
Wouwtjies lê klem op die bou van goeie menseverhoudinge.
Werk is ‘n rubberbal, maar die ander areas van jou lewe is uiters breekbaar en as jy dit eenkeer laat val en laat breek het, kan dit nie sommer net weer aanmekaar geplak word nie.
Ons almal het ʼn behoefte aan die nabyheid van ʼn gesin of ʼn familie. Ons wonder soms hoe ons met hierdie familie van ons moet omgaan en hoe ons hierdie uiters breekbare glasbal beskerm.
Daar word van die mense aan wie ons deur bloed en huwelik verwant is, verwag om ons naaste bondgenote te wees, ons grootste bronne van liefde en ondersteuning. Maar te dikwels is ons interaksies met familie gevul met misverstand en gegriefdheid, gekibbel en getwis. Diegene wat ons die beste behoort te ken en bekend te wees, voel uiteindelik soos teëstanders of vreemdelinge.
Familie is waar ons eerste en sterkste emosionele herinneringe gemaak word, en dit is waar hulle aanhou verskyn. En dit is hoekom emosionele intelligensie (EQ) slaag waar ander pogings tot gesinsharmonie misluk. Aktiewe bewustheid en empatie – die vermoë om bewus te wees, te aanvaar en permanent op onsself en ander ingestel te wees – vertel ons hoe om op mekaar se behoeftes te reageer.
Die vraag is, wat is ‘n gesin? Is ‘n gesin noodwendig ‘n biologiese band?
‘n Familiestelsel bestaan gewoonlik uit interafhanklike individue. Die meeste van ons eerste verhoudings het in hierdie tipe stelsel ontstaan, dus is dit ook die stelsel waarin alles wat jy van verhoudings weet, gesetel is: die goeie en die slegte, ook waar ons emosionele herinneringe gevorm word.
Hierdie eerste verhouding bepaal ook hoe jou ander verhoudings sal lyk. As jy slegte ondervindings in hierdie aanvanklike verhouding gehad het, sal dit ook moeilik wees om aktiewe bewussyn en empatie aan ander te bewys. Dit beteken ongelukkig nie dat jy jou familie kan blameer vir wie jy vandag is nie.
Dit is ook belangrik om te weet dat ‘n naby verhouding nie noodwendig beteken dat jy en jou familielede presies dieselfde moet wees nie. ‘n Goeie familie-verhouding kan baie positiewe waarde vir jou inhou en ‘n warm liefdevolle familie kan jou lewe vólmaak.
‘n Volgende punt wat belangrik is: al ken ons mekaar ‘n leeftyd lank, beteken dit verseker nie dat ons mekaar verstaan nie. Ons verander konstant en jy is nie dieselfde as wat jy op 13 was nie. Die enigste oorlewing vir ons familie-verhoudinge, is om verandering aan te trek en te aanvaar. Twee aspekte wat enige familie verhouding bedreig, is ‘n gebrek aan tyd, en ‘n oormaat van emosionele herinneringe, wat hierdie verhouding negatief kan beïnvloed.
In ons huidige samelewing is daar min “tradisionele” families en die konsep van “gesin” het ook verander. Dit is daarom aanvaarbaar om te sê dat as jy nie ‘n biologiese gesin het nie, sou jy jou eie gesin kon bou – mense wat vir jou lief is en vir wie jy lief kan wees. Jou selfbewussyn bepaal ook hoe jy in ‘n familie-situasie sal reageer. As jy jouself ken, as jy weet hoe jy voel en hoekom jy op ‘n sekere wyse reageer, sal dit baie moeiliker wees om deur ander emosioneel gemanipuleer te word. Die teenkant is dan natuurlik ook: as jy bewus is van jou eie emosies en reaksies, is dit baie moeiliker om familie-konflik op ander mense te blameer.
Die kern van gesins- of familie-verhoudings is kwaliteit tyd. Dit is nie iets wat uitgestel moet word tot op ‘n unieke tyd nie, dit kan daaglikse interaksies wees, etes, die roete skool toe en terug. Dit is soms sinvol om tyd te “skeduleer” vir jou gesin, net soos wat ons afsprake skeduleer en hou, is afgespitste tyd met die gesin noodsaaklik.
Die sleutel is egter om die selfone / iPad / TV en ander afleidings, in hierdie tyd opsy te sit, sodat daar sinvolle luister en kommunikasie kan plaasvind. Wanneer laas het jy sommer net PRET saam met jou gesin gehad?
Dit is baie belangrik dat die tyd saam vir almal lekker moet wees. Soos enige prestasie in sport, neem dit baie oefening. Geen baba is ooit gebore met ʼn handleiding vir ouerskap nie en almal leer deur foute te maak. Nie twee gesinne of families is dieselfde nie en die grootste fout wat ʼn mens ooit kan maak, is om jou man/vrou/kinders/ouers met ander te probeer vergelyk. Elkeen is uniek.
Dit is ook belangrik dat jou gesin of familie weet dat jy hulle waardeer. Dit is ook soms nodig om nie net te dink dat jou gesin weet hoe belangrik hulle vir jou is nie, maar dat jy dit ook vir hulle sê en wys.
Die wedersydse ondersteuning van gesinslede is van onskatbare waarde – dit beteken dat ons saam dinge doen, belangstel in mekaar se idees en dat ons dit met mekaar kan deel. Dit is dan ook nodig om “bewyse” van jou familie / gesin bymekaar te maak: foto’s, momento’s, stories, gemeenskaplike interne grappies wat vir julle betekenis het en wat spesiaal aan julle gesin / familie is. Soms is dit ook goed om uit ons gemaksone te beweeg en iets nuuts of anders te probeer.
Moenie wegskram van die “moeilike gesprekke” nie. As jou gesin nie met jou oor die moeilike goed kan praat nie, sal hulle iemand kry wat na hulle sal luister. ʼn Goue reël is: luister, vergewe en vergeet. Niks kan hierdie glasbal so maklik laat breek, soos die ophaal van gebeure uit die verlede nie. Dit neem julle verhouding ook nie vorentoe nie.
Emosionele intimiteit verseker dat jy jou gesin waardeer. Dit beteken dat jy met jouself moet begin deur eerlik en oop te wees, maar wat dan van die SKOONMA? Dit kan ook die skoonpa of suster of broer wees – aangetroude familie. Die vraag is hoe belangrik is hierdie verhouding vir jou?
Dit sal bepaal hoeveel tyd en energie jy aan hierdie verhouding sal spandeer. Die belangrikste sleutel is: jy hoef nie van almal ewe veel te hou nie, maar dit beteken nie dat jy ongeskik moet wees nie. Om altyd getrou te wees aan jouself, is kardinaal. Jou vermoë om met emosionele intelligensie verhoudinge te bestuur, kan ook in hierdie area van jou lewe positief gebruik word.
Geskryf deur: Maryna Besseling