Nét ‘n afstand van 9895 km!
Deur Kiki Butler & Chanté Stremmelaar (Graad 6)
Wie is welwillend, humoristies, verwelkomend en baie intelligent? Natuurlik is dit niemand anders as Juffrou Irma Comrie nie – ‘n liefdevolle onderwyseres hier by Laerskool Anton van Wouw! Toevallig, is hierdie ook die kenmerke van Dublin, die hoofstad van Ierland!
Waar pas hierdie in, wil julle sekerlik weet? Ongelukkig is daar slegte nuus wat volg…
Dit is met swaar harte wat ons ongelukkig na 14 jaar vir juffrou Irma Comrie moet groet. Juffrou Irma se man het ‘n werksaanbieding vanuit Dublin ontvang; daarom kom haar loopbaan as ‘n Wouwtjie- onderwyseres tot ‘n einde. As alles volgens plan verloop, gaan slegs juffrou Irma en haar man teen die einde van Januarie 2022 na Dublin, Ierland, immigreer. Juffrou Irma noem dat haar reis na Ierland glad nie deel van haar en haar man se toekomsplanne was nie en dat hulle eintlik in die bos wou aftree.
Juffrou Irma het besluit dat sy vir eers nie in Dublin gaan skoolgee nie, maar eers die omstandighede sal verken en daarvolgens besluit wat sy verder in haar loopbaan sal doen.
Haar twee dogters sal in die Comrie-huis in die Jakarandastad aanbly. Die huis sal altyd ‘n toevlug wees vir haar twee dogters, want daar het hulle familie-herinneringe gemaak.
Ter afsluiting wil juffrou Irma hê dat elke Wouwtjie die volgende woorde moet hoor: “Die ding wat ek die meeste van Laerskool Anton van Wouw gaan mis, is die eerste kind wat my elke oggend groet en my laat glimlag! Julle kinders is ‘n wonderlike rede waarom ek elke dag met ‘n lied in my hart skool toe gekom het…”