Die vader van die beeldhoukuns in Suid-Afrika word vereer!

Die FAK-Noord-van-die-Berg-Kultuurnetwerk, saam met onderwysers en leerders van Laerskool Anton van Wouw, het Vrydag, 30 Julie 2021 die graf gaan skoonmaak en ’n krans gelê vir die befaamde beeldhouer Anton van Wouw, ter herdenking van sy afsterwe 76 jaar gelede op 30 Julie 1945.

 Van Wouw se graf, in Rebeccastraat-begraafplaas in Pretoria-Wes, was in ’n haglike toestand en iets moes daaraan gedoen word. Laerskool Anton van Wouw het dadelik saamgestem om in te spring en ook só eer te bring aan hulle naamgenoot.

 In Mei 1958 het hierdie skool, toe nog bekend as die Nu-Muckleneuk Skool, aansoek gedoen om na die beeldhouer, Anton Van Wouw, vernoem te word, wat toe in September deur die Onderwysdepartement goedgekeur is. Teen 1959 was daar selfs vier nasate van Anton Van Wouw as leerlinge in die skool.

 Anthonie (Anton) van Wouw, gebore 27 Desember 1862, was ’n Nederlandsgebore beeldhouer en ook die pleegpa van die bekende skilder Jacobus Hendrik Pierneef.

Van Wouw het op 28 besluit om na die ontwikkelende stad van Pretoria te trek en wag tien jaar vir sy eerste opdrag. Dit kom toe van die finansier Sammy Marks om die Krugerstandbeeld ter ere van oudpresident Paul Kruger te ontwerp wat vandag nog op Kerkplein, Pretoria, staan.

In sy werk vang hy gereeld die rowwe en emosionele kern van sy onderwerp vas. Een van sy belangrikste werke is die figuur van ’n vrou wat deel uitmaak van die Vrouemonument in Bloemfontein. Hy het saam met Frans Soff gewerk in die skep van die figuur. Hy het ook die figuur van ’n vrou gemaak wat deel is van die Voortrekkermonument in Pretoria, ’n borsbeeld van generaal Christiaan de Wet, die standbeeld van Louis Botha in Durban en vele ander.