af te wissel.
Mamma moenie ’n “pliggie” wees en deurdruk tot die werk klaar is nie – dis teenproduktief. Wanneer ’n kind te lank moet konsentreer, beland sy in beseringstyd, wat meer kwaad as goed doen. Respekteer jou kind se versadigingspunt; indien die huiswerk dit oorskry, kan jy ’n vriendelike briefie vir die onderwyser skryf en noem dat die kind werklik gefokus gewerk het maar nie die werk kon voltooi nie. Bespreek die huiswerklading met die onderwyser indien dit dikwels gebeur.
- Geduld, o geduld!
Sukseservarings lei tot groter sukses, terwyl skerp kritiek en die vrees vir mislukking ’n kind in oorlewingsmodus kan plaas. In die veg/vlugmodus het ons nie toegang tot hoër kognitiewe funksies nie. Probeer om nie ongeduldig te raak nie; kyk hoe jy kan help eerder as om die kind ontoereikend te laat voel. Op dié manier sal jou kind gouer onafhanklik kan werk – dis in jou belang!
- Spelpret
- Spelling is iets wat alle kinders moet leer. Die brein hou van afwisseling, ’n uitdaging en kompetisie – span dit tot julle voordeel in. Skryf die week se spelwoorde netjies op indekskaarte. Maak twee stelle en speel Snap!
- Skep ’n Bingo-bord. Pak een stel spelwoorde daarop. Laat jou kind die woorde spel. Vir elkeen wat hy reg het, is dit Bingo!
- Gebruik gekleurde pypskoonmakers om letters en syfers te buig en bou die spelwoorde daarmee.
- Speel “Vang Mamma uit”. Mamma skryf vier variasies van ’n spelwoord onder mekaar, byvoorbeeld K.L.O.U.T.E.R, klOUter, klouteR en kloutir, en laat die kind die verkeerd gespelde woord aandui.
- Skep ’n pak kaarte met opdragte wat sensories verskil, byvoorbeeld: Skryf die spelwoord in rooi/geel/groen, skryf dit in potlood/koki-pen/vetkryt, skryf dit twee/drie/vyf keer, sê die woord in ’n fluisterstem/ operastem/ robotstem. Laat jou kind elke keer ’n kaart trek en die opdrag uitvoer.
- Deesdae is daar ook penne met verskillende geure, byvoorbeeld ’n oranje pen met lemoengeur. Betrek dit by dié speletjie; die gebruik van verskillende sintuie skakel die geheue aan.
- Laat die kind haar oë toemaak en die woorde uitskryf.
- Steek die kaarte met spelwoorde weg op jou kind se roete van die etenstafel na byvoorbeeld haar tandeborsel. Sy moet elke kaart optel, lees en sê – ’n interessante vorm van herhaling.
- Mooi so!
- Beloon jou kind vir elke sessie. Ouers is soms bang hulle koop ’n kind om, maar volwassenes werk ook beter as daar belonings is. Navorsing wys positiewe versterking kan vyf keer kragtiger wees as die vrees vir onaangename gevolge.
- Pak weg
- Maak seker jou kind het alles wat nodig is vir die volgende skooldag, en dat die boeksak gepak is en by die voordeur wag.
- Vier dit!
- Doen ná elke sessie iets lekkers saam – dit skep die gevoel van “ek hoort hier, ek het ’n plek”. Speel vinnig ’n speletjie, jaag mekaar, dans ’n dansie, vertel elkeen ’n grappie, luister na ’n liedjie, vertel van julle dag, slaan iets in die kombuis aanmekaar of gaan kielie vir Pappa. Al weet jy wat jou kind se liefdestaal is, spel alle kinders liefde só: “tyd” en “aandag”.