Ontmoet die duifies van Laerskool Anton van Wouw
Deur Veha Fourie (Graad 6)
Die emosie liefde is wat mense gebind hou aan mekaar, liefde is om opgewonde te wees oor alle aspekte van ‘n ander mens, liefde is verdraagsaam en eerlik. Liefde gepersonifiseer by Laerskool Anton van Wouw is Menneer Thomas Basson en Juffrou Sarika Eybers.
Ek het die voorreg gehad om met hierdie twee pragmense te gesels oor wie hul is en ‘n blik gekry hoe hul liefde vir mekaar lyk.
Juffrou Sarika is gebore in Louis Trichardt en is daar geskool en het 5 jaar gelede na Pretoria getrek om by Tukkies te studeer. Mnr Thomas is ‘n Pretorianer en het die liefde van sy lewe ontmoet in die Afrikaanse klas by TUKS.
Die jong paartjie se liefde vir mekaar het ontkiem oor hul wedersydse liefde vir kinders en hul passie vir onderwys. Hulle is beide jong, dinamiese Afrikaanse mense wat werklik met kinders wil werk elke dag. Hulle lag saggies op my vraag oor stokperdjies en belangstellings. Meneer Thomas spot dat boeke merk sy “gunsteling” tydverdryf is, hulle hou ook darem van films.
Dit is vir Juffrou Sarika baie belangrik dat altwee halftes van ‘n verhouding respek toon vir mekaar. Ek sien dit as ‘n baie goeie beginsel van ‘n wonderlike huwelik vir die twee. Dit is vir my so mooi om te hoor hoe sag en rustig hul met mekaar praat. Meneer Thomas se mooiste eienskap van juffrou Sarika is haar sagtheid en rustigheid en sy mooiste eienskap is sy sagte omgee hart.
Dit is gepas om te hoor dat die kleur skema van hul troue wit en olyf groen is. Vanaf die begin van die skepping was die olyf boom en sy vrug ‘n belangrike simbool van stabiliteit en vrede. Dit was die eerste boom wat ontkiem het na die vloed, en het vir Noag hoop gegee vir die toekoms. Juffrou Sarika beaam die simbolise betekenis van die olyf tak as die begin van ‘n nuwe lewe vol hoop en liefde saam.
Ek wens Juffrou Sarika en Menneer Thomas alle voorspoed en ryklike seën toe in hul liefdes pad saam. Viva die Bassons!