By Wouwtjies glo ons in goeie beplanning!

  • Beplan jou tyd

Wanneer die werk baie is en jy skryf amper elke dag ‘n vak, kan dit moeilik raak om tyd te kry vir al jou leerwerk. Teen eksamentyd moet jou opsommings reeds klaar gedoen wees. Eksamentyd is daar vir hersien en herhaal. Wanneer jy jou eksamenrooster en afbakening kry, moet jy gaan sit en vir jou ‘n studierooster uitwerk. As jy nie seker is hoe om ‘n studierooster uit te werk nie, woon ‘n studiemetodes-werkswinkel by, waar jy al die tegnieke leer hoe om reg te leer.

  • Sorteer jou leerspasie uit

Dit is belangrik dat jy op ‘n stil plek leer en dat daar genoeg spasie is vir jou om al jou boeke en opsommings by jou te hê. Sorg dat jou witbord langs jou staan sodat jy die werk kan hersien en herhaal. Kinetiese leerders moet onthou om beweging toe te pas terwyl hulle leer. Maak seker daar is niks in jou leerspasie wat jou aandag kan aftrek nie.

  • Skryf terwyl jy leer

Sorg dat jy kleurpenne en glimpenne gebruik wanneer jy leer vir die eksamen. Soos wat jy die werk hardop leer, moet jy dit ook neerskryf. Gebruik jou opsommings en skryf jou werk oor en oor sodat jy dit makliker kan onthou.

  • Oefen ou vraestelle

Wanneer jy jou tydsbeplanning doen, sorg dat jy tyd inruim om ou vraestelle uit te werk. Deur ou vraestelle uit te werk, leer jy hoe die onderwysers die vrae vra en oefen jy om dit wat jy gememoriseer het, op papier neer te sit.

  • Verduidelik dit wat jy geleer het, aan iemand anders

Dis moeilik om iets te verduidelik as jy dit nie ken en verstaan nie. Werk deur jou werk en wanneer jy voel dat jy dit goed genoeg ken, verduidelik dit aan iemand anders. Jy kan dit selfs vir jou teddiebere verduidelik. Die punt is om te kyk of jy die werk verstaan en dit wat jy geleer het, kan weergee.

  • Vat genoeg ruskanse

Moenie te lank aanmekaar leer nie. Leer maksimum 45 minute en rus vir 15 minute. As jy te lank aanmekaar leer, gaan jou brein nie alles kan onthou nie. Wanneer jy ‘n ruskans vat, probeer iets aktiefs doen sodat jou brein genoeg suurstof kan kry.

  • Eet gesond

Jou brein het gesonde kos nodig om te funksioneer en die werk behoorlik te memoriseer. Hou die gemorskos en lekkers vir die vakansie en eet liewer gesond tydens eksamentyd. As jy kos eet wat jou bloedsuiker opjaag, gaan jy moeg en tam voel.

  • Drink water

Gedurende eksamentyd kan mens gou moeg voel en gryp na kafeïen of energie-drankies. Sulke drankies kan jou dalk vir ‘n oomblik wakker laat voel, maar die moegheid gaan gou weer terugkom. Probeer liewer meer water drink.

  • Wees vóórbereid op dag van die eksamen!

Niks is erger as om in die eksamenlokaal te sit en agter te kom dat jou pen nie werk nie, of dat jy jou sakrekenaar vergeet het nie. Die aand voor die eksamen moet jy seker wees jou pen werk en dat jy ander penne het om op terug te val. Afhangende van die vak wat jy skryf, maak seker jy het alles wat jy nodig het om te skryf. Moenie die oggend voor die tyd rondhardloop op soek na iets wat jy nodig het nie. Dit gaan net onnodige spanning op jou plaas.