Wouwtjies heg waarde aan familie…
Elkeen van ons het ’n ander manier van doen, dink en optree. Daarom gebeur dit dikwels dat mense wat selfs dieselfde doelwitte en ideale nastreef, dit sal bereik, maar op totaal uiteenlopende maniere.
Ekself het nog nooit daarvan gehou om ’n “one-size-fits-all” benadering toe te pas nie. Om te skuur en te skaaf aan die dinge in die lewe wat ons graag wil bereik het ’n manier om tog ’n groter waardering daarvoor te kweek.
As ouers leer ons ook dat presies dieselfde van toepassing is met die verhouding tussen ons en ons kinders. Daarom fokus ek ook in gesprekke op die belangrikheid van verhoudings en die waarde van die verbintenis, in plaas daarvan om die “sewe stappe” tot ’n suksesvolle wat ookal te probeer verkoop as die een en enigste moontlikheid wat daar is.
Tog is daar sekere dinge in die lewe wat ook nie te veel gedebatteer moet word nie. Ons debatteer nie oor die belangrikheid van verhoudings nie, so ook nie oor die belangrikheid van gesonde verhoudings en veilige strukture vir ons huisgesinne nie.
Dit is ’n noodsaaklikheid om in gesonde verhoudings van groei en vertroue te staan, om tyd saam met mekaar te spandeer, om mekaar te vind en om gesonde verhoudings en veilige strukture vir ons huisgesinne te bied. Dit is alles deel van ’n belegging wat ons maak in die lewe van ons kinders.
Hou daarvan, of nie, maar ons kinders word die verlengstuk van dit wat ons ten toon stel. Die woorde en optrede oor die dinge wat ons nooit vir hulle leer nie, en wat ons nooit vir hulle sê nie, en die kere wat ons hulle nie genoegsaam erkenning gee nie, of die kere wat ons hulle níe aanspreek oor dit wat níe reg is nie, dit alles het ’n impak op die vorming van ons kinders se lewens.
Ons kan meesters wees op die gebied van lysies, voorskrifte en bepalings. Ons kan artikels oplees en gesprekke aanbied en elke denkbare persoon moontlik kry om te praat en te skryf oor die dinge wat nie moet gebeur nie, en uiteindelik sal dit ook net by dit bly, niks meer as net woorde en gedagtes nie.
Wat nodig is, is oomblikke. Oomblikke van mekaar hoor, mekaar sien en erkenning gee. Oomblikke van saam stil word om ’n etenstafel, uitvra na mekaar se omstandighede en oomblikke van net luister. Of dit op die rand van die bed of ’n gesprek in die kar is, as ouer het jy nodig om jou kind te vind, aan te spoor en te omvou met woorde wat hom of haar verseker, hier is jou veilige ruimte. Kinders wat weet hulle ruimtes is veilig, leef hulle self ook uit in daardie ruimtes. Dit is juis hierdie veilige ruimtes wat gesprekke moontlik maak en wat moontlik maak dat daar ook gepraat kan word oor die dinge wat mag, en nie mag gebeur nie.
Ken jou kind se hart en leer jou kind ook jóú hart te ken. Kinders moet weet dat die raas net so belangrik is soos die ondersteuning langs die sportveld en die aanmoediging vir ’n toets. Want my raas en my passievolle ondersteuning aan jou, kom uit die plek wat ek noem: LIEFDE.
Verhoudings kom nie goedkoop nie. Dit vra tyd en ’n belegging van jou menswees daarin. Wat ek graag met jou wil deel, is gedagtes vir ouers en kinders, om myself en jou te help om ruimtes te skep waar ons (met ons eie stukkie kindwees nog in ons), heel kan word en saam kan leer wat die belangrikste waardes vir ons behoort te wees.
Geskryf deur Ds. Jaco Vogel.