Pienk November Voetjies

Pienk November Voetjies

Pienk November Voetjies

Deur Chanté Stremmelaar & Kiki Butler (Graad 6)

 

Juffrou Neline du Plessis se lewensreis het ‘n nuwe hoofstuk bygekry, want in November 2021 gaan daar ‘n paar pienk voetjies op haar voorstoep wag!  Haar dogtertjie, Amari Emelia du Plessis, wat wonderwerk van God beteken, se verwagte datum van geboorte is 24 November 2021.  Sy het op 15 Maart 2021 uitgevind dat sy swanger is en op 23 Julie 2021 uitgevind dat haar baba pienk voetjies het!  Op die oomblik is Juffrou Neline sewe maande swanger met Amari.

 

Ons almal hoop en hou duimvas saam met Juffrou Neline dat Amari ‘n ware engeltjie gaan wees!  Ons glo Amari het ‘n borrelende persoonlikheid, goudblonde hare soos haar mamma en haar pappa se glinsterende bruin oë!  Juffrou Neline en haar man, Willem, is dankbaar vir hierdie voorreg en wonderwerk wat tot hul lewens toegevoeg is.  Volgens juffrou Neline gaan Amari definitief in Laerskool Anton van Wouw wees!

 

Juffrou Neline se verwagte pienkvoetjie gaan nie haar loopbaan beïnvloed nie, want sy gaan aanhou om haar droom as ‘n wiskunde-onderwyseres uit te leef.  Sy wil graag Amari se eerste verjaarsdag op die strand tussen sand en skulpies vier!

 

Baba du Plessis se raaisel se wenners sal aan die einde van kwartaal 4 aangewys word nadat Amari gebore is.

Ons is almal opgewonde om in hierdie nuwe lewenshoofstuk van Juffrou Neline, waarin Amari Emelia du Plessis se naam opgeskryf staan, te deel!

‘n Sportterrein sonder ouers

‘n Sportterrein sonder ouers

‘n Sportterrein sonder ouers

Deur Gisele Geldenhuys & Sandy Prinsloo (Graad 6)

 

Die Covid-pandemie het nou wel tot gevolg dat mense maskers moet dra en ‘n sosiale afstand moet handhaaf, maar sedert Maart vanjaar kon ons vir die eerste keer in amper twee jaar weer sport beoefen!  Die netbaldogters het die een na die ander doel aangeteken en die rugbyseuns het hope drieë gedruk.

 

Daar is vele wedstryde gespeel, maar as ‘n mens langs die sportvelde gekyk het, was en is daar steeds geen ouers nie.  Die Covid-pandemie het veroorsaak dat daar geen ouers op die sportvelde toegelaat word nie.  Alhoewel verskeie harte bitter seer is daaroor, het dit nie die Wouwtjies gekeer om aan te hou presteer nie!

 

Die meeste sportafrigters stem saam dat die ouers se afwesigheid langs die sportveld nie noodwendig ‘n slegte ding is nie, omdat dit selfstandigheid by die leerders kweek.  Daar is heel moontlik ook baie minder addisionele druk van die ouers af.

 

Mnr. Duan sê: “Persoonlik dink ek die leerders is meer vry om hulself uit te druk op die sportveld en daar is minder inmenging van die ouers af.’’

 

Meneer Jaco is van mening dat baie leerders beter presteer sonder die druk van hul ouers en dat hulle dan beter na hul afrigters luister.  Mnr. Carel sê ook: “Ek glo kinders speel nou vir mekaar, waar hulle voorheen meer individueel ingestel was.”

 

Daar is egter wel ook sekere negatiewe gevolge:

Meneer Reghardt sê: “Die kommunikasie tussen die ouers en die onderwysers is moeiliker en heelwat kinders benodig wel die ondersteuning van hul ouers langs die veld om op hul beste te kan presteer.  Boonop is die vervoer na en van die wedstryde  moeliker bekombaar.”  Mnr. Reghardt sê dat ‘n positiewe aspek is dat die verhoudings tussen die kinders en die onderwysers versterk het, omrede die leerders nou meer moet staatmaak op hul onderwysers.

 

Meneer Duan sê dat een van die groot leemtes is dat daar geen aanmoediging en toejuiging van die skare af is nie.  Dit dra dikwels soveel by tot die leerders se motivering.

 

Vanuit die ouers se oogpunt, is dit ‘n hartseer saak dat hulle nie hul kinders kan sien speel nie.  ’n Kind se laerskoolloopbaan is so kort en tyd wag vir niemand nie!  Ouers mis dus die geleentheid om hul kinders te sien presteer, deelneem en sportherinneringe te bou.

 

Ongeag of die ouers langs ‘n sportveld teenwoordig mag wees of nie, ons moet vasbyt!  Daar is tog altyd ‘n lig aan die einde van die tonnel!  Die leerders van Laerskool Anton van Wouw bewys daagliks dat die Covid-beperkinge hulle nie onderkry nie en dat die Wouwtjies aanhou presteer en aanhou om net hul heel beste te lewer!

Lente

Lente

Lente

Deur Stephan Jonker (Graad 7)

 

Goeiedag aan al my mede-Wouwtjies!  Die meeste van julle wonder seker ook met die lekker warm lente wat uiteindelik hier is, wat ‘n mens nou kan doen om af te koel?  Wel, ek het ‘n paar opsies ondersoek as antwoord op hierdie vraag:

 

Ek het verskeie mede-Wouwtjies gevra wat hulle doen om af te koel en te baljaar in hierdie heerlike hitte wat die lente vir ons gebring het.  Daniël, David en Ludwijk het gesê hulle hou baie daarvan om te swem, asook om ysies en ander koel lekkernye te eet.  Estain hardloop graag deur die sproeiers saam met sy hond of sy boetie.  Laastens het Mieke vertel dat sy nadat sy gehardloop of geoefen het, sy in die skaduwee sit, water drink of gaan swem.

