Toastmasters Banket 2021

Toastmasters Banket 2021

Toastmasters Banket 2021

Deur Stephan Jonker (Graad 7)

Ek het die voorreg gehad om die Toastmasters van 2021 se banket by te woon op die 25ste Maart.  Tydens die banket het die eerste groep sprekers die geleentheid gehad om hul toesprake, sommige daarvan onvoorbereid, voor almal te lewer.

Die aand het afgeskop met ‘n opening deur die ”Sergeant at Arms” en die “vloer” is aan die “Madam chair” oorhandig.

Die eerste sprekers moes onvoorbereide toesprake lewer.  Hulle het enige onderwerp onder die son gekry en moes daaroor praat vir ‘n volle 2 minute lank. Dit is beslis moeiliker as wat dit klink!

Een van my gunsteling toesprake is “What would you do if you were a fly?”  Dit het verband gehou met hierdie jaar se tema: “Flight”.  Volgens my was dit ‘n grappige en ‘n goeie praatjie gewees, want die hele gehoor het gelag!  Dit moes verseker ‘n kompliment vir die spreker gewees het.

Na afloop van die onvoorbereide praatjies, was daar ‘n kort pouse waarin die gaste ‘n smaaklike ete geniet het.  Daarna was die voorbereide praatjies aan die beurt!  Agt sprekers is die geleentheid gegun om hul praatjies te lewer.  Die temas was interessant, byvoorbeeld “Do vegetables feel pain?”  My persoonlike gunsteling was egter ”Lose weight fast on Mars!”  Dit was sowaar ‘n kreatiewe praatjie en moes lank geneem het om te skryf.

Aan die einde van die aand het die gasspreker, Juffrou Terry-Lee Lagerwall, ‘n besondere toespraak gelewer!  Juffrou Lagerwall se toespraak het gehandel oor die manier waarop sy die wêreld deur haar lense beskou.  Tydens die afsluiting van die aand was daar verskeie bedankings aan die onderwysers en die organiseerders.  Die Toastmasters se banket kan opgesom word as: uitsonderlik en suksesvol!  Dit het definitief almal se “public speaking skills” getoets en bevorder.

 

Jou kind se huiswerk: Moet jy ingryp of nie?

Jou kind se huiswerk: Moet jy ingryp of nie?

Jou kind se huiswerk: Moet jy ingryp of nie?

Dit kan nie anders as afdraand nie. ’n Mens kom moeg tuis ná ’n lang dag by die werk. Jy moet kosmaak, kosblikke pak en kyk dat die skoolklere vir die volgende dag skoon is.

Boonop moet jy jou kind, wat net so om gesukkel is soos jy, met huiswerk help. Hoe voer ’n mens dié daaglikse takie uit sonder dat dit in ’n tranedal ontaard?

Moet jy help of nie?

Veral gedurende die grondslagfase moet jy betrokke wees, want jy help jou kind om werk- en studiemetodes te ontwikkel. Dit ?sal die grondslag vir die res van hul skoolloopbaan vorm.

“Ouers moet ’n kind toelaat om soveel moontlik op hul eie te doen,” sê Melanie Hartgill, ’n opvoedkundige sielkundige van Kaapstad. Ouers oortree die oomblik dat hulle ’n kind se huiswerk vir hulle doen.

“As ’n ouer sien die kind kry herhaaldelik iets verkeerd, moet hulle vasstel of hulle die metode verstaan of nie. Indien nie, moet die onderwyser gekontak word.”

Jou kind se huiswerk moet ’n ware weerspieëling van hul vermoë wees. Jy kan iets vir hulle verduidelik, maar eindelik is dit die onderwyser se plig om die werk in verteerbare dele op te deel.

Beryl Lello, ’n opvoedkundige sielkundige van Kaapstad, sê wat projekte en mondelinge betref, kan die ouer die kind leer om so ’n projek te bestuur.

Sit saam met hulle en beplan wat gedoen moet word en hoe die navorsing gedoen gaan word.

Hulle moet self die navorsing doen en die taak voltooi. Eers dan kan die ouer dit lees en raad gee. Sy sê jy kan jou jong kind aanmoedig om verantwoordelikheid te aanvaar vir hul huiswerk deur hulle die regte gereedskap te gee.

’n Swartbord of dagboek kan hulle help om hul week te beplan. Dit help hulle onthou en gee ook die bevrediging om iets te kan doodtrek wat afgehandel is.

Beryl glo ouers kan ’n bietjie terugstaan wanneer kinders die intermediêre fase bereik. Sy sê die beste manier is om kinders van dié ouderdom en ouer hul huiswerk op hul eie te laat doen en net te help wanneer hulle na jou toe kom met ’n probleem.

