Waar is Willem Wouw?

Waar is Willem Wouw?

Waar Is Willem Wouw?

Deur Skye Smit en Kay-Lee McDonald (Graad 7)

 

Willem Wouw!  Willem Wouw!  Waar is Willem Wouw?

Willem Wouw is weg!  Ons het hom amper twee jaar gelede laas gesien!

Ons almal onthou nog sy vriendelike glimlag, groot passievolle oë, modderbruin vere en goudgeel snawel.  Hy is ‘n geelbekwou valk (ja, ek het ook gedink hy is ‘n uil) wat baie hou van mense en mal is oor sy pitkos!

Willem Wouw was altyd daar om die Graad 1’s te verwelkom en die sportspanne aan te moedig as hulle oefen.  Hy het ál die Wouwtjies laat glimlag en altyd saam met ons gespeel, maar waar is hy nou?

Ons het van ons Wouwtjie-vriende gevra waar hulle dink Willem Wouw is.

Hier volg ‘n paar leidrade:

  • Ruben en Johan (Gr. 1V) sê dat hulle dink Willem Wouw is dalk in ‘n boom, ‘n bos, of in ‘n woud.  Robynne (Gr. 1X) en Divan (Gr. 1W) stem saam met hulle.
  • Madeley (Gr. 1V) dink hy’s in die skool se uilboks.  Eleanor (Gr. 1V) en Micke (Gr. 1Y) dink Willem Wouw kruip weg in die houthuisie.
  • Lisa (Gr. 7V) dink hy’s onder die verhoog in die saal, terwyl Michael (Gr. 7Z) dink dat hy weggevlieg het!
  • Die res van die Gr. 7’s vermoed iets eienaardigs het met Willem Wouw gebeur!
  • Ons het vir Mnr Jaco gevra en hy sê die laaste keer toe hy vir Willem Wouw gesien het, het hy vir sy vriend Eagi by die Noord-Wes Universiteit gaan kuier. Meneer Jaco dink egter dat Willem Wouw gaan studeer het om ‘n onderwyser te word.
  • My pa dink Willem Wouw is op vakansie in die Bahamas en lê met lang, yskoue sambreel-koeldranke op die strand terwyl hy wag vir die Covid-19 virus om te verdwyn.

Selfs met al hierdie leidrade, kon ons nog steeds nie vir Willem Wouw vind nie!  Dit is waarom ons die Wouwtjies se hulp nodig het!  Volgende kwartaal gaan Willem Wouw tien spesiale, genommerde voël-verwante artikels wegsteek.  Wanneer die Wouwtjies al tien hierdie dinge gevind het, sal Willem Wouw weer sy verskyning maak!

Julle moet heeltyd op die uitkyk wees vir Willem Wouw en sy weggesteekte artikels!

Sterkte met die soektog!

 

 

Ons nuwe Graad 1’s se eerste treetjies

Ons nuwe Graad 1’s se eerste treetjies

Ons nuwe Graad 1’s se eerste treetjies

 Deur Sandy Prinsloo en Gisele Geldenhuys (Graad 6)

 

Onthou jy nog jou heel eerste skooldag?  Jy het opgewonde vir Willem Wouw by die hoofhek gegroet met jou splinternuwe skoolskoene aan, haartjies netjies gekam en jou ouers wat honderde foto’s van jou neem!  Dit is presies wat die nuwe Graad 1’s van 2021 beleef het.

 

Die Graad 1’s van Laerskool Anton van Wouw se eerste skooldag het op 12 Februarie plaasgevind.  Hulle het die skool op daardie dag tot 11:45 besoek. Volgens Mia Jansen, Leon Greef en Thomas du Plessis, wat vanjaar in Graad 1 is, was hul eerste dag baie lekker!  Hier volg wat hulle nog vir ons vertel het:

 

Mia het met ons gedeel dat haar mamma haar op die eerste skooldag afgelaai het en saam met haar na haar nuwe klas toe kon stap.  Thomas vertel dat die Graad 1’s bederf is met lekkers by die hoofhek toe hulle by die skool ingestap het.  Leon se mamma het hope foto’s geneem en hy het sommer gou almal in sy klas leer ken.

 

Mia en Thomas stem saam dat hulle gunsteling deel van die skool, die snoepie is!  Leon reken alhoewel skool vir hom lekker is, dit glad nie pret is om elke middag te sit en huiswerk doen nie!  Al drie is egter gaande daaroor om te kan swem tydens Kinetika.  Thomas dink ook dit is glad nie snaaks om elke oggend só vroeg op te staan nie, maar hy hou baie van die juffrouens en natuurlik veral van die pouses!  Mia geniet elke oomblik daarvan om met haar maatjies te speel en voel die skool is baie groot.

 

Ons dink met nostalgie terug aan ons eie eerste skooldae wat min of meer net soos Mia Jansen, Leon Greef en Thomas du Plessis se eerste skooldag verloop het!  Die Wouwtjies glo dat ons nuwe Graad 1’s se pad by Laerskool Anton van Wouw net so vol pret sal wees soos hulle Graad 1 jaar tot dusver.

Toastmasters Banket 2021

Toastmasters Banket 2021

Toastmasters Banket 2021

Deur Stephan Jonker (Graad 7)

Ek het die voorreg gehad om die Toastmasters van 2021 se banket by te woon op die 25ste Maart.  Tydens die banket het die eerste groep sprekers die geleentheid gehad om hul toesprake, sommige daarvan onvoorbereid, voor almal te lewer.

Die aand het afgeskop met ‘n opening deur die ”Sergeant at Arms” en die “vloer” is aan die “Madam chair” oorhandig.

Die eerste sprekers moes onvoorbereide toesprake lewer.  Hulle het enige onderwerp onder die son gekry en moes daaroor praat vir ‘n volle 2 minute lank. Dit is beslis moeiliker as wat dit klink!

Een van my gunsteling toesprake is “What would you do if you were a fly?”  Dit het verband gehou met hierdie jaar se tema: “Flight”.  Volgens my was dit ‘n grappige en ‘n goeie praatjie gewees, want die hele gehoor het gelag!  Dit moes verseker ‘n kompliment vir die spreker gewees het.

Na afloop van die onvoorbereide praatjies, was daar ‘n kort pouse waarin die gaste ‘n smaaklike ete geniet het.  Daarna was die voorbereide praatjies aan die beurt!  Agt sprekers is die geleentheid gegun om hul praatjies te lewer.  Die temas was interessant, byvoorbeeld “Do vegetables feel pain?”  My persoonlike gunsteling was egter ”Lose weight fast on Mars!”  Dit was sowaar ‘n kreatiewe praatjie en moes lank geneem het om te skryf.

Aan die einde van die aand het die gasspreker, Juffrou Terry-Lee Lagerwall, ‘n besondere toespraak gelewer!  Juffrou Lagerwall se toespraak het gehandel oor die manier waarop sy die wêreld deur haar lense beskou.  Tydens die afsluiting van die aand was daar verskeie bedankings aan die onderwysers en die organiseerders.  Die Toastmasters se banket kan opgesom word as: uitsonderlik en suksesvol!  Dit het definitief almal se “public speaking skills” getoets en bevorder.