 

Persoonlik dink ek dat dit ‘n uitstekende plan is om in die swembad af te koel!  Ek sal die Wouwtjies ook aanraai om ‘n groot glas water vol ysblokkies te drink om die hitte hok te slaan.  Dit is ook ‘n goeie idee om dalk net in ‘n bad vol koel water of onder ‘n sproeier af te koel!

 

Ek hoop hierdie blitswenke het vir jul prettige idees verskaf oor hoe om af te koel in hierdie hitte!

 

 

Klop-Klop aan by die Wouwtjieklop!!

Klop-Klop aan by die Wouwtjieklop!!

Klop-Klop aan by die Wouwtjieklop!!

Deur Kay-Lee McDonald (Graad 7)

 

Die alombekende Covid-pandemie het nie die vermoë om die Wouwtjies op enige gebied te affekteer nie!  Ons draai nooit briek aan as dit kom by Kultuur nie!

 

Die Wouwtjieklop is Laerskool Anton van Wouw se eie Kunstefees wat ons jaarliks hou en aan deelneem.

 

Tydens die Wouwtjieklop, neem die Wouwtjies deel aan items soos Dans, Drama, Tafeldek, Musiek, Blommerangskik en nog vele meer!  Ons kry dan ‘n gasbeoordelaar om saam met ons wonderlike onderwysers hier by die Wouwtjies te kom beoordeel.  Deelnemers ontvang ‘n pragtige sertifikaat na afloop van hulle item.

 

Ons weet ons is baie bevoorreg om steeds te kan deelneem aan sulke lekker aktiwiteite in hierdie vreemde tye waarin ons leef.  Tydens elke item word Covid-19 maatreëls streng toegepas.  Ek het self aan die Wouwtjieklop deelgeneem en ek moet sê, om weer op die verhoog te kon staan en voor beoordelaars te kon optree, was ongelooflik lekker!

Die briljante 0.13A-span

Die briljante 0.13A-span

Die briljante 0.13A-span

Deur Zoë Louw (Graad 7)

 

Met die aanvang van die derde kwartaal, is dit ook altyd die begin van Laerskool Anton van Wouw se immergewilde hokkie-seisoen!  Ons het waarlik briljante spanne!

 

 Ons 0.13 A dogterspan is uniek in hulle eie reg.  Voor die wedstryd is dit grappe, dansies, toertjies, kompetisies en nog vele meer!  Wanneer die klok slaan vir die wedstryd, is dit egter in alle erns!  Dan weet almal wat om te doen!  Wen!  Spanwerk en -gees is een van hul beste eienskappe.  Die 0.13 A’s help mekaar altyd en is daar vir die span.  As een persoon ‘n besering opdoen, is almal daar om haar te ondersteun.

 

Hierdie span gaan ook nie maklik verloor nie, want hulle beskik oor die strategie dat daar altyd ‘n plan B is!  Dus moet hul opponente maar gereed wees, want dit was net die stilte voor die storm!  Die bal gaan nie vinnig verby hulle stokke nie, want hulle keer elke bal uitstekend!

 

Tydens elke hokkie-oefening is daar harde werk om te verrig!  Hulle afrigter, mnr. Marinus, beskou fiksheid in ‘n ernstige lig en soms tap die sweet die arme meisies af!  Tydens sommige van die oefeninge ontvang die 0.13 A dogterspan selfs gaste ,soos mnr. Regardt, mnr Armand en selfs mnr. Jaco!  Hulle maak die oefeninge altyd net nóg lekkerder!

 

Dit is dalk hierdie dogters se laaste jaar om vir Laerskool Anton van Wouw hokkie te kan speel, maar hulle maak dit beslis die beste jaar van hulle laerskoolloopbaan!  Daar is nie eers een vervelige oomblik op die veld of by die oefeninge nie.  Hierdie dogters is soos familie vir mekaar en met die laaste paar oefeninge maak hulle die beste van elke oomblik!

Wouwtjies leer Sepedi

Wouwtjies leer Sepedi

Wouwtjies leer Sepedi

Deur Kay-Lee McDonald (Graad 7)

 

Hier by Laerskool Anton van Wouw praat ons nie net Afrikaans en Engels nie!  Sedert Graad 1, leer ons ook ‘n derde taal aan, naamlik Sepedi.

 

Om met mense in hul eie taal te kan kommunikeer, is ‘n wonderlike manier om te wys dat jy ander respekteer en hulle belange op die hart dra!  Sepedi is een van Suid-Afrika se elf amptelike tale en word deur 9.1% van alle Suid-Afrikaners gepraat.

 

Hierdie klasse in Sepedi word deur ons eie, passievolle juffrou Lize Wilken aangebied en sy kwyt haar werklik uistekend van haar taak!  Die leerders geniet dit besonder baie.

 

Aanvanklik word daar met die aanleer van basiese woorde begin, soos byvoorbeeld: kat-katse, olifant-tllou, tamatie-tamati, huis-ntlo.  Daarna begin die leerders sinne en frases praat deur dit van die klas se dataprojektor af te lees.  Daar word elke dag kliphard geoefen, want die uitspraak en tempo is baie belangrik tydens die praat van Sepedi.

 

Ons is so trots op al die Wouwtjies wat wys dat Sepedi sommer groot pret is!

 

Totsiens, gaan wel, “Sepela gabotse!”