“Jy kan saam met hulle by die tafel sit waar hulle werk, maar doen jou eie werk op jou rekenaar. So kan jy ’n ogie hou sonder om aktief te help.”

Kenners sê dit is belangrik dat ouers hulle nie onttrek aan ouer kinders se huiswerk nie.

Hul emosionele probleme kan in hul punte weerspieël word en is ’n bruikbare barometer vir ’n ouer om te weet dat hul kind dalk in nood is. Kinders moet buitendien ook altyd weet dat die ouer beskikbaar is vir hulp met skoolwerk of ander probleme.

Hoewel dit gewoonlik nie nodig is om ná ?gr. 3 elke vak op ’n daaglikse grondslag met jou kind deur te werk nie, is dit nodig dat jy gereeld intree om te kyk of hulle nie agter raak nie.

’n Maklike manier om betrokke te bly, is om elke dag te kyk na hul rooster, dat take afgehandel is en hul werk op peil is. Kinders vat dikwels kortpad en dan kan hulle gou agter raak. As jou kind se toetspunte deur lopend te laag na jou sin is, is dit tyd om ’n ?afspraak met die skool te maak.

Wanneer is die regte tyd?

Moenie met huiswerk begin die oomblik dat julle tuiskom nie, sê Sharon Aitken, ’n Kaapstadse kinder- en opvoedkundige sielkundige.

Kinders het tyd nodig om tot verhaal te kom. As jou kind in nasorg is waar die huiswerk gedoen word, moet jy steeds saans saam met hulle deur hul werk gaan, sê Sharon.

Dit is nooit ’n goeie idee om jong kinders laat te laat wakker bly om huiswerk te doen nie, veral as hulle nog in die grondslagfase is.

As iets voorgeval het wat daartoe gelei het dat hulle nie hul huiswerk kon doen nie, kan jy óf ’n briefie ter verduideliking skool toe stuur óf die kind vroeër wakker maak om voor skool die belangrikste te doen.

Wat doen jy as jou kind gespanne raak?

Jou kind is in ’n toestand. Sy moet môre ’n wiskundewerkstuk indien en nou kom jy agter sy verstaan nie die somme nie. Jy sal moet inspring en help. Die probleem is: Sy is so oorstuur, sy is nie in staat om na jou te luister nie. Hoe gemaak?

In so ’n geval is die eerste stap om hulle weg van hul werk te neem en hulle ’n kans te gee om te bedaar. “ ’n Paniekerige kind kan nie na rede luister nie,” sê Melanie.

Gee hulle iets om te eet of te drink, gaan ?sit weg van die werk en gesels oor wat die probleem is.

Jy kan die werk self probeer verduidelik, maar onthou, leerplanne het heeltemal verander sedert jou skooldae. Jy verwar jou kind dalk net nog meer.

Soek hulp op die internet, in ’n handboek of bel ’n vriendin.

Help hulle om die werk in hanteerbare stukke te verdeel.

Stel vir jouself ’n alarm om jou kind se rustye en vordering te monitor.

As niks werk nie, speel oop kaarte met die onderwyser. “Skryf ’n briefie om te verduidelik waarom die werk nie gedoen is nie en vra hulp,” sê Melanie

Waar is die beste plek vir huiswerk?

“So min moontlik dinge moet die kind se aandag kan aflei terwyl hulle werk,” sê Melanie.

Geen selfoon, televisie of radio moet naby wees nie. Melanie stel voor die kind werk in die eetkamer of ’n ander leefvertrek, want hul slaapkamer kan hulle vaak maak of hul aandag aflei.

Hulle moet regop by ’n tafel of lessenaar sit en, indien moontlik, nie saam met sibbes nie.

“Dis beter as hulle op hul eie werk sodat jy kan sien wat hul vermoëns en begrip is sonder ’n boetie of sussie se hulp,” sê Melanie.

Wanneer gaan ouers te ver?

Dis dikwels makliker om net vir jou kind te sê wat om te skryf, maar jy doen hulle geen guns nie.

“Ouers moet hul kinders soveel moontlik op hul eie laat doen,” sê Melanie.

Daar is ’n groot verskil tussen kinders help wanneer hulle sukkel en om sommer hul huiswerk vir hulle te doen.

Sy sê dis die ouer se taak om hulle te help om vas te lê wat hulle in die klas geleer het en om seker te maak hulle het geen gaping in hul kennis nie.

“Wanneer ’n ouer agterkom hul kind antwoord aanmekaar ’n vraag verkeerd, moet hulle vasstel of dit ’n metodologiese probleem is waar die kind sukkel om die metode in te span om ’n spesifieke probleem op te los,” verduidelik Sharon.

“As dit die geval is en die kind maak aanhoudend dieselfde fout, moet jy die onder wyser kontak.”

 

 Deur: Kim Abrahams

Netwerk24