Help so jou kind om beter te lees.

Dit kan baie oorweldigend vir ‘n ouer wees om te hoor: Hoe weet jy of jou kind op koers is, en hoe kan jy haar tuis help sodat sy ‘n beter leser kan word? Hier is raad.

Hoe weet ek my kind is op koers?

Melanie raai ouers aan om te sorg dat hul kinders die volgende geletterdheidsvlakke onder die knie het aan die einde van hul eerste skooljaar en teen die tyd dat hulle gr. 4 bereik:

Graad R

Aan die einde van die jaar moet jou kind die basiese kleure ken, die alfabet kan opsê, die name en klanke van letters ken, hul eie naam in skrif herken, weet hoe om ’n boek reg vas te hou, weet dat ‘n mens van links na regs lees en ‘n belangstelling in boeke toon.

Laat hulle hul naam op papier, ’n bord, in die sand of met magnetiese lettersskryf.

Lees vir en saam met jou kind. Volg aan die begin die woorde met jou vinger sodat hulle verstaan hoe ’n mens lees en dat wat jy sê verband hou met die lettersop die blad.

Moedig hulle aan om oor prentjies in boeke te praat en vra hulle om te voorspel wat volgende in die storie gaan gebeur.

Graad vier

Aan die einde van die jaar moet kinders selfversekerde, gevorderde leserswees.

Hulle moet stamwoorde (oftewel woorde wat die basis vir ander woorde vorm, soos “slaap’’ in “verslaap”), konteksleidrade (soek leidrade in omliggende teks en foto’s in die storie) en woordeindes (algemene agtervoegsels soos “-ing” in “bedoeling’’ en “-lik” in “wenslik’) kan gebruik om nuwe woorde uit te pluis.

Hulle moet ‘n uur lank op hul eie kan lees en skryf. Hulle moet ook al self ‘n woordeboek, ‘n ensiklopedie, die biblioteek en die internet kan raadpleeg.

Hulle moet die teks verstaan en ook diehoofpunte kan uitlig om dit vir ’n opstel of mondeling te gebruik.

Hoe kan ouers ingryp?

Nog voor kinders met gr. R begin, moet ’n mens elke dag vir hulle voorlees.  Van gr. 2 af moet hulle elke dag onafhanklik lees, maar iemand anders moet steeds vir hulle voorlees om hulle aan ‘n meer gevorderde woordeskat en konsepte bloot te stel, sê die opvoedkundige sielkundige Melanie Hartgill.

“Leesmetodes is wisselvallig of onvoldoende en die grondslagvaardighede word nie in die eerste skooljare behoorlik vasgelê nie,” verduidelik sy.

“Daar is baie papegaaileerwerk, waar van die hele klas verwag word om dieselfde goed saam agter die onderwyser aan te herhaal, maar hulle kan nie onafhanklik lees nie.”

Erine Botha, ‘n leesterapeut by ‘n Kaapstadse tak van die Tina Cowley-leessentrum, glo hierdie probleem vat al lank voor die gr. 4-jaar pos.

“Daar word te veel op assessering gekonsentreer pleks van op die ontwikkeling van vaardighede en behoorlike onderrig, veral in gr. 1,” sê sy.

Wenke vir besige ouers.

  • Laat ouer broers of susters of ‘n grootouer vir jou kind lees.
  • Speel oudioboeke in die motor of tuis.
  • Lees elke aand ‘n boek saam met hulle.
  • Word lid van plaaslike biblioteek en laat hulle gereeld daar boeke uitneem.
  • Laat hulle by leesgroepe of -kringe in biblioteke aansluit.
  • Skryf jou kind vir ’n professionele leesprogram in soos wat landwyd by die Tina Cowley-sentrum aangebied word, sê die leesterapeut Erine Botha. Leesprogramme is ook in Afrikaans beskikbaar.

Lees so saam met jou kind

Voor julle begin lees:

  • Kies ‘n boek wat jy en jou kind albei sal geniet.
  • Kies stories met interessante karakters en goeie dialoog.
  • Skep ‘n ontspanne atmosfeer.

As jy hardop lees:

  • Lees stadig en duidelik, maar natuurlik.
  • Skep atmosfeer deur die volume en toonhoogte van jou stem te verander.
  • Gebruik humor en lag by die snaakse dele.
  • Moedig vrae en besprekings aan.
  • Deel persoonlike gedagtes oor die foto’s en storie.
  • Bied ekstra inligting en verduidelik sleutelkonsepte en nuwe woorde sonder om die storie te bederf.

Nadat jy voorgelees het:

  • Vra die kind ‘n paar vrae oor die storie. Doen dit gemoedelik.
  • Moedig die kind aan om vrae te vra.
  • Laat die kind die storie vir jou opsom.
  • Laat die storie aansluit by iets wat jou kind ervaar het.
  • Deel persoonlike voor- en afkeure en emosionele reaksies op die storie.

Dit is taboe:

  • Moenie lees ‘n taak maak waaraan elke dag ‘n vaste tyd afgestaan moet word nie.
  • Moenie jou kinders volgens hul leesvermoë oordeel en dit dan deur jou houding en gedrag aan hulle oordra nie.
  • Moenie druk op jou kind uitoefen om op ‘n meer gevorderde vlak te lees as waarmee hulle gemaklik is nie.
  • Moet nooit jou kind omkoop om te lees nie.

Wat van sig en leerprobleme?

Kinders se oë moet getoets word voor hulle met gr. R begin en weer in gr. 1 en 2, is Melanie se raad. As dit nie by die skool gedoen word nie, moet ouers self hul kind se oë laat toets.

“Visuele probleme met lees gaan oor meer as bloot of die kind kan sien – hulle moet ’n reël ook behoorlik met hul oë kan volg en skandeer.”

Vroeë tekens van disleksie kan al in gr. R bespeur word, sê Melanie, maar ’n formele diagnose kan van gr. 2 af gemaak word as die kind nie op enige ingrypings goed gereageer het nie.

 

Netwerk 24