Meneer Henning in die kollig!

Deur Chanté Stremmelaar (Graad 6)

 

Die Wouwtjies wonder seker soms wat Meneer Henning se gunsteling kleur of sy gunsteling fliek is.  Ek het ‘n bietjie ondersoek gaan instel en vir Meneer Henning ‘n paar persoonlike vrae gevra, sodat ons meer van hom te wete kan kom:

Hoe streng is Meneer teenoor die onderwysers op ‘n skaal van 1 -10?

Wat die standaard van ons skool betref, is ek ‘n 10 op daardie skaal!  Ek is streng met die onderwysers daaroor dat die korrekte standaard gehandhaaf moet word, maar in terme van hul menslikheidsfaktor, plaas ek myself by ‘n 5 op die skaal.  Dus is ek hard op standaarde, maar sag op mense.

Wie of wat het Meneer geïnspireer om ‘n skoolhoof te word?

Ek het op skool ‘n onderwyser gehad wat vir my Geskiedenis gegee het.  Hy het die lesse so passievol aangebied, dat hy vir my ‘n inspirasie was!  Boonop wou ek nog altyd met kinders werk.

Het Meneer enige troeteldiere?

My hond is ‘n groot Bullmastiff wat omtrent 60kg weeg!

In watter Laerskool was Meneer?

Ek was in Laerskool Jozua Naudé in Roodepoort.

Wie is Meneer se gunsteling Wouwtjie- onderwyser?

Ek het soveel respek vir die onderwysers, want hulle almal werk ongelooflik hard!  Ons Wouwtjie-personeel verrig sowaar hul werk met passie!  Daar is dus nie net een onderwyser wat ek wil of kan uitsonder nie.

Watter beroep wou Meneer beoefen het toe u nog op skool was?

Ek het daaraan gedink om onderwys te studeer, maar het ook belang stel in die regte.  Ek wou ‘n prokureur geword het.

Het Meneer enige stokperdjies?

Ek geniet fotografie en om tyd saam met my familie deur te bring.

Na watter tipe flieks kyk Meneer graag?

Ek hou van flieks vol aksie en ook van dié gebaseer op ware verhale.

Wat was Meneer se gunsteling vak op skool?

Ek het Geskiedenis die meeste geniet!

Deel met ons Meneer se grootste prestasie wat u al ooit bereik het.

Dit is toe ek aangewys is as ‘n skoolhoof.

Wat is Meneer se gunsteling kleur?

Ek is besonder lief vir blou.

Watter stukkie wysheid sal Meneer graag met al die Wouwtjies wil deel?

Jy moet nooit bang wees om te leer uit jou foute uit nie, solank jy net leer daaruit!  Wees altyd bereid om dit te erken as jy ‘n fout gemaak het en probeer volgende keer nóg harder.  Gee altyd net jou heel beste.