Kinders so jonk as 5 in porno se greep!

Op Sondag, 21 Augustus, berig Rapport dat nege uit tien leerders reeds op laerskoolvlak aan pornografie blootgestel word.

Bogenoemde berig het ons almal stof tot nadenke gegee, syfers waarmee ons as opvoeders saamstem. Ons wil ‘n verdere stellling maak, die een uit tien leerders wat nie blootstelling gehad het aan pornografiese of ongewenste materiaal nie, was heel waarskynlik leerders wat nie selfone gehad het nie.

Dit is steeds die skool se standpunt dat selfone op laerskoolvlak nie nodig is nie, ons sal altyd met u in verbinding tree as u kind siek is en ons gee ook nie om om boodskappe oor te dra nie.

 Daar is weekliks insidente wat plaasvind, waar die gebruik of misbruik van selfone aan die orde van die dag is.

 Daar is ander opsies beskikbaar as selfone. Deesdae kry ‘n mens baie goedkoper “belhorlosies”, wat letterlik net ‘n paar nommers kan skakel.

 Die skool is baie besorg oor die inhoud waartoe leerders op hul selfone toegang het. Ten einde die skool by te staan, kan die ouers die volgende stappe volg om hierdie inhoud the beheer.

 

Hoe om ouerbeheer by verskeie diensverskaffers te handhaaf:

 Vodacom

Alle kontrak- en voorafbetaalde kliënte kan toegang tot volwasse inhoud op ‘n Vodacomselfoon blokkeer deur *111*123# vanaf die betrokke selfoon te skakel. Om die volwasse-inhoud weer beskikbaar te stel, moet besoek aan jou naaste diensverskaffer afgelê word, waar jou ID getoon moet word as bewys dat jy ten minste 18 jaar oud is. Die omkering van die blokkering van volwasse-inhoud kan nie telefonies deur Kliëntediens gedoen word nie.

 

MTN:

  1. Skakel *101# vanaf die selfoon waarop jy inhoud wil beperk.
  2. Selekteer die inhoudkategorie wat geblokkeer moet word.
  3. Skep ‘n PIN. (Hierdie nommer sal jou in staat stel om die filterstellings te verander of om dit op ‘n latere stadium te verwyder.)
  4. Sleutel jou eie selfoonnommer in om boodskappe oor filterstellings te ontvang.
  5. Sleutel jou gekose PIN in.
  6. Om besonderhede te verander, skakel *101#.

Indien daar enige veranderings aan die stellings gemaak word, sal jy en die selfooon met beperkte toegang, ‘n SMS ontvang.

 

Cell C en Telkom Mobile:

Telkom Mobile en Cell C het egter nie ‘n tegniese oplossing om ouers te help om hul kinders teen toegang tot volwasse- of ander onwenslike inhoud te beskerm nie.

 

Volgens kenners, is die gepaste ouderdom om ‘n selfoon te kry, op 13 jaar. Indien u wél besluit om ‘n selfoon aan te skaf vir u kind, is die volgende uiters noodsaaklik:

 

  1. Gesels met u kind oor die verantwoordelike gebruik van ‘n selfoon – alle aspekte, bv. selfoon-etiket; huisreëls, die “digitale kontrak” wat u as gesin het, ens.
  2. Gesels met u kind oor die gevare van selfone. Daar is báíe leesstof hieroor.
  3. Geslagtelike voorligting móét in plek wees.
  4. Kinders ontvang dwarsdeur die nag boodskappe op hulle selfone. Geen kind moet met ‘n selfoon gaan slaap nie. Die selfone moet teen slapenstyd (20:00) by die ouers ingehandig word.
  5. Daar moet kontrole wees, ouers is geregtig om hul kinders se selfone gereeld te monitor. Weet wat is u kind se PIN-nommer en gaan gereeld deur u kind se foon. Al ontvang kinders nie ongewenste materiaal nie, is sosiale platforms baie keer ‘n geleentheid om ander kinders te boelie.
  6. Ouers behoort te verseker dat hulle weet wie hul kinders se vriende is en moet ook die kontakbesonderhede van die vriende se ouers hê.
  7. Sagtewareverskaffers bied ook filtrering en monitering van slimfone – wat tans baie gereeld deur tieners gebruik word om toegang tot die internet te verkry.
  8. Ouers moet kennis neem dat indien kinders naakfoto’s of foto’s van ‘n seksueel eksplisiete aard aanstuur, dit as ‘n kriminele oortreding beskou kan word (verspreiding van pornografie) en dat ouers ook aanspreeklik is.
  9. Internet:
    1. Tuisrekenaars moet in ‘n oop, sigbare deel in die huis wees, nie in die kind se slaapkamer nie;
    2. Gebruik sagteware om internetinligting te filtreer;
    3. Kinders moet nie onbeperkte toegang tot internet hê nie.

 

Ouers moet betrokke raak en oop kommunikasiekanale met hul kinders hê oor die gevare van sosiale media.

 

Ons almal is verslaaf aan die skerm, maar ons moet die kinders leer om ‘n balans te handhaaf tussen die skerm waarna hulle kyk en ander aktiwiteite, soos om kreatief te wees, te sosialiseer, buite te speel en hul eie verbeelding te gebruik.

 

Die probleem vandag is dat ons nie wil hê kinders moet verveeld wees nie, maar verveeld is eintlik die beste ding wat ‘n kind kan wees. Want dit dwing hulle om kreatief en verbeeldingryk te wees.